Daniel 5

Inleiding

Ons het alreeds die uitleg van twee visioene of drome in Daniël gesien. Die eerste droom van die groot beeld wat deur die Rots verwoes is het aan Nebukadnesar verklaar dat, alhoewel hy die kop van goud is, sy ryk uiteindelik verwoes sal word. Hierdie uitleg moes tog sekerlik aan elke opvolger van Nebukadnesar bekend gemaak word, want dit raak die toekoms van die hele Babiloniese ryk. Tog sien ons hier, soos so dikwels vandag, dat alhoewel mense gewaarsku word oor die toekoms en die komende oordeel, hulle doodluiters voortgaan asof hulle vir ewig gaan leef. Daar is een feit wat vir elke mens vas staan en dit is dat hy/sy eendag gaan sterwe. Die hoe, waar en wanneer is nie bekend nie, maar die feit bly staan. Die mag en wonder van God is deur God se algemene openbaring aan elke mense bekend en tog lewe die meeste mense asof God nie bestaan nie en tart hulle lewe Hom uit soos wat ons in hierdie verhaal Belsasar sal sien doen.

Partytjie

Die nuwe koning was die kleinseun van Nebukadnesar. Hy is vernoem na die afgod Bel. Sy naam beteken Bel sal beskerm. Die ironie van hierdie verhaal in Daniël 5 is dat hierdie afgod hom nie kan beskerm nie. Belsasar se ryk is in die moeilikheid met die dreigende magte van Kores rondom sy ryk. Dit is juis in hierdie tyd dat hy die gode van sy ryk vereer en met sy drink partytjie die tempel gereedskap wat saam met die Joodse bannelinge uit Jerusalem gebring is, misbruik. Hierdie was nie ʼn man wat onbewustelik en in onkunde God met hierdie daad gelaster het nie.  Hy was ʼn man wat deeglik bewus was van God se grootheid en Sy werking in sy oupa se lewe gesien het. Dit was ʼn duidelike, opsetlike belediging van Belsasar teenoor die Lewende God.

Die fees is groot en sy duisend maghebbers is teenwoordig. Die koning raak dronk van al die alkohol en hoe dronker hy word, hoe meer kom sy ware kleure na voorskyn en sien ons sy absolute arrogansie teenoor God. Hy laat al die tempel voorwerpe inbring sodat hy en sy gaste daaruit kan drink. Hierdie voorwerpe kom uit God se heilige tempel en was daar om gebruik te word om Hom te verheerlik. Belsasar wil egter deur hierdie daad aan sy gaste wys wie in beheer is deur God se heilige voorwerpe vir sy sonde te gebruik. Die leser kan nie anders as om onmiddellik te dink aan die verhaal van die Filistyne wat Israel oorwin het in die dae toe Eli die hoëpriester was nie. Hulle neem die ark en plaas dit by hulle afgod Dagon, die een met wie se krag hulle dink hulle Israel oorwin het. Net soos hier, het die heidense regeerders die idee gehad dat hulle oorwinning oor die volk Israel beteken het dat hulle gode groter was as God. God het egter alreeds aan Nebukadnesar gewys dat Hy elke regeerder aanstel of onthef en ryke laat val of oprig.  In die verhaal van die Filistyne, sien ons in die oggend Dagon op sy gesig voor die ark lê. Hulle sit hulle god regop, maar die volgende oggend lê Dagon weer op sy gesig op die grond en sy handpalms lê afgebreek op die drumpel. So probeer hulle dan om ontslae te raak van die ark, maar in elke dorp waar dit kom is daar pes en siekte totdat hulle dit weer terug stuur na Israel.

