Inleiding
In die voorafgaande hoofstukke het ons gesien hoe Babilon verwoes is en hoe God die Antichris en die tien konings gebruik het om haar te vernietig. In hierdie gedeelte word die res van God se vyande nou vernietig, insluitend die Antichris, die valse profeet en al hul volgelinge.
Die Ruiter op die Wit Perd
Hy word beskryf as “Waar en Getrou”, aangesien alles wat Hy belowe het, waar sal word en Hy getrou is aan sy woord. Alles wat in sy Woord staan, sal plaasvind, en elke profesie sal vervul word. Hy word ook beskryf as die Een met ’n naam wat niemand ken nie. Hierdie nuwe naam hou verband met die profesie in Jesaja, waarin Israel beskryf word as God se bruid wat in ’n huweliksverhouding met God staan. Jesaja 62:2 “Nasies sal jou geregtigheid sien, en al die konings jou roem. Aan jou sal ’n nuwe naam gegee word; die mond van die Here self sal dit bepaal.” In die Ou Testament was God se naam Jahwe, wat verband gehou het met God se verbond met Israel. Hy is die verbondsgod. Hy gaan homself egter hier beskryf met ʼn nuwe naam en ons kan aflei dat dit gekoppel sal wees aan die feit dat Hy die bruidegom is. Hy het oorwin en net so belowe Hy aan die kerk dat elkeen wat getrou bly en oorwin, ook ’n nuwe naam sal ontvang. Openbaring 2:17 “Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee, en Ek sal vir hom ’n wit klippie gee, ja, ’n klippie waarop ’n nuwe naam gegraveer is, wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.” Daar is niemand wat God ken en in ʼn verhouding met God kan staan wat nie deur die Vader uitverkies is nie. Elke gelowige kan dus verseker weet dat indien jy in ʼn verhouding met Jesus Christus staan, jy deel uitmaak van Sy bruid, omdat Hy homself aan jou geopenbaar en jou as deel van sy Bruid gekies het. Lukas 10:22 “Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” Hierdie verhouding staan in direkte kontras met die van die wêreld, wat Jesus Christus en dus ook ons, sy bruid, nie ken nie. 1 Johannes 3:1
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie.”
Vir elke gelowige is die verskyning van Jesus Christus as die ruiter op die Witperd, die Bruidegom, ‘n tuiskoms. Uiteindelik sal ons wat as vreemdelinge in hierdie wêreld geleef het en as sodanig behandel is, tuiskom na Een wat ons waarlik ken. So intiem dat Hy vir elkeen ʼn spesiale naam sal hê – ʼn liefdesnaam.
Jesus as die Magtige Oorlogsheld
Jesus word uitgebeeld as die magtige oorlogsheld wat optrek om sy vyande te verwoes. God word deur die profete beskryf as die onoorwinlike kryger. Jesaja 42:13 “Die Here, soos ’n held, trek Hy uit, soos ’n krygsman wek Hy die krygslus op. Hy roep die strydkreet uit, ja, Hy skreeu die oorlogskreet; aan sy vyande betoon Hy Homself as die magtige.” Hy ry op ’n wit perd, soortgelyk aan die figuur in Openbaring 6, wat ons geïdentifiseer het as die belofte van wêreldvrede wat deur die valse profete en die Antichris belowe word. Hier ry Christus op die wit perd, maar in plaas van vrede stort Hy sy wraak uit oor die goddelose. In teenstelling met die ruiter in Openbaring 6, wat ’n enkele kroon ontvang, dra Hy baie krone. In die Grieks word dit “diadems” genoem, wat gedra is deur magtige heersers. In Openbaring word dit valslik toegeëien deur die draak en die dier, maar Christus dra vele diadems, want Hy is die Koning van die konings en die Heerser van die heersers. Openbaring 19:16 “Op sy klere, by sy heup, is ’n Naam geskryf: Koning van die konings, en Heerser van die heersers.” So het Dawid ook aan Goliat gesê dat sy uitdaging nie teen mense was nie, maar teen die God van die gevegslinies van Israel. 