Inleiding
In Job word gevra wat ʼn goddelike man sal doen as alles van hom weggeneem word. Sal hy nog steeds die Here prys? Job antwoord hierdie vraag as hy alles verloor en weier om God te vervloek en Hom nog steeds prys as die Een van wie hy alles ontvang het; as die Een wat die reg het om te gee en te neem. In hierdie gedeelte word ʼn verdere vraag gevra en beantwoord. Wat sal mense doen as hulle besef dat hulle alles uit God se hand ontvang? Sal hulle ooit teen God draai? Die duisendjarige vrederyk word volgens die Bybel beskryf as ʼn ongelooflike tyd van vrede en voorspoed. Die verwagting sou sekerlik wees dat die mens wat deur al die wraak van God is, en steeds op aarde leef en nou hierdie vrede en voorspoed beleef onder God se Koningskap hulle tot Hom sal bekeer?
Goddelike Koningskap
In die duisendjarige vrederyk sal daar mense wees wat oorleef het na die verwoesting in Openbaring 19. Hulle is ongelowiges, aangesien die gelowiges almal vermoor en/of opgeneem is in die wolk waarin Christus gekom het toe Hy wraak kom uitoefen het op die aardbewoners. Openbaring 20:4 Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met Christus regeer, ‘n duisend jaar lank. In die duisend jaar sal hierdie oorblywende, ongelowige mense beslis bewus wees dat alle voorsiening uit die hand van God kom, net soos wat hulle die wraak van God ervaar het voor die duisend jaar. Sagaria 14:16-20 Almal wat oorbly uit al die nasies, wat opgeruk het om teen Jerusalem oorlog te maak, sal jaar ná jaar optrek om voor die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig en om die Huttefees te vier. En oor diegene onder die familiegroepe van die aarde wat nie optrek na Jerusalem om voor die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig nie, sal geen reën val nie. As die familiegroep uit Egipte nie optrek en na Jerusalem kom nie, sal daar oor hulle nie reën val nie. Dit sal die plaag wees waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die Huttefees te vier nie. Dit sal die straf wees vir Egipte en die straf vir al die nasies wat nie optrek om die Huttefees te vier nie. Ons het baie keer die idee dat as God dit net baie goed of baie sleg met iemand sal laat gaan, die persoon of dankbaar teenoor God sal wees of in benoudheid na God sal roep en radikaal tot bekering sal kom. Tog in Openbaring vind ons dat mense God vloek as dit sleg sowel as goed gaan. Selfs hier waar hulle besef dat alles wat goed is uit God se hand kom, volg hulle weer vir Satan die oomblik as hy vrygelaat word. Dit bevestig die woorde van Jesus aan die mense van sy dag. Johannes 8:44 Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar en die vader daarvan is. Glo ons werklik dat die mens sleg is en dat daar niks goeds in die mens is nie. Romeine 3:10-13… Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. Daarom is wedergeboorte ʼn werk wat van bo af kom en nie ʼn werk uit ʼn mens of deur ʼn mens nie.
Satan word vrygelaat en verslaan
Na die duisend jaar vrede word die Satan losgelaat. Hy gaan uit om al die nasies oor die wêreld te mobiliseer vir ʼn oorlog teen die heiliges en Jerusalem. Openbaring haal Esegiël 38-39 aan as dit praat van die Gog en die Magog. Hulle verteenwoordig alle volke tot in die uithoeke van die aarde. Hulle getal is soos die sand van die see. Die ongelowiges is altyd die oormag. Jesus se boodskappe aan sy dissipels was dat diegene wat die koninkryk sal beërwe ʼn baie klein getal is en dat dié wat daar wil ingaan dit nie maklik op aarde sal hê nie. Matteus 7:13-14 Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind. Hierdie groep in Jerusalem word die heiliges genoem, wat regdeur die Nuwe Testament die naam vir alle gelowiges is. Die goddelose mense wat die Satan sal volg word dan vernietig soos dit voorspel word in Esegiël.
- Esegiël 39:6 Ek sal vuur slinger in Magog, en onder hulle wat veilig woon in die eilande. Hulle sal besef dat Ek die Here is.
- Esegiël 38:22 Ek sal met hom die saak bereg deur pessiekte en bloedvergieting. Geweldige stortreën, groot haelstene, vuur en swael sal Ek op hom, op sy troepe en op baie volke wat by hom is, laat neerreën.
Die vernietiging van die Gog en die Magog sal soortgelyk wees aan die vernietiging van Sodom en Gomorra. Genesis 19:24 Die Here het op Sodom en Gomorra swael en vuur laat reën wat van die Here af uit die hemelruim kom. Die gelowiges wat geheers het na die eerste opstanding sal dus niks met die oorwinning te doen hê nie. God alleen sal in ʼn oomblik die oorwinning behaal. Dan sal die Satan in die hel gegooi word waar die valse profeet en die antichris nou ook alreeds sal wees. Al die magte in die wêreld en die mag van die Satan is niks in vergelyking met die mag van die God wat ons as gelowiges aanbid nie. Daarom het die gelowiges soveel vrede gedurende hul aardse wandel, aangesien hulle glo dat hulle meer as oorwinnaars is en niks hulle kan skei van die liefde wat daar is in Christus Jesus nie. Die Psalmdigter is reg as hy bely: Ja, met U hardloop ek ‘n bende tegemoet, met my God spring ek oor ‘n muur. Psalm 18:30.
