Saul sondig

Saul en sy soldate was in Gilgal. Die Filistyne het teen hulle opgestaan met baie soldate, perde en strydwaens. Die Israeliete het bang geword en in grotte en gate gaan wegkruip.

Samuel het vir Saul gesê om sewe dae te wag, dan sou hy kom om ’n brandoffer vir die Here te bring. Maar Samuel het nie betyds gekom nie en die manne het van Saul af begin wegloop.

Toe het Saul gesê:

“Bring die brandoffer vir my.”

Hy het toe sommer self die offer gebring.

Net toe hy klaar is het Samuel gekom. Samuel het vir Saul gesê:

“Wat het jy gedoen?”

Saul het geantwoord:

“Ek het die manne sien weggaan, jy het nie gekom nie en die Filistyne is bymekaar. Toe het ek gedink dat ek die Here aan my kant moet kry deur aan Hom te offer. “

Maar Samuel het gesê:

“Jy het dwaas gehandel. Jy het nie die bevel van die Here gehoorsaam nie. Nou sal jou koningskap nie bly staan nie. Die Here het iemand anders gekies.”

Lewer kommentaar