1 Samuel 17:45 “Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: ‘Jy kom na my met ’n swaard en met ’n vegspies en met ’n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy ’n bespotting maak.’” Hy wat in nederigheid op ’n donkie Jerusalem ingery het, sal nou as Koning op ’n wit perd kom. Sy oë is soos vlammende vuur, soos Johannes Hom in die begin van Openbaring waargeneem het. Dit is ook hoe Hy Homself aan die gemeente in Thiatire beskryf: die God wat alles sien, wat wraak sal neem en die goddelose sal straf. Almal wat saam met Hom trek, kom slegs om sy oorwinning oor die vyand te aanskou, aangesien Hy alleen al sy vyande sal uitwis en die wynpers sal trap. Jesaja 63:3 “Die kuip het Ek alleen getrap; van al die volke was daar niemand by My nie. In my toorn het Ek hulle aanhou trap, hulle fyngetrap in my woede. Hulle lewensbloed het op my klere gespat; my hele uitrusting het Ek besoedel.” Daarom is Sy klere deurweek met bloed, soos ook in Openbaring 14 uitgebeeld word. Hierdie beeld is dikwels een wat die kerk en die wêreld nie wil aanvaar nie. Hulle soek die Een wat vergewe, wat liefdevol en genadig is, maar die God van wraak wil hulle nie bespreek nie. Die Een wat sal verwoes en die bloed sal trap, is ’n skok vir dié wat ’n halwe Jesus verkondig.
Hy word ook genoem die Woord van God, soos Johannes in sy evangelie, deur die Heilige Gees gelei, van Hom getuig het. Johannes 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Hierdie Woord is dit waaroor die gelowiges getuig het, en dit is a.g.v. hierdie getuienis dat gelowiges vervolg en gemartel is. Nou is die marteling verby, en die gelowiges volg die Woord in oorwinning, soos hulle Hom hul hele lewens op aarde gevolg het. Kan jy sien hoe gevaarlik dit is om die Woord van God te probeer verander om mense tevrede te stel. Dan volg jy nie meer die ware Jesus nie en sal jy nie deel uitmaak van diegene wat oorwin het nie. Diegene wat die Woord gevolg het, dit wil sê Jesus Christus en sy gebooie gehoorsaam het, volg Hom nou en ry ook op wit perde. Wat ’n dag sal dit wees vir elke gelowige om in ’n triomftog agter Christus op sy wit perd te volg in oorwinning! Die kleredrag van die leër van die hemel is dieselfde as dit wat beskryf is vir die bruid van Christus, aangesien albei dieselfde groep is, naamlik die kerk, die gelowiges. Hulle is reeds in die hemel en sal saam met Hom kom in sy oorwinningstog.Hierdie dag van oorwinning is deur die Skrif geprofeteer en word reeds deur Henog, die sewende geslag na Adam, voorspel. Judas 1:14-15 “Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here kom met sy heilige tienduisende, om oor almal die oordeel te vel, en om alle mense te straf vir al hul goddelose dade wat hulle in hul goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.”
Die Vlymskerp Swaard
Uit sy mond kom ’n vlymskerp swaard, soortgelyk aan die beeld in Jesaja. Jesaja 49:2
“Hy het my mond soos ’n skerp swaard gemaak, in die skaduwee van sy hand het Hy my weggesteek. Hy het my ’n geslypte pyl gemaak, in sy pylkoker het Hy my versteek.” Die verwoesting word aangerig deur die woord wat uit Christus se mond kom. Paulus vertel ook aan die gemeente in Tessalonisense dat Christus die wettelose mens, die Antichris, met die asem van sy mond sal uitwis. 2 Tessalonisense 2:8 “En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig.” Hierdie Woord is dit wat elke ongelowige sal veroordeel aangesien Hy Jesus se woorde op aarde nie geglo en hom/haar bekeer het nie. Johannes 12:47-48 En as iemand my woorde hoor en dit nie bewaar nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te verlos. Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom op die laaste dag veroordeel. Om Jesus te volg is onlosmaaklik van gehoorsaamheid aan Sy Woord.