Die God van Israel is ʼn Lewende Almagtige God wat nie met Hom laat speel nie. Hier word die tempel voorwerpe gebruik om ter ere van die afgode van Babilon fees te vier. Die volgende oomblik verskyn ʼn hand wat op die muur skrywe. Vrees pak Belsasar beet en die kleur verdwyn uit sy gesig. Ewe skielik is hy nugter. Let gerus op hoe hierdie vrees van Belsasar beskryf word. Daniël 5:6 Toe word die koning bleek, en sy gedagtes het hom verskrik. Sy heupgewrigte het slap geword en sy knieë het teen mekaar geklap. Hoe sal mense nie eendag vrees as Christus verskyn nie. Lukas 23:30 Dan sal hulle vir die berge begin sê, Val op ons! en vir die heuwels, Bedek ons! Kan jy jou indink wat sal gebeur as die boeke oopgemaak word, die vrees wat hulle sal beetpak? Bleek en lam van skrik roep hy die voorspellers en raadgewers in. Hulle word ingebring en hy belowe dat die een wat die skrif sal kan lees oorlaai sal word met belonings en die derde in rang van die ryk geplaas sal word. (Ons weet vandag vanuit die geskiedenis en opgrawings dat die rede hoekom hy hom derde in die ryk plaas, was omdat hy nog onder sy pa, Nabonedus, was en die een wat beloon word dus die plek onder hom sou inneem. As die koningin van Nebukadnesar praat as die vader van Belsasar verwys dit na hom as voorouer van Belsasar.)

Hoe ironies is hierdie belofte van beloning nie. Die ryk is op die vooraand van ineenstorting met dreigende vyande en tog dink Belsasar dat die derde posisie iets is wat iemand sal begeer. Die magtige koning wat posisies wil uitdeel sou in daardie selfde nag alles verloor.

Daniël se wysheid

Die skrif is deur God geskrywe en net die dienskneg van God sou dit kon uitlê. Die sogenaamde wyses van Babilon sou nie daartoe in staat wees nie. So gee Jesus lof aan die Vader dat die ware wysheid verberg is vir die wyse en verstandige mense, maar aan sy kinders openbaar is. Matteus 11:25 In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. So verklaar die Psalmdigter ook dat Hy meer insig het as sy leermeesters. Psalms 119:99-100 Ek is verstandiger  as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Nou is Belsasar nog meer verward en ontsenu. Sien jy in jou geestesoog hoe alle aanmatiging uit die onthaal lokaal verdwyn het. Dan kom die koningin in. Sy is heel moontlik die dogter van Nebukadneser en was nie deel van hierdie orgie nie. Haar vertroue dat Daniel die skrif sal kan uitlê spreek boekdele. Dit is duidelik dat iemand opgelet het in die klas terwyl Nebukadnesar onderrig is. Sy haal ook kenmerkende woorde van Nebukadnesar in Hoofstuk 4 aan, wat verder wys dat sy bewus was van God se hand in Nebukadnesar se lewe.

Daniël verskyn in die onthaal kamer. Dit is opmerklik dat hy nie deel was van die hele fees nie, alhoewel hy teen hierdie tyd een van die hoog geplaasdes en wyses in die Babiloniese ryk was. Dit is weer eens ‘n voorbeeld vir elkeen vandag wat dink dat dit nodig is om gesien te word by elke funksie indien jy in jou maatskappy of in die samelewing “gereken” wil word. Daar waar sonde gevier word, moet die kind van die Here afwesig wees.

Die koning probeer om Daniël te vlei deur te kenne te gee dat geen wyse die skrif kon uitlê nie en verklaar “Ek het van jou gehoor, dat die gees van die gode in jou is, en dat helder insig en buitengewone wysheid in jou gevind is”. Daniël 5:14. Daarna lig hy Daniël in van die beloning wat hy sal ontvang as hy die Skrif teen die muur sal kan lees en dit kan verklaar. Daniël wys die geskenk van die hand. Dit wat die wêreld kan bied en dit wat vir die wêreld belangrik is behoort geen waarde vir die gelowige te hê nie. Die Skrif is duidelik dat iemand wat Christus wil volg alles moet prysgee en as minderwaardig moet beskou. Matteus 16:24-26 Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Solank as wat die skatte van hierdie wêreld jou oë laat vonkel en die eer van mense jou harte vinniger laat klop, sal Christus nooit die kern van jou lewe wees nie. Moses word as ʼn geloofsheld beskrywe in Hebreeus en die een wat alles prysgegee het. Hebreërs 11:24-26 Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van die Farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Net so kon Paulus sy totale Curriculum Vitae opnoem en dit alles beskrywe as menslike afval. Luister net na sy woorde in hierdie gedeelte. Filippense 3:7 Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus.

