Openbaring 21:9-27. Die nuwe jerusalem

Inleiding

Die gedeelte begin met ʼn soortgelyke beeld as in hoofstuk 5 waar Johannes hoor van die Leeu van Juda wat waardig sal wees om die boekrol oop te maak en dan as hy die leeu soek sien hy  ʼn lam. Openbaring 5:5-6 “Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak. En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan.” Hier hoor hy van die bruid en dan sien hy die heilige stad Jerusalem. Dus sal hierdie beeld van die nuwe Jerusalem ook die bruid aan ons uitbeeld en daarom gaan ons elke deel van die metafoor ondersoek, want ons, die Kerk, is die bruid.

Die Nuwe Jerusalem

Die engel wat aan Johannes die oordeel van die hoer gewys het in hoofstuk 17 is nou die engel wat aan Johannes die bruid vertoon. Die hoer word gevind in die woestyn terwyl die bruid uit die Hemel neerdaal. In teenstelling met die hoer, die wat ongehoorsaam was aan God en die wêreld en sy begeertes nagejaag het, word ons nou die getroue gelowiges getoon. Dit is diegene wat deur al die vervolging en bespotting getrou gebly het aan die bruidegom, die Lam. Ons sal ook vind dat net soos die hoer geklee was in rykdom, so is die bruid ook geklee in weelde. Babilon was die plek van handel en die soeke na aardse rykdom terwyl die nuwe Jerusalem uitgebeeld word as ʼn plek waar die alledaagse, nl. die strate en mure suiwer goud is. Vir my is die metafoor aangrypend as ons sien dat dit wat die mens as die allerbelangrikste nagejaag het,  nou so alledaags is dat die gelowige daarop loop. Verder word die pêrels van die hoer en die pêrels waarmee in Babilon handel gedryf is nietig en waardeloos uitgebeeld in vergelyking met die poorte van die muur wat elk uit ʼn pêrel opgemaak is.  Openbaring 21:21 En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas.

Die nuwe Eden

Die nuwe Jerusalem word ook vergelyk met Eden wat op ʼn berg was en waardevolle stene gehad het. Esegiël 28:13-14 In Eden, die tuin van God, daar was jy. Jy was bedek met alle soorte edelstene: karneool, topaas, akwamaryn, chrisoliet, oniks, jaspis, lasuursteen, malagiet en smarag. Van goud was die insetsels en graverings aan jou bedekking. Die dag toe jy geskep is, was dit gereed by ‘n glansende gerub met vlerke wat beskutting bied. Ek het jou daar geplaas; op die heilige berg van gode was jy; tussen klippe van vuur het jy rondgestap. In hierdie stad sal die heerlikheid van God die lig wees. Sy heerlikheid sal nou in die hele stad wees en nie net meer in die tempel soos in die Ou Testament nie. Jesaja profeteer dat God se heerlikheid die lig sal wees vir sy mense. Jesaja 60:19-20 Vir jou sal die son nie meer daar wees as ‘n lig bedags nie, en die maan sal nie as ‘n helder lig vir jou skyn nie. Die Here sal as ‘n ewige lig daar wees, en jou God as jou roem. Jou son sal nie weer  ondergaan nie, en jou maan sal nie verdof nie; want die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jou routyd sal verby wees. Die heerlikheid van God is sy teenwoordigheid in die heilige stad. Net soos Johannes vir ons vertel dat Jesus tussen die mense op aarde kom woning maak het en ook dat hulle sy heerlikheid aanskou het, net so sal God kom woning maak by sy kinders en sal sy heerlikheid vir ewig by hulle wees. Johannes 1:14 En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun  van die Vader – vol genade en waarheid. Elke steen wat Johannes noem is ʼn steen wat lig absorbeer en verhelder en weer uitstraal. Dink maar aan die ligbreking van ʼn diamant, wat die bekendste aan ons is. Dit is moeilik om in woorde om te sit wat jy sien as ʼn ligstraal ʼn diamant tref – skitterend!  Alles in die nuwe stad sal God net nog meer verheerlik.

