Daniël 4

Inleiding

Die begin van Hoofstuk 4 proklameer die magtigste koning van sy tyd, Nebukadneser, dat daar ʼn koning groter en magtiger as hy is. Die Koninkryk van die Allerhoogste God, vol magtige tekens en wonders, wat vir ewig sal wees. Met hierdie proklamasie, meer as 2500 jaar terug, erken ʼn magtige koning sy sondes en hoogmoed aan die wêreld en bely dat hy sy knie moes buig voor die enigste God. Dit opsigself is uniek vir enige koning in die antieke wêreld en ek wil my verstout om te verklaar vir enige koning selfs in die moderne eeu. Om jouself te ontbloot en sodoende te verneder is beslis nie ʼn kenmerk van enige hooggeplaaste individu nie. In hierdie hoofstuk sal ons die genade pad wat God met Nebukadneser loop sien. Hy begin as ʼn arrogante man, vol eiewaan en trots. Hy het alreeds kennis gemaak met Daniël en sy vriende se God en gesien hoe God deur Daniël drome uitlê en sy vriende in die vuuroond beskerm. Tog is dit net nog ʼn god, een van vele, en hy leef nog rustig en tevrede sonder dat hy eintlik nodig het om homself aan God te steur. Net so leef baie vandag rustig met ʼn verklaring dat God bestaan, dat Hy groot is en dat hy wonderlik vir sy kinders sorg. Dit opsig self is egter nie dieselfde as om jouself voor hierdie God te verneder en te erken dat jy Hom nodig het en dat Hy die enigste ware God en ook jou God is nie. Hierdie erkenning is nie iets wat uit die mens kom nie, maar wat God aan die mens moet openbaar, soos wat Hy vir Nebukadneser moes wys Wie Hy is. Dit klink of Nebukadnesar in sy proklamasie hier die Psalmdigter aanhaal. Psalm 145:13 U koningskap is ‘n koningskap vir alle ewighede, u heerskappy duur deur al die komende geslagte. Dit is verder interessant dat hy die kombinasie van wonders en tekens in sy beskrywing van God se werk gebruik wat ook in die Ou Testament vir die werk van God in Egipte voor die Farao gebruik word. In teenstelling met die Farao sal ons vind dat Nebukadneser berou het en eer aan God betoon.

Dit gaan goed

Dit gaan goed met die koning en hy getuig dat hy ʼn rustige lewe gely het. Die koning het tot dusver groot dinge beleef, Daniel wat sy droom aan hom vertel en uitlê deur God se krag en drie manne wat in die vuur saam met ʼn “godeseun” wandel sonder dat ʼn letsel aan hulle gevind kan word, en tog was daar geen bekering nie. Ons vind slegs ʼn paar oppervlakkige belydenisse oor God, soos wat baie in die kerk ook maak, sonder enige lewensverandering. So vind ons dat hy weereens sy eie kenners en wyses inroep om sy droom uit te lê. Daniel was die vorige keer die enigste een wat sy droom kon uitlê, so waarom vra hy nie eerste vir hom nie? Hoe moeilik is dit nie vir ʼn man wat vol is van homself om aan God die eer te gee nie? As Daniel dit uitlê sou hy moes erken dat daar net een God is en sou hy sy knie voor God moes buig. Die mens sonder God sal liewer op ander plekke antwoorde probeer vind as by God. Ons sal eerder na die sielkundiges of die kenners van hierdie wêreld gaan as om die Skrif te raadpleeg of na die “man of vrou van God te gaan”. Daar is ʼn bewustheid dat die prys vir God se wysheid net te hoog en die opofferings in my lewe net te veel sal wees om die God van die Woord se raad te volg. Lukas 14:26-28 “As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. Wie nie sy eie kruis dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Ek sal eerder die antwoord in myself en deur my eie krag wil vind. Ek wil graag die kaptein van my siel bly eerder as om oor te gee en die plek van ʼn slaaf in te neem. So baie kom ook met hierdie denke na die Skrif om net goeie lewens lesse en inspirasie vir goeie keuses te vind. Die Bybel is ʼn goeie “selfhelp” boekie wat ek kan uithaal wanneer ek hulp nodig het. God gaan egter ʼn pad met Nebukadnesar stap.  ʼn Genade pad wat begin met vrees, arrogansie, vernedering en waansin, maar wat eindig in Verlossing en Herstel. Die koning se wyses en geleerdes is onbekwaam om die koning die uitlegging van die droom te gee, aangesien die woorde van die droom van God wat nie deur die menslike kennis verstaan en beskrywe kan word nie. Sal jy die Antwoord op die Lewe in hierdie wêreld vind? Net soos Nebukadnesar sal elke persoon ontdek dat die sogenaamde wysheid van hierdie wêreld beslis dwaasheid is en tot geen nut is nie.