Deur die geskenk van die hand te wys maak Daniël dit ook duidelik dat niks hom sal verhinder om die waarheid wat God aan Hom geopenbaar het aan die koning mee te deel nie. Vrees vir mense veroorsaak dikwels dat ons nie God se Woord, wat beskryf word as ʼn twee snydende swaard, aan hulle meedeel nie. Ons water die boodskap af deur pragtige woorde en beelde wat geheel en al teenstrydig met die Woord van God is. Daniël gebruik Nebukadnesar as ʼn voorbeeld van iemand aan wie die allerhoogste God die koningskap en grootheid gegee het. A.g.v. sy hoogmoed het God in een oomblik alles van hom weggeneem en het sy hart soos die van ʼn dier geword en het hy gras gevreet.

Hartelose kennis

Die skokkende van hierdie gesprek is dat Daniël aan die koning te kenne gee dat alles wat hy aan hom meedeel aangaande Nebukadnesar aan hom bekend is. God se oordeel sal vel wees oor die wat nieteenstaande hulle kennis hulle nog steeds nie verneder voor hom nie. So kondig Jesus vir die stede wat die wonderwerke gesien en sy prediking gehoor het aan dat hulle erger geoordeel sal word selfs as die goddelose stad Sodom. Matteus 11:21 Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar Ek sê vir julle, vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal! Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit bly staan het tot vandag toe. Watter arrogansie het mense nie wat Sondag na Sondag die boodskap van die Skrif hoor en nog steeds voortploeter in hulle sonde en lewe asof God nie bestaan nie. Hulle straf sal soveel swaarder wees as die van die Ou Testamentiese mens. Kyk maar net hoe die skrywer van Hebreërs dit stel. Hebreërs 10:29 Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? Hoe skokkend as jy in Openbaring lees dat ten spyte van die plae wat die aardbewoners tref hulle nog steeds hulle harte verhard. Openbaring 9:20 Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie.

Die oordeel

Die Skrif op die muur is Mene, mene, tekel ufarsin. Daniël 5:26-28 Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Ufarsin – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee. Die herhaling van ʼn woord in die Skrif druk aksent of klem op die belangrikheid om ag te slaan. Belsasar wat so vol van homself was en homself so hooggeag het staan voor die lewende God wat hom weeg en te lig bevind. Dit is dan ook wat die Psalmdigter van die mens verklaar. Psalms 62:10 Net ‘n asemteug is die mens,

onbetroubaar is mense; op ‘n skaal weeg hulle byna niks, saam is hulle ligter as ‘n asemteug. Waarom sou die gelowige soveel waarde heg aan ander mense se opinie?Sy hele ryk sou in daardie nag oorgegee word aan die Mede en die Perse. Na die uitleg van die Skrif is jy half geskok as Belsasar sonder om ʼn oog te knip opdrag gee dat Daniël beloon moet word. Sou jy nie verwag dat hy op sy knieë sou neerval en smeek dat Daniël vir hom sal intree of dat hy God sal smeek om sy arrogansie te vergewe nie? Sy gedrag getuig van ʼn man wat nog steeds dink dat hy die outoriteit en die mag het om besluite te neem en mag uit te deel. Dit terwyl die vyand aan die deur klop en die vonnis gevel is. Dit is soos ʼn persoon wat sy testament skrywe en daarin hiet en gebied asof hy vanuit die graf nog steeds kan regeer op aarde.

Slot

In die nag van 11Oktober 539vC eindig die ryk van die Babiloniërs.

Vandag het ons die bekende idioom wat sy oorsprong uit hierdie verhaal het: “Die skrif is aan die muur.” Dit beteken die vonnis is gevel en die uiteinde van die situasie is bekend en onafwendbaar. Dit wat geskryf staan, is finaal. Dit is klaar – verby. Die skrif is aan die muur vir diégene wat nie die hand van God in die verloop van wêreldgebeurtenisse erken nie. Die skrif is aan die muur vir elkeen wat in hierdie wêreld God ignoreer en voortgaan om in arrogansie God uit te tart met hul sonde en laster. Die skrif is aan die muur vir elkeen wat die waarskuwings en beloftes in die Woord van God ignoreer en sy genade goedkoop maak deur te volhard in sonde. Is die Skrif aan die muur vir jou?