Openbaring 20:1-6 Die duisendjaar vredesryk.

Inleiding

Hierdie gedeelte in Openbaring is baie kontroversieel in die feit dat dit deur soveel teoloë verskillend geïnterpreteer word. Hier maak ons die eerste keer kennis met die binding van die Satan en die duisend jarige vredesryk wat daarop volg. Hierdie gedeelte gee dan ook aanleiding tot drie hoof groepe binne die Kerk wat groepeer op grond van wanneer elke groep dink hierdie vredesryk sal wees. Die pre-millenialiste glo dat ons in die tydperk voor die duisend jarige vredesryk leef en dat dit ingehuldig sal word met Jesus se tweede koms waar Satan dan fisies vir ʼn duisend jaar gebind sal word. Die amillenialiste glo dat hierdie gedeelte slegs geestelik geïnterpreteer moet word en dat ons nou alreeds in die vredesryk leef en dit begin het met die hemelvaart van Jesus. Die duiwel is dus slegs geestelik gebind. Die post-millenialste glo dat daar ʼn groot herlewings gaan plaasvind en dat die Kerk dan die hele wêreld sal regeer vir ʼn duisend jaar, voor Jesus se tweede koms. Die verskil in eskatologie (eindtyd beskouing) hoef nie kerke en gelowiges te verdeel nie, maar dit is tog insiggewend hoe die verskillende sienings praktiese gevolge aangaande die uitleef van die Christelike geloof het.

Die Kerk se siening

Baie mense dink dat die duisendjarige vredesryk waarvan Openbaring 20 praat, slegs in Openbaring voorkom. Daar is egter beelde van die vredesryk deur die hele Skrif. Dit was dan ook die vraag wat die apostels op die hart gehad het net voor Jesus se hemelvaart. In Handelinge 1:6 vra hulle: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Jesus se antwoord wys dat hul verwagting nie verkeerd was of dat hulle die profesie aangaande die komende koninkryk verkeerd verstaan het nie, maar: “Dit is nie vir julle om die tye en geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie”. Handelinge 1:7. Dit is verder opmerklik dat die vroeë kerk in ‘n fisiese duisendjarige vredesryk geglo het. Papias, wat waarskynlik deur Polikarp of ander vroeë gelowiges onderrig is, wat weer op hul beurt deur die apostel Johannes (die skrywer van Openbaring) onderrig is, het hierdie leerstelling bevestig. So ook het Justin die Martelaar (110-165 n.C.) en Irenaeus (130-202 n.C.) eksplisiet in ʼn letterlike duisendjarige vredesryk geglo. Vanaf die begin van die derde eeu was daar stemme wat hierdie siening teengestaan het, maar hul argumente was meer gegrond op die verwerping van Papias as naïef en nie-intellektueel as op ‘n stewige Skriftuurlike basis. Origenes, wat in die derde eeu geskryf het, het die Skrif simbolies (allegories) geïnterpreteer en ‘n geestelike verklaring van Openbaring verkies bo ‘n letterlike vredesryk.

Die duiwel gebind

Openbaring 20 begin met die binding van Satan vir ‘n duisend jaar, wat ‘n tydperk van goddelike vrede inlui. In Openbaring word getalle dikwels simbolies gebruik om volmaaktheid of God se soewereine plan aan te dui, soos die “duisend heuwels” wat aan God behoort (Psalm 50:10) of die “duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Die “duisend jaar” verwys dus na ‘n God-bepaalde tydperk, maar sluit nie ‘n letterlike, aardse vervulling uit, soos vroeë kerkvaders soos Justin die Martelaar en Irenaeus geglo het nie. Die binding van Satan stem ooreen met Jesaja 24:21-22: “Op daardie dag sal die Here afreken, in die hemel, met die hemelliggame, op die aarde, met die konings van die aarde. Hulle sal byeengebring word vir opsluiting, as gevangenes in ‘n put – toegesluit in ‘n kerker. Ná ‘n lang tyd sal met hulle afgereken word.” Hierdie profesie dui op ‘n tydelike inperking van bose magte, insluitend Satan, voor hul finale oordeel, wat ooreenstem met Openbaring 20:3. Dit is egter onmiskenbaar dat Satan tans nie gebind is nie, soos talle Nuwe Testamentiese tekste bevestig. In Openbaring 12:17 lees ons: “Die draak was woedend op die vrou en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag, wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het.” In die gelykenis van die saaier in Lukas 8:12 waarsku Jesus dat “die duiwel kom en die woord uit hul harte wegneem”. In Handeling 5:3 vind ons Petrus wat vir Ananias vra: “Waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg het?” Paulus beskryf sy doring in die vlees as “’n engel van Satan”  in 2 Korintiërs 12:7. Gelowiges word herhaaldelik opgeroep om Satan te weerstaan.

