Inleiding
Daniël en sy vriende bevind hulle in ʼn vreemde land, Babilonië, waar afgode aanbid word. Baie mense ken hierdie gedeelte van Daniël net so goed soos die storie van Daniël in die leeukuil, waarby ons nog sal kom. Dit is die storie van manne van God wat opstaan teen die opdrag van ʼn heidense regeerder en weier om te buig voor sy afgode. Ons lees dit en erken hoe wonderlik dit is dat hulle so gehoorsaam is en God hul gehoorsaamheid beloon. Tog is dit waar dit vir baie mense eindig, omdat ons die gedagte het dat ons nie in hierdie wêreld gedwing word om afgode te aanbid nie, en selfs al sou ons gevra word, leef ons in die Westerse samelewing waar godsdiensvryheid toegepas word en ons kan weier sonder enige daadwerklike nagevolge: “Niemand gaan ons vandag immers in ʼn brandende oond gooi vir dit waarin ons glo nie”. Of gaan hulle?
Eer Nebukadnesar
Nebukadnesar het niks geleer uit die droom wat God aan hom gewys het nie. Die beeld word ʼn afgod om te aanbid eerder as die waarskuwing van God dat alle koninkryke deur Hom tot ʼn einde sal kom. Die beeld word gemaak van goud, dieselfde as die deel van die droombeeld wat na Nebukadneser gewys het, naamlik die kop van goud. Die woord wat gebruik word vir hierdie beeld wys verder dat dit eerder as ʼn monument opgerig is as bloot ʼn afgodsbeeld. In vers 12 en 14 kan ons sien hoe die afgode van Babel onderskei word van die beeld wat Nebukadnesar opgerig het.
- Daniël 3:12b …Hierdie manne het hulle nie aan u bevel, o koning, gesteur nie. Hulle dien nie u gode nie en betoon nie eer aan die goue beeld wat u opgerig het nie.
- Daniël 3:14 Nebukadnesar het begin deur vir hulle te sê: “Is dit regtig so, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my gode nie dien nie en aan die goue beeld wat ek opgerig het, nie eer betoon nie?
Die afleiding wat ons dus kan maak is dat dit wat hy, Nebukadnesar, tot stand gebring het, aanbid moet word. Die beeld wat hy opgerig het was ongeveer 20 meter hoog en op ʼn vlakte sodat dit baie ver sigbaar sou wees. Dit sou uittroon bo alles en sou dus ʼn herinnering wees aan alles wat hy vermag het – ʼn tipe selfportret van sy prestasies. Hierdie denke van Nebukadnesar sal deur God ontbloot en tereggewys word in hoofstuk 4. Mense van al die leiersposisies in die samelewing van die dag was daar teenwoordig. Soos ook in die res van die Skrif sal ons agterkom dat diegene wat teen die stroom van die dag se selfverheerliking en afgod aanbidding is, maar net ʼn handjievol dapper manne of vroue sal wees. Almal word opgeroep om die beeld te aanbid en enige iemand wat sou weier sou in ʼn vuuroond gegooi word. Aangesien die beeld deur die koning opgerig is tot sy eer, sou enige persoon wat die beeld nie aanbid nie, verraad pleeg. Tog sou ʼn hoër opdrag elke Jood skuldig maak aan verraad teen die enigste God wat beveel dat jy geen ander god as Hy mag aanbid nie.
Wat is jou afgod?
Die koning se opdrag is duidelik, die oomblik as die mense die geluid van die musiekinstrumente hoor moes hulle in aanbidding voor die beeld neerval. Baie het die idee dat ons baie gelukkig is dat ons nie vandag gevra word om afgode te aanbid nie en sodoende veilig is van die oortreding van God se gebod. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Daar is legio afgode wat elke dag deur mense aanbid word wat geen fisiese vorm aanneem nie, maar kom in die vorm van Geld, Mag, Genot en Eer/Status. Dalk voel jy nog steeds dat jy nie een van hierdie vier aanbid nie, maar afgode kom ook in die vorm van goeie dinge, bv. jou vrou, jou kinders, jou volk, die natuur, ens. Elke dag van ons lewens word ons voor besluite gebring waar ons moet kies of ons verraad teen God of teen die wêreld gaan pleeg. Die oomblik as hierdie keuses/besluite moeilik raak weet ons dat ons besig is met ʼn god wat ons opgerig het en teenoor die ware God begin plaas het. Ons is afhanklik van ons werk en dus as die werk van my vra om iets te doen wat teen die Woord is ontstaan daar ʼn stryd omrede ek vergeet het dat my eintlike afhanklikheid van God is. So kan my familie en vriende afgod posisies in my lewe inneem en die vrees wat ek ervaar om Christus te bely is die bewys dat hulle ʼn posisie in my lewe inneem wat belangriker is as gehoorsaamheid aan God.