Finale oordeel
Dan sien Johannes ʼn troon en iemand wat daarop sit. Die God van die Skrif word uitgebeeld as die een wat niemand kan aanskou en bly leef nie. Daarom sien ons ook dat die aarde en die hemel van sy aangesig wegvlug as Hy op die troon stelling inneem. Tog sal die gelowiges voor Hom kan verskyn en sy aangesig sien in teenstelling met die res van die wêreld en die fisiese domein. Openbaring 22:3-4 Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien. Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. Vir die ongelowige sal dit die dag van oordeel wees en ʼn vreesaanjaende dag. Al die ongelowige mense sal nou opgewek word om geoordeel te word. Die liggaam wat hulle sal ontvang sal gemaak wees vir die straf van die ewige hel waarin hulle gepynig sal word. So is dit deur Daniël voorspel en ook deur Jesus bevestig.
- Daniël 12:2 Baie van hulle wat slaap in die stof van die aarde, sal wakker word –sommige vir die ewige lewe, en ander tot skande, tot ewige afsku.
- Johannes 5:28-29 Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom ‘n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling.
Die boekrolle wat oopgemaak sal word is ʼn verwysing na dit wat Daniël geprofeteer het. Daniël 7:10 ‘n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die boekrolle is oopgemaak. Elke persoon wie se naam nie in die Boek van die Lewe geskryf is nie, sal nou geoordeel word deur wat in die boeke opgeteken is. Alles wat jy ooit gesê of gedoen het sal opgeskrywe wees in hierdie boekrolle.
- Openbaring 20:15 En as gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
- Openbaring 21:8 Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.
- Matteus 12:36 Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee.
- Psalms 28:4 Vergeld hulle ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede; vergeld hulle vir hulle handewerk, gee hulle hulle verdiende loon.
Jy sal niemand die skuld kan gee nie, niemand kan blameer vir jou sonde nie, want die Een voor wie jy staan sal alles weet. Watter dag sal dit nie wees nie? Waarheen sal jy kan vlug? Waar sal jou arrogansie dan wees? Jy sal geen verskoning hê nie. Volgens elke daad wat jy ooit gedoen het en jou ongeloof in die ware Seun van God, Jesus Christus, sal jy verewig gestraf word in die hel.
Indien jou naam egter in die boek van die Lewe geskryf staan, sal dit wat jy op aarde gedoen en gesê het, vervang wees met die lewe van geregtigheid wat Christus op aarde gelei het. Hierdie boek van die Lewe is die plek waar al die gelowiges se name opgeskryf is vanaf die grondlegging van die wêreld. Die gelowige se naam is daar opgeskryf aangesien die werk van verlossing deur God Drie-Enig bewerk is. Efesiërs 1:4-6 So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het.
Einde van die dood
Die doderyk is die plek waarheen die gelowiges en ongelowiges is indien hulle gesterf het voor Jesus se kruisiging en opstanding. Ons sien in die verhaal van Lasarus en die Ryk man dat beide in die doderyk is, maar dat daar ʼn diep kloof tussen hulle is. Die ongelowiges ervaar dit alreeds as ʼn plek van pyniging. Lukas 16:26 En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie. Na Jesus se opstanding vind ons egter dat die grafte oopgaan. Matteus 27:52 Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Daarom vind ons in Openbaring dat die siele van die gelowiges nou onder die altaar by God is en nie meer in die doderyk nie. Met die finale oordeel word die ongelowiges volgens die boekrolle geoordeel en dan saam met die doderyk in die hel gegooi. Daar sal dus geen dood meer wees nie, want daar waar die mens hom nou bevind, is waar hy verewig sal wees, nl. die Hemel of die Hel.
Die hel
Die hel is die tweede dood van die ongelowiges. Die plek waar hulle gepynig sal word voor die Lam en sy heilige engele vir ewig. Openbaring 14:9b-11 As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word. En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie. Dit is ook die plek waarvan Jesus praat as hy sê dat hulle daar op hulle tande sal kners en die plek waar die wurm en die vuur nie uitgeblus sal word nie.
- Markus 9:48 waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie.
- Matteus 13:50 en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal ‘n geween en ‘n gekners van tande wees.
Slot
Hoe hierdie vrederyk sal lyk en hoe presies alles sal uitspeel, word nie in detail beskryf nie, maar dat dit ʼn realiteit is dat die duiwel gebind, weer vrygelaat en verslaan sal word is duidelik. As gelowige het ons hierdie vaste wete: God is in beheer en die einde van die verhaal is klaar bepaal. Niks kan met ons gebeur wat ons ons redding sal laat verloor nie. Hoewel die duiwel teen ons ʼn geestelike oorlog kan voer is dit alreeds gewen op die kruis van Golgota. Ons sonde is uitgewis en die boekrol gevul met die lewe van ons Verlosser, Jesus Christus! Ons ewige tuiste is die Hemel, vir Ewig. Vir die ongelowige is die waarskuwing van die hel as finale ewige tuiste egter duidelik. Baie mense praat baie liggies oor die hel en sommige kerke glo glad nie dat ʼn liefdevolle God so ʼn plek sal toelaat nie. Tog vind ons dat Jesus meer oor die hel as die hemel praat.
Kies vandag.