  • Jakobus 4:7: “Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die duiwel, dan sal hy van julle wegvlug.”
  • 1 Petrus 5:8-9: “Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur.”

Die sewe gemeentes in Openbaring word ook gewaarsku teen Satan se aanvalle, veral Smirna en Pergamus:

  • Openbaring 2:9: “Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur dié wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar ‘n sinagoge van Satan.”
  • Openbaring 2:13: “Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar Satan woon.”

Die Woord is duidelik: Satan is tans nie gebind nie, nie vir gelowiges of ongelowiges nie. Gelowiges is in ‘n geestelike stryd teen Satan en sy magte, soos beskryf word in Efesiërs 6:12: “Ons stryd is immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim.” Ek glo dat elke gelowige van hierdie stryd kan getuig en inherent weet dat die volmaakte vredesryk, soos beskryf in die Bybel, nie dit kan wees wat ons tans ervaar nie.

Openbaring 20 wys ook dat gelowiges wat gemartel is, reeds opgewek is en in die duisendjarige vredesryk saam met Christus regeer, terwyl die ander dooies eers ná die duisend jaar sal opstaan. Dit kan slegs waar wees indien die eerste opstanding reeds plaasgevind het. Ons weet dat dit nog nie gebeur het nie, want ons is immers almal nog hier en met Christus se koms ontmoet die oorblywende Kerk hom in die wolke. Dus kan die vrederyk nog nie aangebreek het nie.  Boonop is die dier en die valse profeet reeds in die vuurpoel gewerp wat suggereer dat die Antichris se tyd en oordeel reeds plaasgevind het voor die vredesryk begin. Openbaring 19:20 Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi.

‘n Tyd van Vrede

Die duisendjarige vredesryk sal ‘n tydperk van vrede wees waarin nasies, insluitend ongelowiges wat nog leef, nie meer deur Satan mislei sal word nie. Jesaja beskryf hierdie tyd uitvoerig, veral in Jesaja 65:20-22, 25: Daar sal nie meer ‘n suigeling wees van net enkele dae, of ‘n bejaarde wat nie sy lewensdae voltooi nie. Want die jongste sal op honderd jaar sterf, en wie nie honderd jaar bereik nie, sal as ‘n vervloekte beskou word. Hulle sal huise bou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet. ‘n Wolf en ‘n lam sal saam wei, ‘n leeu sal soos ‘n bees hooi eet; maar ‘n slang – stof sal sy kos wees. Mense sal nie kwaad aanrig of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie,” sê die Here. Ander profete bevestig hierdie visie van vrede:

