Inleiding
Wanneer ons aan water dink, dink ons aan lewe. Vergelyk maar in jou verbeelding ʼn woestyn met ‘n groen, waterryke vallei. Aan die woestyn kant sien jy stof, dood, moeilike tye en hongersnood, terwyl jy aan die rivier kant bome, vrugte, voorspoed en oorvloed sien. Hierdie hoofstuk begin met die uitbeelding van water wat uit die troon van God vloei en dadelik kom die beeld van lewe, seën, reinheid en voorspoed na vore. Sonder water is lewe onmoontlik en selfs vandag wanneer wetenskaplikes soek na lewe op ander planete is die voorkoms van water een van die vereistes. God is lewe.
Lewende water
Hoofstuk 22 begin met die vervulling van die profesie aan die einde van Esegiël aangaande die tempel, nl. dat water uit die tempel in Jerusalem sal vloei. Dit is ʼn tempel met geen hoogte afmetings nie en dus nie ʼn fisiese tempel wat ooit gebou sal word nie. Esegiël 47:1 Die man het my teruggeneem na die ingang van die tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. So word hierdie profesie ook in Sagaria en in Joel bevestig.
- Sagaria 14:8 In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees.
- Joël 3:18 Op daardie dag sal die berge drup van die sap van druiwe, en die heuwels sal vloei van melk, en al die spruite van Juda sal stroom van water. ‘n Fontein sal uit die huis van die Here vloei, en dit sal die Sittimdal natlei.
Hierdie beeld van ʼn rivier kan nog verder as die profesieë terug geneem word na die tuin van Eden. Genesis 2:10 ‘n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. God sal aan die einde herstel bring sodat ons weer, soos aan die begin, saam met God sal wandel in ʼn Eden wat totaal herskep is.
Die water wat sal uitvloei, vloei uit die Vader en die Seun wat dan ook die tempel sal wees. Die water word genoem ‘Lewende Water’ wat soortgelyk is aan die vergelyking in Johannes. Johannes 7:38-39 Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Die strome van lewende water in die Skrif is dus ʼn verwysing na die werk van die Heilige Gees en ook van die uitstuur van die Heilige Gees vanaf die Vader en van die Seun. Dit is soortgelyk aan die belofte wat Jesus aan die vrou by die put maak as sy van die water sou drink wat Hy aan haar gee. Johannes 4:14 maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.
Die water is so helder soos kristal wat die suiwerheid van die water aandui en hoe die water die mens wat die Hemel sal beërwe reinig sodat hy/sy in Christus geen vlek of rimpel sal hê nie. Die rivier word in die Grieks uitgebeeld as die plek waar die hoofstraat is en dus is die rivier die enigste pad vanaf en na God en die Lam. So vertel Jesaja dat daar geen onreine op hierdie pad sal wandel nie. Jesaja 35:8 Daar sal ‘n gebaande weg, ‘n pad wees; Die heilige pad sal dit genoem word. Onreines sal nie daarop verbygaan nie; maar dit sal vir dié wees wat op die pad hou. Sotte sal nie daar ronddwaal nie. Daar is net een weg tot die Lewe saam met God en die Lam. Daar sal dus ʼn ewige gemeenskap wees tussen God en mens in die ewige tuiste.
In Esegiël, as daar van die rivier van water wat uit die tempel vloei gepraat word, word gewys hoe die rivier se vlak styg, hoe verder die profeet langs die rivier loop en in die water inbeweeg. Eers is dit tot by die enkels, dan heup diepte en dan so sterk dat jy daarin kan swem en ʼn stroom wat nie oorgesteek kan word nie. Die evangelie wat deur die werking van die Heilige Gees sou uitgaan op Pinksterdag sou maar met ʼn klein groepie mense begin, maar sou uitgaan in krag om ʼn magdom mense eendag voor die troon te laat staan. Jesus vertel aan sy volgelinge die gelykenis van die mosterdsaad wat die kleinste van die sade in die tuin is en so ʼn groot boom word dat die voëls van die Hemel daarin nes sal maak. So sal hierdie water waarvan Esegiël profeteer, in die see vloei en die see water vars maak, sodat baie visse daarin kan leef. Dit is dan ʼn uitspraak van wat in die Kerk van Christus sal plaasvind en hoe sondige mense rein sal word en uit alle volke sal aansluit by hierdie Kerk.
Die Boom van die Lewe
Aan beide kante van die rivier sal die Boom van die Lewe groei. Hierdie boom het gegroei in Eden, maar as gevolg van die sonde van Adam en Eva is hulle uitgedryf sodat hulle nie dalk van die Boom van die Lewe sou eet en vir ewig sou leef nie. Hierdie boom gee jou die ewige lewe indien jy van sy vrugte eet. In die nuwe hemel en aarde sal die gelowige deel hê aan die boom van die lewe en sal ons van sy vrugte geniet en nooit die dood sien nie. Hierdie boom is ook ʼn verwysing na Christus waardeur ons nou alreeds gevoed word. Johannes 6:51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld. So belowe Hy ook aan Martha met die dood van haar broer, dat dié wat in Hom glo nooit sal sterf nie. Johannes 11:25-26 Jesus het vir haar gesê: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit? Die boom sal nou nie meer net in een seisoen vrug dra nie, maar elke maand. So sien ons in Openbaring dat elke belofte in die Skrif sy ja en amen in Christus het. 2 Korinthiërs 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja; daarom sê ons deur Hom amen aan God, tot sy eer. Elke gelowige moet sy vreugde en rus nou alreeds in die boom, Christus vind. Kyk net hoe wonderlik druk die Psalmdigter hierdie verhouding wat ons met Hom het uit. Psalms 1:2-3 maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy. Ons het nou alreeds deel van die boom van die lewe, maar eendag sal ons dit ten volle hê, fisies en geestelik. Ons sal uit die Boom van die Lewe, naamlik Christus, vir ewig gevoed word en uit Hom sal ons ook vir ewig lewe.
