Samuel het as leier en profeet van Israel opgetree, en toe hy oud geword het, het hy sy seuns as leiers oor Israel aangestel. Maar hulle het nie die regte dinge gedoen soos hy nie. Hulle het hulle deur mense laat omkoop en het die reg verdraai.
Die oudstes van Israel het by Samuel gekom en vir hom gesê:
“Jy is oud, en jou seuns doen nie wat reg is nie. Gee vir ons ’n koning om oor ons te regeer, soos wat al die ander volke het.”
Samuel was ongelukkig omdat hulle vir n koning gevra het en het tot
die Here daaroor gebid. Die Here het gesê:
“Gee vir hulle wat hulle vra, maar waarsku hulle wat dit sal beteken om ’n koning te hê.”
Samuel het vir die volk gesê:
“Die koning sal julle seuns vat om in sy weermag te dien. Hy sal julle dogters gebruik as huisbediendes en bakkers. Hy sal julle grond neem en julle daarop belasting laat betaal. Julle sal later spyt wees.”
Maar die volk het gesê:
“Nee! Ons wil ’n koning hê!”
Toe sê die Here vir Samuel:
“Luister na hulle. Gee vir hulle ’n koning.”
Saul was n jong man uit die stam van Benjamin. Op n dag was hy op soek na sy pa se donkies toe Samuel hom raakloop. Die Here het vir Samuel gesê:
“Dit is die man wat jy as koning moet salf.”
Samuel het Saul geneem, olie oor sy kop uitgegiet en gesê:
“Die Here het jou as koning gesalf oor sy volk Israel.”