Die Finale Oorlog en die Feesmaal
God sal al die nasies byeenbring vir die groot en finale oorlog, soos ook deur Sagaria voorspel word. Sagaria 14:2 “Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.” Daar is nog ’n feesmaal wat gehou sal word, benewens die feesmaal van die Lam saam met die bruid. Christus sal wraak uitoefen op die aardbewoners. Hierdie feesmaal is deur Christus voorberei vir al die voëls van die lug, wat sal smul aan die ongelowiges. Die uiteinde van die ongelowiges en die gelowiges kan nie verder van mekaar wees nie. Die een word die feesmaal van die ongediertes, terwyl die ander sal aansit by ʼn feesmaal saam met Christus. Hierdie twee uiteindes is dikwels tydens ons aardse bestaan omgeruil, soos ons kan sien met die woorde van die Filistyn Goliat, wat ’n soortgelyke belofte aan Dawid gemaak het.1 Samuel 17:44 “Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.” Op aarde het die ongelowiges die gelowiges oorwin en vernietig, maar wanneer die Seun van Dawid terugkom, sal Hy die Goliats van hierdie wêreld verwoes en hul vlees aan die voëls van die hemel voer. Hierdie profesie van die voëls wat sal feesvier op die mense is ’n aanhaling uit Esegiël. Esegiël 39:17-20 “En jy, mensekind,” so sê die Heer, die Here: “Sê vir die voëls, vir al die gevleueldes, en vir al die diere van die veld: Kom bymekaar, ja, kom! Kom van oraloor byeen by my slagoffer wat Ek vir julle gaan slag – ’n groot slagoffer op die berge van Israel. Eet vleis en drink bloed! Die vleis van helde sal julle eet en die bloed van die leiers van die aarde sal julle drink – skaapramme, ramlammers, bokramme, bulle, almal vetgemaak in Basan. Julle sal vet eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is van my offers wat Ek vir julle geslag het. Julle moet julle by my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan helde en al die krygsmanne. Dit is die uitspraak van die Heer, die Here.”
Die Oordeel van die Dier en die Valse Profeet
Die dier en die valse profeet word in die poel van vuur gegooi. Die res van die mense, wat soos alle aardbewoners nie aan God behoort nie, sal doodgemaak word. Hulle oordeel sal volg, waarna hulle ook in die poel van vuur gegooi sal word. Hierdie voorspelling is in Daniël gegee.Daniël 7:10-11 “’n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die boekrolle is oopgemaak. Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur.”Johannes vertel verder dat die vuurpoel waarin hulle gegooi sal word, hulle lewendig sal insluk en vir ewig sal hulle gestraf word.
Slot
Die oorwinning is van die vroegste tye deur die profete verkondig. Ons lewe in die “alreeds” en die “nog nie”. Die Koninkryk waarvan ons nou reeds deel is, is nog nie ten volle hier nie. Ons het vrede, want ons weet wat die uiteinde van alles sal wees. Al word ons op aarde soos slagskape behandel, kan ons reeds verklaar dat ons meer as oorwinnaars is en dat niks ons sal kan skei van die liefde wat daar in Christus Jesus is nie. Hierdie boodskap moet elke gelowige dring om die evangelie te vertel aan elkeen wat hy/sy teëkom. Om Christus te volg is om sy Woord te gehoorsaam en een van Sy opdragte is om die Blye Boodskap van Sy verlossing te verkondig waar jy ookal gaan.
Romeine 8:35-37
“Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskryf staan: Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou. Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.”
