Dag 1
Geheue vers vir die week!!!
Lukas 3:11
“Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

- Ma en Pa kry die kans om vir die kinders te vertel in watter kerk hulle gedoop is. Vertel wie die predikant was en wie almal daar was. Vertel ook hoe wonderlik dit is om God se kinders groot te maak.
Lees saam: Lukas 2:21-40
- Wat was die oom en tannie se name wat vir Jesus by die tempel gesien het?
- Hoekom dink julle gun God dit vir Simeon en Anna om die baba Jesus te sien?
- Wat dink julle beteken vers 34-35?

- Simeon en Anna se begeerte was om die Verlosser te sien. Hulle lewe het daarom gedraai om God te verheerlik. Ons wat ook so lewe, omdat ons in Jesus glo, sal ook eendag God van aangesig tot aangesig sien.
- Hierdie profesie is uitgespreek oor wat met Jesus sou gebeur. Hoe Hy sou ly en deur mense gehaat sou word. Wat mense met Hom sal maak sal hulle harte openbaar. Wie is Jesus vir jou en is Hy die belangrikste deel van jou lewe?
Bid saam en dank God dat hy jou sy kind maak!
Dag 2
Geheue vers vir die week!!!
Lukas 3:11
“Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
- Wat was die lekkerste vakansie of toer wat jy nog gehad het en wat kan jy onthou? Elkeen kry ‘n kans om te deel nadat hulle daaroor nagedink het.
- Het dit al gebeur dat iemand in die huisgesin of familie weggeraak het? As daar so ‘n gebeurtenis was kan julle vertel hoe julle gevoel het toe julle gedink het die persoon is weg. As dit nog nie gebeur het nie kan die ouers miskien vertel hoe hulle sal voel as een van hulle kinders sou wegraak.
- Wat is jou verwagting as jy kerk toe gaan? Wat hoop jy om daar te vind op Sondae?

Lees saam: Lukas 2:41-52
- Waarvan was die paasfees ‘n teken? (Lees Deuteronomium 16:1-6 indien nodig)
- Waaroor dink julle het Jesus met die geleerdes gepraat?
- Wat dink julle beteken Jesus se woorde in vers 49?
- Hoekom dink julle gaan Jesus nog steeds saam met sy ouers huis toe al verstaan wat hulle nie wat hy in vers 49 sê nie?
- Jesus was gehoorsaam aan sy ouers en het saam met hulle huis toe gegaan. Dit is ook belangrik dat ons as kinders altyd en in alle omstandighede gehoorsaam aan ons ouers sal wees.
- Jesus ag dit baie belangrik om met ander oor God te praat. Met wie buite ons gesin praat ons maklik oor Jesus. Dit is belangrik dat ons met ander gelowiges oor Jesus praat.
- Ons moet ook kerk toe gaan om in die eerste plek saam met gelowiges te sing en te bid en tweedens om na die Bybel te luister. Ons maak ook ‘n groot bydrae as ons voor die tyd vir die diens bid en bid dat die Heilige Gees deur die prediker sal werk.
Bid saam
- Kom ons vra die Here om ons moed te gee om met ander maats oor Jesus te praat?
- Kom ons bid ook vir ons predikant.
Dag 3
Lukas 3:1-22
Geheue vers vir die week!!!
Lukas 3:11
“Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
Openings vraag:
- Elkeen kry ‘n kans om te sê wat waardeer hy/sy van die ander persone in die huisgesin en ook om te sê wat waardeer hy/sy nie.
- Watter preek onthou jy die beste? Vertel so bietjie van die preek en die predikant wat gepreek het.

Lees saam: Lukas 3:1-22
- Wat sê Jesaja was Johannes se doel?
- Wat is Johannes se boodskap?
- Wat se dade moet mense doen om vrugte te dra wat wys dat hulle tot bekering gekom het?
- Die doop van Johannes was die teken dat mense wat sondig is hulle kom skoon was in die water. Wat dink julle gebeur met Jesus wat sondeloos is wanneer hy in die water ingaan, waar die ander mense hulle sondes afwas?
Les:
- Baie mense verstaan die doop van Jesus verkeerd. Hulle dink Jesus doop homself om vir ons tot voorbeeld te wees. Jesus het egter nie nodig gehad om homself te doop nie, want hy was sonder sonde. Die doop van Jesus was die teken dat hy die sondes van die mense op homself sou neem.
- Wil jy vry wees van jou sonde? Jy moet dit aan Jesus bely (sê jy is jammer) en Jesus volg. Het julle almal al julle lewens vir Jesus gegee?
Jesus ek is sondig. Kom was my skoon, kom bly in my lewe, kom wees koning van my lewe. Amen
Dag 4
Sing ‘n paar liedjies saam.

Kyk wie ken die geheue vers!!
Lukas 3:11
“Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
Openings vraag:
- Wanneer was jy die hongerste en dorste wat jy nog ooit was? Vertel wat jy gedoen het daardie dag en hoe dit gevoel het om so honger en dors te wees.
- Wat is die een ding wat jy die graagste wil hê? Die een ding wat jy regtig begeer?
Lees saam: Lukas 4:1-13
- Op watter drie maniere het die duiwel Jesus versoek?
- Wat was vir Jesus die belangrikste in alles?
- Het jy al ervaar dat die duiwel jou versoek? Wanneer was dit en wat het gebeur? Kon jy die duiwel weerstaan?
Les:
- Die duiwel gebruik ons begeertes (dit wat ons baie graag wil hê) om ons te versoek. Dit is hoekom die Bybel sê ons mag nie begeer nie.
- Ons moet tevrede en dankbaar wees oor alles wat ons het. Ons moet vir Jesus dankie sê dat hy alles vir ons gee.
- Verder moet ons alles wat ons begeer (of behoeftes wat ons het) in gebed aan Jesus bekend maak.
- Ons moet oppas dat die duiwel vir ons sê ons kan daardie goed kry deur te jok, steel, of enige ander sonde te doen. As Jesus dink dit wat ons begeer het ons nodig, sal Hy dit vir ons gee op Sy tyd.
Bid saam:
- Sê dankie vir die Here vir al jou speelgoed en vir alle ander kosbare goed wat hy al vir jou gegee het. Sê dankie vir die huis waarin jy kan bly en die motor waarin julle kan ry. Sê dankie vir die kos wat op die tafel is elke dag. Vra vir die Here om jou te help om nie so baie dinge te begeer nie, want dit is dinge wat die duiwel kan gebruik om jou in versoeking te lei.