Die poorte

Dan word ʼn hoë muur om die stad gewys wat twaalf poorte het. Daar is engele by die poorte wat ons herinner aan wat Jesaja belowe rakende die nuwe Jerusalem. Jesaja 62:6 Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ‘n oomblik lank  swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie!  Nie enige iemand sal dus in hierdie stad kan ingaan nie en daarom sal ons ook later getoon word dat net diegene wie se name in die Boek van die Lewe van die Lam is daarin sal wees. Openbaring 21:27 En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam. Net soos geen afstammeling van die eerste Adam na die sondeval in Eden toegelaat is nie en dit bewaak is met gerubs of engele, so sal net diegene wat deur die tweede Adam geklee is kan ingaan in die nuwe Eden. Die twaalf poorte sal die name van die twaalf stamme van Israel hê wat daarop geskrywe is. Johannes sien dat daar drie poorte aan die Suide, Noorde, Weste en Ooste kant is. Dit is soortgelyk met wat ons vind in die woestyn na die uittog van Israel uit Egipte. Die Israeliete kry die opdrag dat hulle laer moet opslaan rondom die tent van samekoms of die tabernakel waar God se teenwoordigheid was. Oos: Die stam van Juda, saam met Issaskar en Sebulon, die rigting waar die son opkom en waar die ingang van die tabernakel was (Numeri 2:3-9). Suid: Die stam van Ruben, saam met Simeon en Gad (Numeri 2:10-16). Wes: Die stam van Efraim, saam met Manasse en Benjamin (Numeri 2:18-24). Noord: Die stam van Dan, saam met Aser en Naftali (Numeri 2:25-31).

Die nuwe tempel

Die tempel in die Ou Testament, spesifiek die allerheiligste was die plek waar God was. Slegs die Hoëpriester mag hier ingegaan het. Die tempel in die Nuwe Testament is die Kerk en  spesifiek elke gelowige, wanneer God deur Sy Gees in ons woning maak. Die Nuwe Jerusalem verteenwoordig nou die tempel omdat ons kan sien hoe dit ooreenstem met die Tempel van die Ou Testament. Die hoë muur wat rondom die stad is, is een so ʼn bevestiging. Esegiël 40:5 Kyk, daar was ‘n muur buite reg rondom die tempel. In die man se hand was die maatstok van ses el – hierdie el is ‘n el en ‘n handbreedte. Hy het die breedte van die muur gemeet, dit was een maatstok, en die hoogte was ook een maatstok. Die verdere aanduiding dat hierdie stad die tempel en dan die allerheiligste is, is as ons na die afmetings van die stad kyk en vind dat die breedte en die lengte en die hoogte gelyk is. 1 Konings 6:20 Aan die voorkant was die heiligdom twintig el breed. Dit was twintig el lank en twintig el hoog. Hy het die binnekant met bladgoud oorgetrek… Hierdie tempel sal die plek wees waarin die gelowiges ʼn pilaar sal wees en waarop die naam van God gegraveer sal wees. Openbaring 3:12 Wie oorwin, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. Die lengte en breedte en hoogte is 12000 stadia. Hierdie twaalfduisend herinner ons aan die hoeveelheid mense uit die twaalf stamme van Israel wat gemerk is en deur die wraak van God moes gaan. So word dit ook bevestig met die meet van die muur as ons vind dat dit ook honderd vier en veertig el hoog is, dus twaalf maal twaalf. Die afmetings wys na ʼn tempel en tog sal dit nie ʼn fisiese tempel wees nie aangesien die Lam die tempel is. Openbaring 21:22 ‘n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel.