Om net te erken en te verklaar dat God bestaan beteken niks. Nebukadnesar kon dit weens die getuienis van Daniël en sy vriende teen hierdie tyd verklaar, maar dit was niksseggend, sonder ʼn totale oorgawe en geloof. Net so is ons ook baie keer, soos ook die volk van Israel, mense wat die mooiste verklarings maak sonder ware oorgawe. God verklaar oor sulke mense die volgende: Jesaja 29:13-14My Heer het gesê: “Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My, en hulle ontsag vir My bloot ‘n aangeleerde menslike gebod, daarom, kyk, Ek sal voortgaan om op ‘n wonderlike, wonderbaarlike manier met hierdie volk te handel. Die wysheid van hulle wyses sal tot niet gaan, en die insig van hulle verstandiges sal verborge bly

Die droom.

God stuur aan Nebukadnesar ʼn droom, wat hom vreesbevange laat. In sy droom sien Nebukadnesar ʼn boom wat groei en magtig word. ʼn Boom waarvan baie afhanklik is en waaruit baie voordeel geniet. Daniel word uiteindelik ingeroep nadat die koning verklaar “die gees van die heilige gode ” in hom is. Die wysheid van God kom slegs deur die openbaring van die Heilige Gees.

Op die bevel van ʼn boodskapper word die boom afgekap en die stomp vasgeketting. Daniel is geskok as hy die droom hoor en die betekenis daarvan begryp. Die boodskap is duidelik dat God in beheer is van elke koning en hom oprig en vernietig soos Hy goeddink. Daniel se versugting is dat die uitleg van die droom eerder op Nebukadnesar se vyande van toepassing moes wees. Hoe wonderlik is dit nie om by hierdie Godsman ʼn bewoënheid vir ʼn heidense koning te sien nie? Al sien ons dat die wêreld besig is om hulself met hul sonde te vernietig, is daar altyd by die gelowige ʼn hartseer aangaande die verlore mens. Daarom roep Daniel ook die koning op om hom te bekeer. Die metafoor van dit wat met die koning gaan gebeur omdat hy vol hoogmoed is, is ʼn beeld van die geestelike toestand waarin enige persoon wat vasgevang is in sonde hulleself bevind. Soos ʼn dier sonder verstand vir die Goddelike is die mens wat agter die begeertes van sy vlees aanhardloop. Sonder ware kennis van God is jy ʼn mens sonder verstand. Spreuke 30:2-3 Want ek is dommer  as enigiemand; ek het nie die verstand van ‘n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, en kennis van die Heilige  het ek nie. So word die leiers van Israel ook deur Jesaja as honde beskou. Jesaja 56:10-11 Israel se wagte is almal blind, hulle neem niks waar nie. Hulle is almal stom honde, hulle kan nie blaf nie; hulle lê daar en maak geluide, hou daarvan om te sluimer. Die honde is vraatsugtig, hulle ken nie versadiging nie. Hulle is die herders! Hulle kan nie verstaan nie. Hulle is almal gerig op hulle eie pad, elkeen op sy eie voordeel, sonder uitsondering. Al is die geestelike toestand van die mens sonder God soos die van ʼn dier is dit nie altyd fisies sigbaar soos in Nebukadnesar se geval nie. Tog is daar baie mense wat in inrigtings beland as gevolg van hul sonde wat hulle bloots ry, en hul voorkoms en gedrag soos die van diere word. God se genade is duidelik teenoor Nebukadnesar as Hy ʼn stomp van die boom laat oorbly en dit vasgebind met kettings. Sy totale verwoesting vind nie plaas soos met baie ander konings en koninkryke in die Skrif nie. Vir sewe jaar/tydperke sou hy soos ʼn dier leef. Wat baie duidelik is, is dat God die val van die koning bepaal het, maar ook die tyd van herstel. God is die een wat aan die man met ʼn diere hart weer ʼn mense hart moet gee en die diere verstand moet verander in ʼn mens se verstand. So bely Hanna ook in haar loflied nadat God aan haar ʼn seun gegee het. 1 Samuel 2:6-8 “Die Here maak dood en Hy maak lewend; Hy laat na die doderyk afdaal en Hy laat daaruit opkom. Die Here maak arm en Hy maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. Hy laat armes uit die stof opstaan, van die ashoop af hef Hy behoeftiges op om hulle by vooraanstaandes te laat sit en ‘n ereplek hulle erfdeel te maak. Ja, aan die Here behoort die fondamente van die aarde, Hy het die wêreld daarop geplaas. Verlossing as God se werk word duidelik beklemtoon in hierdie droom en uitlegging. Daar is geen manier dat die mens met die verstand en die hart van ʼn dier op sy eie na die Goddelike kan opkyk en erkenning aan Hom kan gee nie. Net so belowe God ook aan Israel dat Hy hulle sal verander en na Hom sal terugbring. Jeremia 24:7 Ek sal aan hulle harte gee om My te ken, dat Ek die Here is. Hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees; want hulle sal na My terugkeer met hulle hele hart. Ook elke kind van die Here word deur die Here wederbaar van bo deur die Heilige Gees wat Lewe gee en in hom/haar kom woon. Johannes 3:8 Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”

