Die hooftema van die boek Daniël is God se soewereiniteit oor alle nasies en tye. Die eerste ses hoofstukke fokus op Daniël en sy vriende se getrouheid aan God te midde van ʼn heidense samelewing, terwyl die laaste ses hoofstukke apokaliptiese visioene bevat wat God se soewereine beheer oor die geskiedenis en toekomstige gebeure openbaar. Die boek is geskrywe in twee tale naamlik Hebreeus en Aramees. Die gedeeltes in Hebreeus is Dan 1:1- Dan 2:4a en Dan 8:1-Dan 12:13. Die eerste en laaste gedeelte is ʼn boodskap vir Israel in Hebreeus, hulle taal, en die middelste gedeelte is in Aramees, die taal van die wêreld, as voorspelling vir die lande van die wêreld.
Daniel 1
God in beheer
Die verhaal begin waar Daniel en sy drie vriende gevange geneem word deur die Babiloniërs. Reeds hier word die hooftema, nl. dat God in beheer is van alles wat op aarde gebeur en dat elke regering onder sy hand is, bevestig. Daniël 1:2 Die Heer het Jojakim, die koning van Juda, en ook ‘n deel van die voorwerpe in die huis van God in sy hand oorgegee. Hy het dit na die land Sinar, na die tempel van sy gode geneem – die voorwerpe het hy na die skatkamer van sy gode geneem. Dit is ʼn boodskap wat Nebukadneser bevestig. Daniel 4:34-35 Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het na my teruggekeer. Ek het die Allerhoogste geloof en die Een wat ewig leef, besing en geëer – Hy wie se heerskappy ‘n ewige heerskappy is, en wie se koningskap van geslag tot geslag duur. Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, Wat het U gedoen?
God het die Jode na Babilonië laat wegvoer as straf vir hulle goddeloosheid en oortredings teen Hom. Hierdie straf het Hy aan hulle belowe indien hulle nie Sy bevele gehoorsaam nie. Deuteronomium 31:17 My toorn sal op daardie dag teen hulle ontbrand; Ek sal hulle verlaat en my gesig vir hulle verberg. Dan sal hulle ‘n prooi wees, en baie rampe en ellende sal hulle tref. Op dié dag sal hulle sê, Is dit nie omdat ons God nie in ons midde is dat hierdie rampe ons tref nie? God het die Babiloniërs, net soos die Assiriërs teen Israel, gebruik om Juda te straf. Jesaja 10:5 Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – ‘n staf is dit in hulle hand. Hierdie wete dat God in beheer is beïnvloed Daniel en sy drie vriende se totale uitkyk op die lewe en hul omstandighede.
Wanneer ons as gelowiges besef dat die omgewing waar ons ons bevind deur God bepaal is, staan ons op soliede grond en kan ons moeilike dinge wat met die kultuur en tydsgees van die omgewing gepaard gaan trotseer – nie as slagoffers nie, maar as oorwinnaars in God se hand. Indien nie sal die vrees vir die goddeloosheid van die mense rondom jou jou ontneem van enige vrede.
Ons sien dit in die voorbeeld van Abraham. In teenstelling met Daniel en sy vriende is Abraham vreesbevange wanneer hy as vreemdeling in Gerar gaan woon. Hy laat Sara voordoen as sy suster sodat die manne van Gerar hom nie doodmaak nie. Die koning van Gerar, Abimeleg, neem haar as sy vrou. God waarsku Abimeleg om nie aan Sara te raak nie en Abimeleg gee Sara aan Abraham terug met Abraham wat die volgende belydenis voor Abimeleg maak. Genesis 20:11 Abraham het geantwoord: “Dit is omdat ek gedink het daar is beslis geen ontsag vir God op hierdie plek nie, en dat hulle my sal doodmaak oor my vrou.
Nuwe kultuur
Daniel en sy drie vriende word saam met ander jongmanne van Israel, ongeveer 14 of 15 jaar oud, oorgegee aan Aspenas die owerste van die hofdienaars. Hier sou hulle indoktrinasie begin met onderrig wat sou insluit Galdese taal, gewoontes, kultuur en godsdiens. Die koning bepaal wat hulle moet eet en drink en hulle kry ook nuwe heidense name. Hier volg die betekenis van hulle Joodse name en wat hulle nuwe name beteken het:
Ou name:
- Daniel: God het geoordeel.
- Hanania: Jahwe is genadig.
- Misaël: Wie is soos God?
- Asaria: Jahwe het gehelp.
Nuwe name:
- Daniël → Beltsasar: Bel beskerm sy lewe of Dienaar van Bel. Bel was ʼn afgod.
- Gananja → Sadrag : Bevel van Aku of Dienaar van Aku. Aku was ʼn afgod.
- Misaël → Mesag : Wie is soos Aku?
- Asarja → Abednego: Dienaar van Nebo. Nebo was ʼn afgod.