Twaalf fondamente

Die muur het volgens Openbaring twaalf fondamente. Elkeen van hierdie fondamente het die name van die twaalf apostels. Dit is duidelik vanuit die Skrif dat die apostels die fondasie is waarop die Kerk gebou sou word. Efesiërs 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. Die muur wat die wêreld sal uithou is dus gebou op die apostels, wat aandui dat as iemand nie gehoorsaam is aan die Woord van God nie hy/sy nie die heilige stad sal kan binne gaan nie. Daarom as Petrus met die leiers van die volk en die familiehoofde praat vertel hy aan hulle dat Christus die afgekeurde klip is wat die hoeksteen geword het. Daar is geen ander weg in die nuwe stad nie, geen ander naam is daar gegee in die Hemel en die aarde waardeur ons gered kan word nie. Handelinge 4:11-12 Hy is die klip wat deur julle,  die bouers,  geminag is, en die hoeksteen geword het. Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. Die gelowiges word opgeroep om hulle lewens te bou op die woorde van die apostels en hulle woorde te gehoorsaam. Efesiërs 2:21-22 In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees. Die twaalf fondamente en die twaalf poorte wys ons dat die nuwe inwoners van Jerusalem opgebou sal wees uit mense uit

die oorblyfsel van Israel en mense uit alle volke en tale en nasies, die nuwe kerk.

God se teenwoordigheid en heerlikheid

Die muur van die stad sal wees van Jaspis wat weereens ons aandag daarop vestig dat al die gelowiges, uit die Jode en die heidene,  God se heerlikheid sal weerkaats. Van hierdie glans van die gelowiges word geprofeteer deur Daniel as hy praat van die wederkoms van die Seun van die mens. Daniël 12:3 Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre – vir altyd en altyd. Hier op aarde word ons alreeds opgeroep om God se heerlikheid te weerspieël as ons skyn soos ligte. Filippense 2:16 deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. Eendag sal ons egter ten volle sy heerlikheid weerspieël sonder enige gebrek of tekortkoming.

Die fondamente sal versier wees met edelgesteentes. Elkeen van die edelgesteentes wat genoem word was op die hoëpriester se borsplaat. Eksodus 28:17-20 Jy moet daarop ‘n montering met vier rye edelstene vassit: ‘n karneool, ‘n topaas en ‘n smarag in die eerste ry; in die tweede ry ‘n malagiet, ‘n lasuursteen en ‘n akwamaryn; in die derde ry ‘n hiasint, ‘n agaat en ‘n ametis; en in die vierde ry ‘n chrisoliet, ‘n oniks en ‘n jaspis. Hulle moet met gouddraad versier word in hulle monterings. Agt van die stene is direkte aanhalings van stene in Eksodus en vier van hulle is semantiese ekwivalente. So stem 9 van die stene ook ooreen met die stene in Esegiël wat verwys na Eden soos alreeds genoem. Die twaalf stene op die hoëpriester se borsplaat was dus ook in die allerheiligste wanneer die priester vir die volk voor God ingetree het. Nou is die stene self in die teenwoordigheid van God en weerspieël sy heerlikheid vir ewig en altyd. Nooit weer sal daar ʼn skeiding tussen ons en God wees nie. Nooit weer sal daar ʼn nag wees en donkerte nie. Die donkerte waardeur Jesus aan die kruis moes gaan is eens en vir altyd verby. Matteus 27:45-46 Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: Eli, Eli, lemá sabagtáni? Dit beteken My God, my God, waarom het U My verlaat? Ons as gelowiges wandel nou alreeds in Sy lig en in Sy lig sien ons die lig. Psalms 36:10 Ja, by U is die fontein van lewe, in u lig sien ons lig. In die nuwe Jerusalem sal dit ten volle wees.

Slot

In Genesis wil die mens ʼn stad bou tot by God. Genesis 11:4 Hulle sê toe: Kom ons bou vir ons ‘n stad en ‘n toring met sy bopunt in die hemel, sodat ons vir onsself naam maak; anders versprei ons oor die hele aarde. God veroorsaak dat elke persoon in ʼn verskillende taal begin praat en die bouprojek word opgegee. In Openbaring maak God dit wat vir die mens onmoontlik was moontlik deur die stad van God na die mens te bring. ʼn Stad waar mense van verskillende tale en nasies nou deur Christus een is en in een stad sal kan woon. Babel, is die mens se poging wat altyd sal misluk, Jerusalem van bo is God se plan en dit sal geluk.