Naomi en Rut

Daar was ’n man met die naam Elimeleg. Hy het saam met sy vrou Naomi en hul twee seuns van Betlehem na Moab getrek, omdat daar ’n hongersnood in Betlehem was.

In Moab het Elimeleg gesterf. Naomi het alleen agtergebly met haar twee seuns. Hulle het getrou met Moabitiese vroue, Orpa en Rut. Maar ná tien jaar het die twee seuns ook gesterf. Naomi het haar man en albei haar seuns verloor en het alleen saam met haar skoondogters agtergebly.

Toe Naomi hoor dat daar weer kos in Israel is, het sy besluit om terug te gaan Betlehem toe. Sy het vir Orpa en Rut gesê:
“Gaan terug na julle families toe.”

Orpa het omgedraai en teruggegaan, maar Rut het gesê:
“Moenie vra dat ek moet weggaan nie. U volk is my volk, u God is my God.”
Toe het Naomi opgehou om haar te probeer keer en sy het saam met haar teruggegaan.

In Betlehem het almal vir Naomi herken, maar sy het gesê:
“Moenie my Naomi noem nie, noem my Mara, want die Here het my baie hartseer gemaak.”

Dit was die begin van die gars-oes. Die arm mense is toegelaat om are op te tel wat deur die werkers op die grond laat val is en Rut het ook gegaan om are vir haar en Naomi op te tel. Sy het in Boas se land are opgetel. Hy het haar gesien en gesê:
“Moenie na ’n ander land toe gaan nie. Bly hier en werk saam met my mense.”

Boas het haar goed behandel, en Rut kon vir Naomi kos bring.