Manne van God
Drie manne staan orent terwyl die menige met die geluid van die musiekinstrumente neerval. As jy hierdie drie mans advies kon gee sou jy dalk wou sê: “Lê laag, kêrels, moenie ʼn groot ding hiervan maak nie, jy kan in jou hart weet jy het slegs neergeval en tog nie die beeld werklik aanbid nie. Waarom nou ʼn ophef maak? Jy is in ʼn posisie geplaas waar jy baie invloed vir die Here kan hê en jy gaan dit nou alles prysgee in een oomblik. ” Baie mense maak in hulle lewens soortgelyke kompromieë. Hoe maklik regverdig ons dade in ons lewens wat duidelik in stryd is met die Woord met eenvoudige “Die Here ken my hart”, of “Ek kan ʼn beter getuie wees as ek eerder nou swyg en eers die mense aan my kant kry”. Hierdie drie manne gaan alles behalwe swyg. Elkeen staan soos ʼn paal bo water uit sodat almal hulle ongehoorsaamheid aan Nebukadnesar kan sien. Hou voor oë dat dit drie jong manne was wat so manhaftig en godvresend opgetree het. Dit is duidelik dat hierdie manne God se Woord geken het en daarom kan ek myself indink dat die stemme van Josua en Elia in hulle ore opgeklink het.
- Josua 24:15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”
- 1 Konings 18:21 Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” Maar die volk het hom nie met ‘n enkele woord geantwoord nie.
Die manne word by die koning aangekla en dit is interessant om na die aanklag te luister. Die aanklaers is duidelik daarvan bewus dat hierdie manne se ongehoorsaamheid aan die koning nie ʼn eenmalige gebeurtenis is nie, want “hulle dien u gode nie”. Daniel 3:13. Hoe interessant dat almal alreeds bekend was met hierdie manne se godvresendheid. As ons lewens gekenmerk word aan ons gehoorsaamheid aan God en almal in ons familie en werk hiervan bewus is sal ons opstaan vir die “regte” nooit vir iemand vreemd wees nie. Hulle mag nie daarvan hou nie, maar sal kan getuig dat dit normaal is vir jou handel en wandel. Die manne wat hulle aankla slaag in hulle doel as ons sien dat die koning woedend word. Tog gee die koning vir hierdie drie manne nog ʼn geleentheid om neer te buig voor die beeld. Die koning maak dit ook duidelik dat hy nie glo dat enige god hulle uit sy hand kan red nie as hy bely: “…wie is die god wat julle dan uit my hand sal red?” Daniel 3:15. Hoe ironies!? Dit laat ons onmiddellik dink aan die belydenis wat die Psalmdigter maak. Psalms 115:4-8 Hulle afgode is silwer en goud, die werk van mensehande. Hulle het monde, maar kan nie praat nie, oë, maar kan nie sien nie. Hulle het ore, maar kan nie hoor nie, neuse, maar kan nie ruik nie, hande, maar kan nie aanraak nie, voete, maar kan nie loop nie; met hulle kele maak hulle geen geluid nie. Hulle makers sal net soos hulle word – elkeen wat op hulle vertrou.
God kan, maar sal Hy?
Kan jy jou indink hoe kwaad moes Nebukadneser vir hierdie jongmanne gewees het aan wie hy soveel guns bewys het en wat alreeds soveel status in sy ryk ontvang het? Die dreigemente van die koning val op dowe ore. Hierdie manne ken die verhale van die Woord en weet waartoe hulle God in staat is. Ten spyte van die tweede kans wat Nebukadnesar vir hulle gee is hulle vasberade. Vers 17 en 18, wat hulle antwoord is op die koning se dreigement, word vir my in die Afrikaans vreemd vertaal. So asof die manne nie seker is dat God hulle kan help nie. Die Aramees van vers 17 word beter vertaal as “kyk” of “voorwaar” eerder as “as”. Hier is ʼn vertaling wat vir my meer gepas is en nie ʼn huiwering uitdruk soos ek dit in die Afrikaans ervaar nie. 17 Kyk, ons God wat ons dien, is in staat om ons te red uit die brandende vuuroond en uit jou hand, o koning, sal Hy ons bevry. 18 En indien nie, laat dit aan jou bekend wees, o koning, dat ons nie jou gode sal dien nie, nòg die goue beeld wat jy opgerig het, sal ons nie aanbid nie.” Hierdie vertaling van die teks is amper identies aan die ESV en stem ooreen met die KJV, NASB en die NIV. Hierdie is manne van geloof wat verstaan hoe groot hulle God is. Geloof is om te weet dat God die onmoontlike kan doen, maar geloof weet ook dat al kan God is dit nie ʼn sekerheid dat Hy sal nie. Baie het die idee dat iemand wat sterk geloof het iemand is wat nooit twyfel dat God sal doen wat hy/sy vra nie. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Geloof weet dat God alles kan en sal doen, my siel ten goede. As dit is om in die vuuroond te sterf dan is dit goed, want my siel is by Hom, indien nie, dan het Hy ʼn ander plan met my lewe. Watter geloof om by die mond van ʼn vuuroond te staan met die sekerheid dat wat ook al my God besluit ek sal Hom aanhou dien. Daarom word hierdie jongmanne as voorbeelde van manne van geloof deur die skrywer van Hebreërs beskrywe. Hebreërs 11:34 wat die geweld van vuur geblus het … Geloof is dus nie God sal nie, maar God kan! Die gelowige is verseker dat die Een wat die dag en datum van hul dood en elke dag van hulle lewe bepaal, ʼn liefdevolle God is; nie ʼn mens, jou sterre of die noodlot nie. Psalms 139:16 U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.
