Inleiding
In die afsluiting van die boek Openbaring wil Johannes die erns van hierdie laaste boodskap beklemtoon. Hy het alles gesien en daarvan getuig. Dit is dus die waarheid en niemand mag daarvan wegneem of iets daarby voeg nie. Die einde is naby en diegene wat wil heilig lewe moet die met nog meer erns doen, want die tyd is min. Diegene wat rein gewas is in die bloed van Jesus Christus sal beloon word en kan by die poorte van die nuwe Jerusalem ingaan. Jesus Christus is die begin en die einde van alles en slegs deur Hom is toegang gewaarborg. Dan die uitroep van elke gelowige: “Here Jesus, kom!”
Die Hemelse heerlikheid
Johannes bevestig dat hy die skrywer is van die boek Openbaring; hy wat alles gesien en gehoor het. Net soos met die bruilof van die Lam, wil hy, oorweldig deur die glorie van wat hy sien, in aanbidding neerval voor die engel. Om die heerlikheid van die hemelse te sien bring die gelowige altyd in aanbidding. Die engel wys hom onmiddellik tereg dat net God aanbid moet word. In ons verwondering van God se skepping en skepsels op aarde moet ons nooit die skepping i.p.v. die Skepper aanbid nie. Hierdie engel was maar slegs ʼn boodskapper. Dit is iets waarteen die gelowige altyd moet waak, nl. dat daar nie ʼn ophef gemaak word van die boodskapper nie. Paulus waarsku die Korintiër gemeente aangaande hierdie verering van die verkondigers van die Woord. Hulle het hulleself in groepe verdeel en sommige het Paulus aangehang en ander Apollos. 1 Korintiërs 3:5 “Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het.” Met die nuwe hemel en aarde en die heerlikheid wat ons daar sal ondervind sal net God aanbid word en alle lof en eer ontvang. So is dit ook belangrik om daarop te let dat kerke wat bely dat Jesus maar net ʼn engel is nie korrek kan wees nie, aangesien Jesus, die Lam in Openbaring, op verskeie plekke aanbid word. Die aanbidding van Christus in Openbaring is dus ook ʼn getuienis dat Hy werklik God is.
Profesieë
In Daniel ontvang Daniel die opdrag dat sy profesie verseël moet word aangesien die tyd van die profesie vir die verre toekoms sal wees.
- Daniël 12:4 En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder.
- Daniël 12:9 Daarop het hy geantwoord: Gaan, Daniël! Want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde.
In teenstelling hiermee moet Openbaring onverseël bly aangesien die tyd alreeds begin het. Dit kan ons baie duidelik sien in die beeld wat Johannes sien in Openbaring 12 met die geboorte van Christus. Openbaring 12:5 “Sy het geboorte geskenk aan ‘n manlike kind, bestem om al die nasies met ‘n ysterstaf te regeer. En haar kind is weggevoer na God en sy troon.” Met Christus se koms het ons in die finale toneel in beweeg en met sy Hemelvaart in die laaste dae. Met Christus se koms begin die vervulling van Daniël se profesieë en met die neerskryf van die Nuwe Testament is die profesieë van Daniël nou ten volle verstaanbaar.
