God roep vir Samuel.

Die seun Samuel het die Here gedien onder Eli. Die woord van die Here was in daardie dae skaars.

Een nag, terwyl Samuel slaap, het die Here na Samuel geroep en hy het geantwoord:

“Hier is ek!”

Hy het na Eli gehardloop en gesê:

“Hier is ek, want u het my geroep.”

Eli het egter gesê:

“Ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap maar weer.”

Die Here het weer geroep: “Samuel!”

Samuel het opgestaan en na Eli gegaan en gesê:

“Hier is ek, want u het my geroep.”

Eli het weereens gesê:

“Ek het nie geroep nie my seun. Gaan slaap weer.”

Samuel het die Here nog nie geken nie en die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie.

Die Here het Samuel die derde keer geroep. Soos die vorige kere het hy gedink dit is Eli wat hom roep en na hom toe gegaan.  Nou het Eli verstaan dat dit die Here was wat vir Samuel geroep het.

Hy het toe vir Samuel gesê:

“Gaan lê, en as Hy jou weer roep, sê dan: ‘Spreek, Here, want u dienaar luister.’”

Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep:

“Samuel! Samuel!”

Samuel het gantwoord soos wat Eli vir hom gesê het:

“Spreek, want u dienaar luister.”

God het aan Samuel vertel dat Hy Eli se hele huis sou straf as gevolg van hulle sonde.

Samuel het bly lê tot die oggend en was bang om dit aan Eli te vertel wat die Here vir hom gesê het.

Eli het vir Samuel gevra:

“Wat is die woord wat die Here met jou gespreek het? Moenie dit vir my wegsteek nie.”

Samuel het hom toe alles vertel en niks vir hom weggesteek nie.

Eli het gesê:

“Hy is die Here. Laat Hy doen wat goed is in sy oë.”

Samuel het grootgeword. Die Here was met hom en het al Sy woorde vervul. En die hele Israel, van Dan tot Berseba, het geweet dat Samuel ’n profeet van die Here was.