Christus self
Die koning is woedend en in sy eer gekrenk. Wie is hierdie manne wat geen vrees vir hom het nie? Miskien ʼn vraag soos deur baie gevra: “Weet jy wie ek is?” Hy maak die vuur sewe keer warmer. Sewe is die getal wat die perfekte uitdruk en dus wil beklemtoon dat die vuur so warm as moontlik is. Die vuur waarin hulle gegooi word is so warm dat die sterk manne wat hulle ingooi self verbrand word. Tot die skok van die koning ontdek hy in plaas van drie manne nou vier wat in die vuur wandel en die drie manne se boeie is afgebrand. Die beeld is vir my so wonderlik en illustreer dat juis in die tye wat ons deur die felste lyding gaan, juis die tyd is wanneer ons die vryste rondloop sonder enige “boeie” van die wêreld – net God en ek. In die LXX, wat die Griekse vertaling van die gedeelte is, vind ons ekstra verse waarin die jongmanne God in die vuur loof en prys. (Lees dit gerus). Een van die mans word geïdentifiseer deur die koning as een wat lyk soos ʼn “godeseun”. Dit is duidelik dat die koning die vierde persoon identifiseer as goddelik. Hoe ironies aangesien hy die een was wat bely het dat geen god hulle sou kon bevry nie. Ek wil saam met die vroeë gelowiges staan as hulle hierdie vierde wese met die tweede persoon van die Drie-eenheid identifiseer. Reeds voor hierdie gebeurtenis het die Seun al aan sy volgelinge verskyn en is Hy identifiseer as die engel van die Here, wat in die Afrikaans as hoofletter Engel vertaal word. Hier kan ons kyk na die besoekers by Abraham, die Engel wat aan Hagar in die woestyn verskyn, wat as die Engel van die Here aangedui word, asook Simson se ouers waaraan die Engel van die Here verskyn het. So het God ook op ʼn wonderbare wyse met Israel gewandel in die vuurkolom en wolkkolom in die woestyn.
Saam met God in die vuur
Sadrag, Mesag en Abednego was saam met God in die vuur en geen haar het van hul hoof af gebrand nie. Hul klere het nie eers na rook geruik nie. Dit het geen invloed op hulle gehad nie. Die gevaar van hul omstandighede het verdwyn in die teenwoordigheid van hul God. Net so ook kan ons weet dat solank ons binne God se wil wandel, kan die omstandighede nie geestelik aan ons raak nie. In teenstelling hiermee sien ons egter hoe die mense van Sodom en Gomorra i.p.v. om saam met God in die vuur te wandel ervaar hoe God die vuur op hulle laat neerdaal. Die volgende gebeurtenis vind plaas na die gesprek van Abraham en die Here (die tweede persoon van die Drie-Eenheid). Lees net hoe daar beskryf word van die persoon van God wat op aarde is en die persoon van God wat in die Hemel is. Genesis 19:24 Die Here (in tweede persoon op aarde) het op Sodom en Gomorra swael en vuur laat reën wat van die Here (die Vader) af uit die hemelruim kom. Watter teenstelling met hierdie regverdige manne wat die vuur nie as straf beleef nie, maar as ʼn wandeling saam met God. Die manne word uitgeroep uit die vuur en daar is geen brandmerk aan hulle klere en ook geen reuk van die vuur aan hulle nie. Dit laat jou onmiddellik dink aan die wandeling van die volk saam met God in die woestyn vir 40 jaar waarvan God getuig: Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn gelei. Julle klere aan julle lywe het nie verslyt nie. Jou sandale aan jou voete het ook nie verslyt nie. Deuteronomium 29:5. Aan die einde maak Nebukadnesar ʼn wonderlike belydenis, maar ons sal sien dat sy hart nog nie verander het nie en dat dit slegs lippetaal is.
Slot
Wie of wat is jou afgod? Is jy bereid om alleen te staan in jou gehoorsaamheid aan God, wetende dat Hy jou kan red en beskerm teen enige mens se aksies. Die Bybel herinner ons daaraan om nie op mense te vertrou nie. Dit gaan nie oor wie jy ken nie, want ʼn mens is die een oomblik hier en die volgende oomblik ʼn blote stof. Psalms 146:3-4 Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ‘n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond; op daardie dag is sy planne daarmee heen. Die vraag is eerder ken jy my God, die skepper van Hemel en aarde, wat spreek en dit vind plaas.