Goddeloos teenoor Heilig
Openbaring 22:11 gaan voort om te bou op Daniël 12:10. Ons sien hoe hierdie afsluiting van Openbaring korreleer met die van die afsluiting van Daniël. Daniël 12:10 “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar goddeloses sal goddeloos optree. Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.” Die opdrag dat die wat goddeloos is moet aanhou goddeloos wees en die wat regverdig is nog meer regverdig word klink vreemd in ons ore. Hoe kan daar ʼn boodskap wees dat die goddelose maar moet voortgaan in hulle goddeloosheid? Hierdie uitdrukking stem ooreen met die van Jesaja, wat Jesus ook aanhaal teenoor die mense van sy dag. Jesaja 6:9-10 “Hy het gesê: Gaan sê vir hierdie volk, Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie. Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!” Dit stem ook ooreen met God se boodskap aan Esegiël wat hy aan die volk moes verkondig. Esegiël 3:27 “Maar wanneer Ek met jou praat, sal Ek jou mond oopmaak. Dan moet jy vir hulle sê, So sê my Heer, die Here. Wie luister, sal luister, en wie verseg om te luister, sal verseg om te luister, want hulle is ‘n rebelse huis.” Net soos God se plae wat Hy oor Egipte gestuur het die Farao verhard het, net so sal die plae wat hy in die laaste dae stuur mense verhard eerder as om hulle tot inkeer te bring. Baie in die kerk, net soos in Israel , het hulle nie bekeer op God se waarskuwings en boodskappe nie. Nou bring Johannes die boodskap na hierdie hoorders wat hulle nie wil bekeer nie om net voort te ploeter in hulle goddeloosheid met die wete dat God hulle sal beloon in ooreenstemming met hulle dade.
Daarenteen word die gelowiges opgeroep om ʼn strewe te hê om nog meer geregtigheid te beoefen en om nog meer heilig te lewe. Die gelowige is altyd besig om te strewe na ʼn heiliger lewe. Ons meet ons nie aan die wêreld en selfs nie aan ander gelowiges nie, nee, ons maatstaf is Christus en daarom is daar altyd ʼn voortgesette hunkering om nog meer soos Hy te wees. 2 Korintiërs 3:18 “En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.” Hierdie aanhoudende wandelinge in heiligheid word verder uitgedruk met die oproep om hulle klere te was. Die vraag kan maklik gevra word of Openbaring en die res van die Bybel nie aan ons vertel dat die wassing in die bloed van die Lam is nie. Openbaring 7:14 Ek het hom geantwoord: Meneer, u is die een wat weet. En hy het vir my gesê: Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. Waarom word ons opgeroep om aanhoudend ons klere te was? Openbaring 22:14 “Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan” Hierdie opdrag is soortgelyk aan die brief van Jakobus wat sê dat as ons bely dat ons geloof het dit sigbaar moet wees uit ons werke. Daarom is werke en geloof onlosmaaklik deel van mekaar. Ons wassing het eenmaal plaasgevind en tog is daar ook ʼn daaglikse aflê van die oue en die aantrek van die nuwe. Efesiërs 4:22-24 “…naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.” Daarom sê Openbaring ook dat hierdie klere wat ons dra die regverdige dade van die heiliges is. Openbaring 19:8 “En sy is toegelaat om blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges.” Die res van die mense wat in ongeregtigheid bly voortleef word vergelyk met die honde, wat onrein diere was, wat buite die stad sal wees.
Hy kom!
Dit word weereens bevestig dat die boodskap van Openbaring van Jesus af kom en dat in Hom die Ou Testament sy vervulling het wanneer daarna verwys word dat Hy die wortel uit die geslag van Dawid en die môrester is.
- Numeri 24:17 “Ek sien hom, maar dit is nie nou nie, ek neem hom waar, maar hy is nie naby nie. ‘n Ster uit Jakob tree na vore, ‘n heerserstaf uit Israel verskyn; hy verbrysel die slape van Moab, en vernietig al die kinders van Set.”
- Jesaja 11:1-2 “Maar ‘n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die gees van die Here sal op hom rus – die gees van wysheid en insig, die gees van raad en sterkte, die gees van kennis en ontsag vir die Here.”