Al is daar verskille onder kenners oor wat die name kon beteken is dit duidelik dat die name verander is om dit te koppel aan die afgode van die land. Hulle moes Jerusalem en alles daar vergeet en totaal deel word van Babel en sy godsdiens. Tog is dit opmerklik dat Daniel en sy vriende geen probleem gehad het dat hulle name verander is of dat hulle onderrig onder die Babiloniërs moes ontvang nie. So kan ons ook sien dat die ouers van Moses toegelaat het dat, nadat hy gespeen is, hy in die farao se huis onderrig ontvang het. Ook sy naam is deur die Farao se dogter gegee. So word Josef se naam ook verander deur die farao. Genesis 41:45 “Die farao het Josef die naam Safenat-Paneag gegee, en hy het Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, aan hom as vrou gegee. Josef het Egipteland deurreis.” Baie gelowiges is bang om hulle kinders deur wêreldse onderwysers te laat onderrig. Tog kan ons uit hierdie jongmanne en ook uit Moses se lewe sien, dat as ons ons kinders by die huis in die weë van die Here onderrig en as ouers getrou is, hierdie kinders groot sal word om vir die Here te lewe. Baie kinders draai weg van God nie a.g.v. die skool of die universiteit nie, maar a.g.v. ouers wat maar net ʼn tipe godsdiens beoefen en nie toegewyd aan die Here is nie. Hier help dit nie om wetties te wees en baie reëls vir jou kinders voor te hou nie. Die kind tel baie vinnig op of die ouer opreg is en werklik glo wat hulle bely en of dit maar net ʼn “godsdiens” is, sonder ware oortuiging en geloof. Enige kompromie in die huis sal die kind se geloofslewe ernstig benadeel. Hiermee saam kan die ouer altyd met vertroue op God sy kind onderrig wetende dat: juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. Filippense 1:6.
Die kultuur en onderrig is dus nie die probleem nie ons hoor selfs Paulus sê dat hy vir ʼn Jood ʼn Jood geword het en vir ʼn Griek soos ʼn Griek om mense vir die evangelie te wen.
Sonde teen God
Die oomblik toe daar egter van Daniël en sy vriende gevra word om iets te doen wat in stryd was met die gebooie van God en sy opdragte het hulle nie toegegee nie en daarteen in opstand gekom. Dit is dieselfde voorbeeld wat ons as gelowiges moet volg.
Daniël wou hom nie verontreinig met die kos en wyn wat die koning gedrink het nie. Die rede hiervoor is dat die kos van die koning aan afgode toegewy was en daarom volgens God se wet nie geëet mag word nie. Die tweede rede is dat baie van die diere wat die koning sou eet onrein vir die Jode was volgens Levitikus. Die rede waarom Daniël dus opstaan is nie a.g.v. menslike tradisie of sy eie voorkeure of afkeure nie, maar omdat God se wet dit vereis het. Daniël gaan eerste na die toesighouer van die paleisamptenare om te vra vir ʼn toegewing rakende die kos wat hy moes eet. Weereens sien ons dat God in beheer is van alles en die toesighouer gunstig maak teenoor Daniël. Daniël 1:9 God het gesorg dat daar by die toesighouer oor die paleisamptenare ‘n goeie gesindheid en ontferming was teenoor Daniël. Ons sal onmiddellik dink dat hy Daniël se wens sal toestaan en tog vertel hy aan Daniel dat hy bang is vir die koning. Daniël wend hom dan na die oppasser wat die toesighouer aangestel het oor hom, Ganaja, Misael en Asarja. Hy stem in om hulle vir tien dae te toets. Hier moet ons besef dat die uitslag van hulle toets ʼn wonderwerk was uit God se hand en nie, soos sommige reken, a.g.v. ʼn goeie dieet wat ons ook moet volg nie. Die teks sê dat hulle gesigte vetter was, wat beteken dat hulle gewig opgetel het. Dit sou beslis nie plaasgevind het as hulle net groente geëet het vir tien dae nie. Hierdie bevestig ook hierdie jongmanne se geloof in God wat die onmoontlike moontlik kon maak. Weereens word God se hand in hierdie verhaal beklemtoon. Daniel sou later ʼn gewone dieet gevolg het. Daniël 10:2-3 In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Aangename kos het ek nie geëet nie, en vleis en wyn het by my mond nie gekom nie. Ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke verby was. Dus het dit nie te make met die dieet wat hulle gevolg het nie maar God wat ʼn wonderwerk laat plaasvind het.
Slot
Wanneer ons besef dat God in beheer is van ons situasie en omstandighede, kan ons moed en vertroue hê dat alles ten goede sal uitwerk vir ons siel. Niks sal met ons gebeur wat God nie alreeds bepaal het nie en ons weet volgens Romeine dat Hy alles laat meewerk ten goede vir diegene wat Hom liefhet. Ons kan inskakel by die nuwe kultuur en taal en onderrig. Daniël en sy vriende is definitief bekend gestel aan die afgode en gelowe in Babel. Om van Islam, Hindoeïsme en ander gelowe te leer is nie verkeerd nie, in teen deel, vir ʼn kind wat alreeds geanker is in sy geloof in God Drie-Enig, kan dit help om mense van ander gelowe te bereik omdat jy die swak punte in hul wêreldbeskouing kan uitwys. Wanneer die kultuur egter van my iets verwag wat teen God se Woord is en ek daarin kompromieë maak, is dit sonde. Ek dink byvoorbeeld aan vieslike, godslasterlike boeke wat in die skool vir literatuurstudie voorgeskryf word, die “cross dressing” wat as pret in die skool verwag word, wanneer studente geforseer word om as eerstejaars aan drinkpartytjies deel te neem of ander perverse dinge te doen, dan staan die Christen op en weier. Nie omdat dit hulle nie pas nie, maar omdat God dit verbied en hulle meer vrees vir God het as vir wat die juffrou, skoolsisteem of groepsdruk aan jou kan doen. Binne jou goddelose omgewing kan jy dien en leef en getuig. Jy hoef nie teen elke prikkel te skop omdat dit jou grief nie. Baie mense is in oproer as hulle ʼn dorp se naam wil verander en alhoewel jy nie daarvan hoef te hou nie, kan jy dit maar die nuwe naam noem. Dit waarvoor jy moet opstaan is God en sy gebooie en jy sal in die goddelose kultuur waarin God jou geplaas het, skyn soos ʼn helder lig.