  • Miga 4:1-4 In die laaste dae sal die berg van die Here se huis stewig staan, as die hoogste van die berge; ja, hy sal bo die heuwels uittroon. Volke sal daarheen stroom, baie nasies sal gaan en sê, Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy weë  kan leer, en ons op sy paaie kan volg.’ Ja, uit Sion sal daar onderrig kom en die woord van die Here uit Jerusalem. Hy sal regspreek tussen baie volke en die reg handhaaf vir talryke nasies tot in die verste uithoeke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie, hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie; maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag. Die Here, Heerser oor alle magte, het dit immers self gesê.
  • Sagaria 8:3-5 So sê die Here, Ek keer terug na Sion en sal in Jerusalem woon. Jerusalem sal die getroue stad genoem word en die berg van die Here, Heerser oor alle magte, sal heilige berg genoem word. So sê die Here, Heerser oor alle magte, Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ‘n kierie in die hand van ouderdom. En die pleine van die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.’
  • Joel 3:17-18 Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg. Dan sal Jerusalem ‘n heilige plek wees, en vreemdes sal nie weer deur haar gebied trek nie. Op daardie dag sal die berge drup van die sap van druiwe, en die heuwels sal vloei van melk, en al die spruite van Juda sal stroom van water. ‘n Fontein sal uit die huis van die Here vloei, en dit sal die Sittimdal natlei.

In ʼn sekere sin is hierdie profesieë nou alreeds van toepassing op die Kerk, wat uit alle nasies bestaan wat in vrede met mekaar leef, maar dit dui ook op ‘n toekomstige aardse vervulling. Openbaring 20:7, wat in die volgende inskrywing hanteer sal word, word gesê dat Satan na die duisend jaar losgelaat sal word, gevolg deur die opstand van Gog en Magog. Dit stem ooreenstem met Esegiël 38–39, maar net voor hierdie gebeure beskryf Esegiël ‘n tyd van vrede:

  • Esegiël 36:33-35: So sê my Heer, die Here: “Die dag wanneer Ek julle reinig van al julle sondeskuld, sal Ek die stede weer laat bewoon; die puinhope sal opgebou word. Die land wat verlate was, sal bewerk word, in plaas daarvan dat dit ‘n woesteny is ten aanskoue van elke verbyganger. Hulle sal sê, ‘Hierdie land wat verlate gelê het, het soos die tuin van Eden geword. Die stede wat puinhope was, verlate en platgeslaan, is versterk en word bewoon.’
  • Esegiël 37:26-28: Ek sal met hulle ‘n vredesverbond sluit – dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees. Ek sal hulle vestig en hulle baie laat word, en Ek sal my heiligdom tussen hulle vestig, vir altyd. My woning sal by hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir my ‘n volk wees. Die nasies sal besef dat Ek die Here is wat Israel heilig, wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle sal wees.”

Regeer

Hierdie vredesryk is nie net ‘n tyd van vrede nie, maar ook ‘n tyd waarin gelowiges saam met Christus sal regeer, soos dit belowe word in 2 Timoteus 2:11-12: “As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer.” Jesus se gelykenis van die talente in Lukas 19:17  bevestig dit ook: “Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede.” Ons as gelowiges sal ook priesters wees, wat in die allerheiligste saam met God sal wandel en in gebed tot Hom sal intree. Die gedagte van priester en koning van God is al twee keer in Openbaring genoem. Die eerste keer in hoofstuk 1 waar die gelowiges getuig dat Christus hulle in sy bloed gewas het en hulle konings en priesters vir Sy God en Vader gemaak het. Dit wys duidelik dat die gelowige dit alreeds kan getuig terwyl hulle op aarde is. Ons sien ook in Hoofstuk 5, vanuit die Hemel, dat daar ʼn getuienis uitgaan wat aan Christus die eer bring. Openbaring 5:10: “U het hulle ‘n koninkryk en priesters  vir ons God  gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers.” Dit is dan ook die belofte van Jesus gee aan die sagmoediges in die bergpredikasie. Matteus 5:5: “Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.” Die Koninkryk van die Skrif is altyd ʼn alreeds en ook ʼn nog nie ten volle nie. Dit word goed beskrywe in Hebreërs 2. Hebreërs 2:8-9: “U het alles onder sy voete  gestel. Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir ‘n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar.”

Slot

Hierdie gelowiges het nie die dier en sy beeld aanbid nie en het lyding verduur ter wille van hul geloof, soos Moses. Hebreërs 11:24-26 Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van die farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Hulle kyk uit na ‘n ewige beloning, soos Romeine 8:18 sê: “Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.”  Wat ʼn vooruitsig!