God het gewaarsku

Na die uitleg van die droom, verander Nebukadneser nie. Hy gaan voort met sy lewe asof niks gebeur het nie. Die koning loop op die dak van die koninklike paleis en kyk oor alles wat hy vermag het. Hoe gevaarlik is die wandeling van selfvoldaanheid in die mens se lewe. So vind ons ook vir Dawid voor sy val besig om op die dak van sy paleis rond te loop. Die teks is baie duidelik dat Dawid by die huis is i.p.v. om saam met sy manne uit te trek vir oorlog. 2 Samuel 11:1a Teen die jaarwending, wanneer die konings op veldtogte uittrek, het Dawid vir Joab uitgestuur, en saam met hom sy amptenare en die hele Israel. Hoe maklik kyk ons na alles in ons lewens en gee onsself ʼn klop op die skouer asof ons dit vermag het nie. Kyk weer na Hanna se woord hierbo waar sy verklaar dat God ryk en arm maak. Alles gebeur presies soos die droom voorspel het en in daardie oomblik van selfwaan word ʼn man ʼn dier.

God herstel

Na die presiese tyd wat God bepaal het keer Nebukadnesar se verstand na hom terug. Watter ongelooflike belydenis vind ons nie by hierdie man wat nuut gemaak is nie!? Dit is nie die ou mens wat hier terugkeer nie, maar ʼn man wat ʼn geestelike hart ontvang het en kennis van die Almagtige openbaar in sy lofprysing. Job 28:28 Maar vir die mens het Hy gesê: Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig. Hy begin om die Here te loof en te prys. Watter verandering as die mens God die eer begin gee en niks meer aan homself toedig nie! Hy erken dat God se koningskap ewig is en dat die mens as niks gereken word nie. Dit is baie moeilik vir die wêreld om te aanvaar dat die mens niks is nie. Die Bybel beskrywe die mens as nietig, tydelik en slegs Sy Woord as ewig. 1 Petrus 1:24-25 Want elke mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is. Tot hiertoe sal baie in die kerk miskien nog met sy lof saamstem, maar dan maak hy ʼn uitspraak wat baie sal skok. Daniel 4:35b Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. God doen met almal in die hemel en op die aarde net soos Hy wil. Ons lees ook hiervan in Romeine 9:19-23 Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog ‘n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? Mense probeer hierdie teks op allerhande vreemde maniere uitlê dat dit tog net nie moet sê wat dit so duidelik sê nie. Hierdie God wat ons aanbid, en wat Nebukadnesar ontdek het, is die God wat alles beheer en niks of niemand kan hom teëgaan nie. Hy sal doen wat Hy wil en alles wat Hy beplan het voer Hy uit. God herstel Nebukadnesar op die tyd wat Hy vooraf bepaal het, wetende dat Nebukadnesar dan aan die bepalings wat God vir sy herstel bepaal het sal voldoen, want ook dit het God bewerkstellig. Dan gaan God verder en plaas dit in die harte van die raadsmanne en die edeles om op die persiese tyd van Nebukadnesar se oprigting hom te gaan opsoek. 

Die ewige koninkryk

Christus sou ʼn koninkryk kom vestig en die saad saai wat volgens die gelykenis in Mattheus 13 net so klein soos ʼn mostertsaad is. Hierdie boom word groot en net soos met  Nebukadnesar se droom word hierdie boom die plek waar die voëls van die hemel kom en nes maak. Matteus 13:32 Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. Hierdie boom sal nooit vernietig word nie. Om die koninkryk te vestig sou Hy wat waarlik God is homself verneder om ʼn mens te word en meer as dit om aan ʼn kruishout te hang. Filippense 2:6-8 Hoewel Hy in die gestalte  van God was, het Hy gelykheid aan God  nie beskou as iets  om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan  leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf  aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van ‘n mens  verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. Alles wat Hy gedoen het, sou doen en aan Hom gedoen is was onder die beheer van God se hand, net soos in die geval van Nebukadnesar se vernietiging en sy oprigting. Handelinge 4:27-28 Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. Die koninkryk waaraan die gelowige behoort is ewig en daar is geen einde daaraan nie. Ons vrees geen magte op aarde wat oor ons aangestel is nie, en al gehoorsaam ons hulle weet ons dat hulle slegs tydelik is.

Slot

Genadiglik loop God ʼn pad met elkeen van Sy kinders.  Hy is die een wat Homself aan ons openbaar en ons laat deel aan die Ewige Koninkryk wat Hy bewerkstellig het deur homself te verneder, sodat ons verhoog kan word. Hy is nie net een van die gode nie, Hy is die enigste ware God en is werd om aanbid, geloof en geprys te word.