Die Boom van die Lewe se blare is ook tot genesing wees vir die nasies, nou alreeds in ʼn geestelike vervulling, maar eendag ook in ʼn fisiese realiteit soos daar van die troon af aangekondig word in Openbaring. Openbaring 21:4 Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan. Daar sal dus geen vloek meer wees nie.
Sonder sonde
Ons as die slawe van Christus sal in die nuwe hemel en aarde die Here dien. Die woord in die Grieks vir dien is λατρεύω(latreuo) wat dien in ʼn godsdienstige wyse of aanbidding
beteken. Die nuwe hemel en aarde sal ʼn plek van aanbidding en lofprysing wees voor die aangesig van God. Baie het die idee dat hulle Hemel toe wil gaan, maar het geen begeerte om God te aanbid en te prys op aarde nie. Die Hemel waarna baie uitsien is bloot ʼn voortsetting van hulle eie, aardse begeertes en het niks te make met dit wat die Bybel aan die gelowige belowe nie. In teenstelling sien die gelowige uit daarna om met ʼn nuwe liggaam, wat nooit moeg word, geen tekortkoming het en geen sonde meer doen nie, die Here te loof en te prys. In hierdie “nuwe” sal ons die Here se aangesig sien. Nou sê Paulus sien ons maar gebrekkig maar eendag ten volle. 1 Korinthiërs 13:12 Nou sien ons wel ‘n geheimnisvolle beeld, soos in ‘n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is. So word ook deur Johannes aan ons openbaar dat ons soos Christus sal wees en Hom sal sien soos Hy is. 1 Johannes 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. Dat ons sal wees soos Hy is, veronderstel nie dat ons ook ʼn god sal wees nie, aangesien dit ook duidelik is vanuit die teks in Openbaring dat ons slawe van Hom sal wees. Ons sal egter hier in die nuwe Eden, soos Hy, sonder sonde wees en dus die vermoë hê om saam met Hom te wandel soos Adam en Eva in die tuin. Hoe wonderlike sal dit nie wees as ons Hom sien soos Hy werklik is nie. Ons verwonder ons nou alreeds in die prag van Sy skepping, hoe wonderbaar sal Hy self nie wees nie!? Hier sal elke gelowige gemerk wees met Sy Naam op hulle voorhoofde. Ons is sy eiendom wat gemerk is deur God en die Lam. So belowe God aan ons in Efesiërs dat die Heilige Gees alreeds aan die gelowige gegee is as ʼn waarborg dat ons sy eiendom is. Efesiërs 1:14 Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. In die nuwe hemel en aarde sal God se lig permanent oor ons skyn en daar sal nooit weer donkerte wees nie. Hier sal elke gelowige nou vir ewig en altyd as konings regeer. So word dit ook deur Petrus, deur die Gees gedrywe, aan die gelowige belowe dat ons nou alreeds God se eiendom en konings is. 1 Petrus 2:9 Julle, egter, is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige nasie, ‘n volk wat aan God behoort, sodat julle die deugde kan verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig. Nou gebrekkig maar eendag ten volle, wanneer die geestelike sowel as die fisiese nuut gemaak sal wees.
Hou vas
Alles wat God in Openbaring belowe sal waar word net soos elke profesie van die profete waar geword het. So vertel Petrus dat geen profesie in die Bybel ooit deur die wil van ʼn mens voort gebring is nie. 2 Petrus 1:21 Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is. Ons weet dus dat elke belofte wat God maak waar sal word. Die gelowige het ʼn berusting in Christus as hy die Woord lees, aangesien Hy weet dat dit nie mense woorde is wat van een situasie na die ander kan verander nie. Die gelowige word dus opgeroep om in afwagting op hierdie beloftes te wag, want dit kom gou. Verder moet ons vashou aan die profesie wat in die boekrol geskrywe is. Dit beteken dat ons moet vashou aan elke woord wat in die Skrif staan. Jesus sê aan sy volgelinge dat daar nie ʼn jota of titel van die wet tot niet sal gaan nie tot alles vervul is nie. Matteus 5:18 Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is. Die belofte in vers 7 is dat as ons aan die woorde vashou ons gelukkig sal wees. Hoeveel mense verloor hulle vreugde in hierdie lewe juis omdat hulle nie vashou aan elke Woord in die Skrif nie. Hulle word goed uitgebeeld deur Jakobus. Jakobus 1:6 Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. So is God se beloftes vir elke gelowige ʼn anker vir sy siel. Hebreërs 6:17-18 Omdat God vir die erfgename van die belofte nog soveel sekerder wou aantoon hoe onveranderlik sy besluit was, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, ‘n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê.
Slot
Die nuwe Hemel en aarde is ʼn plek van lewe en dit in oorvloed. Dit is God se belofte aan elke gelowige. Soms raak hierdie lewe so donker en die geraas om ons so oorverdowend dat dit God se beloftes laat vervaag soos ʼn fluistering in die wind. “Wanneer dan Here?”, is dikwels ons vraag. Sy beloftes is waar en Hy belowe dit kom gou! Hou daarom vas aan Sy Woord en sien uit na die Nuwe Hemel!