Die gelowiges, die bruid en die Gees het ʼn afwagting en roep dat die Here moet kom. Elke gelowige het hierdie afwagting en begeerte na die koms van die Here en dit word versterk deur die werking van die Heilige Gees wat ook in ons harte uitroep na die koms van die Here. Hoe kan die gelowige glo dat dit wat die profesieë voorspel waar sal word sonder ʼn smagting na daardie dag? Openbaring beeld hierdie dag uit met heerlikheid en vreugde wanneer dit die Nuwe Hemel en Aarde en die Bruilof van die Lam uitbeeld. As ʼn bruid binnekort gaan trou en daar is nie ʼn opgewondenheid by haar nie sal ons beslis en tereg dink dat daar fout is. Hoe kan jy sê dat die koms van die Here ʼn werklikheid is en jy ʼn afwagting het om met Hom verenig te word, maar jy fokus op die tydelike en wêreldse dinge. Openbaring maak dit aan die gelowige duidelik dat ons die tyd op aarde ʼn tyd van stryd en erge vervolging sal wees. Dit is duidelik ook ʼn tydperk van stryd teen die satan, sy magte, die Antichris en al sy volgelinge. Dit moet ʼn verdere dringendheid en verlangende uitroep by elke gelowige te weeg bring: “Kom Here, kom vinnig!” Elkeen wat dors het moet kom drink by die fontein van lewende water en dit verniet. Jesaja 55:1 Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Net soos die vrou by die put sal jy ook die vreugde ontvang wat in jou opborrel en veroorsaak dat jy in jou dorp sal leef met die boodskap: Kom kyk! Ek het die Messias gevind.
Hy beveel en dit staan vas
In die tyd waarin ons lewe is daar geen tyd vir speletjies nie. Ons het nie die luukse om as slawe die Bevelvoerder en aanvoerder van die leërmagte se Woord te bevraagteken nie. Hy is die alfa en die Omega. Romeine 4:17 “soos daar geskryf staan: Ek het jou die vader van baie nasies gemaak – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep.” Hoe durf die mens, ʼn blote wurm, Sy woorde verander of iets daaraan toevoeg. Hierdie is dieselfde waarskuwing wat God alreeds in Deuteronomium gemaak het. Deuteronomium 4:2 “Julle mag niks byvoeg by alles wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan weglaat nie. Kom die gebooie van die Here julle God, na wat ek julle beveel.” Geen mens mag op enige plek die Skrif verander of ʼn woord daarby voeg nie. Hoe arrogant is predikante en pastore wat dink dat hulle beter weet as die lewende God en in hulle eie wysheid dink dat hulle die Lewende God kan voorskryf volgens wat hulle dink reg of verkeerd is!? As jy byvoeg sal die plae wat in hierdie boek geskrywe is tot jou lewe bygevoeg word en as jy weglaat sal jou aandeel van die Boom van die Lewe en die heilige stad weggeneem word. Die Boom van die Lewe is die korrekte vertaling in teenstelling met die 1953 vertaling wat praat van die Boek van die Lewe, wat nie volgens die oorspronklike in Grieks reg is nie. Niemand wie se naam in die Boek van die Lewe geskrywe is, se naam sal ooit daaruit gewis word nie.
Slot
Die brief sluit af met Christus wat aan sy hoorders die belofte gee dat Hy gou sal kom en elke gelowige wat hierop antwoord deur te vra dat Hy gou sal kom. Weereens word die afwagting van die bruid op die bruidegom beklemtoon. Tot die dag wanneer Hy weer sal kom kan ons seker wees dat sy genade met ons sal wees in alle omstandighede. Die genade word uitgespreek omdat die gelowige genade van God nodig het om hierdie brief, soos ook elke gedeelte van die Skrif, te verstaan en te gehoorsaam. Jesus sê aan sy volgelinge op verskillende tye dat diegene wat tot die einde toe volhard gered sal word. Die laaste van hierdie uitsprake word gemaak aan die einde van sy bediening wanneer Hy sy volgelinge waarsku dat daar baie lyding sal wees, valse profete sal kom en dat die harte van baie mense sal verkoel. Matteus 24:9-13 “Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot ‘n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.” Moet nooit jou vertroue in jou eie krag, vindingrykheid of kennis plaas nie. Sit jou vertroue in Hom en lewe in gehoorsaamheid aan Sy Woord. Hy belowe dat Hy die werk wat Hy in jou begin het tot die einde sal volhou. Filippense 1:6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.
