Week 1 – Lukas

Dag 1

Lukas 1:33

33Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Openings vraag:

  • Hoekom sms, whatsapp, epos of skryf ons briewe vir ander mense?

Lees saam:  Lukas 1:1-25

  • Vir wie skryf Lukas die brief en hoekom skryf hy die brief?
  • Hoe dink julle moes die volk gevoel het toe Sagaria uitkom en hulle nie kon seën nie? Dink jy hulle was bang of opgewonde?
  • Wat is die Engel se naam wat aan Sagaria verskyn het?
  • Wat beloof die engel vir Sagaria?
  • Hoekom glo Sagaria nie die engel nie?
  • Wat gebeur met Sagaria as hy nie die engel glo nie?

Les

  • God wil hê ons moet weet en glo dat Hy alles kan doen. Ons moet Hom daarvoor vertrou. Ons moenie twyfel in God se almag nie.
  • Kinders is ook ‘n geskenk van God wat Hy vir ouers leen sodat hulle hul kinders kan groot maak om die wêreld te bedien met die Lig van God.

Bid saam

  1. Ma en Pa kan dankie sê vir sulke mooi kinders wat die Here vir hulle geskenk het
  2. Vra die Here om ons te help om altyd vas te glo dat hy God Almagtig is wat enige iets kan doen.

Dag 2                                    

Lukas 1:33

33Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Openings vraag:

  1. Wat was die lekkerste dag van die jaar vir jou? Wat was die lekkerste dag vir jou in jou lewe? (gee eers ‘n kans dat almal daaroor kan nadink, en dan gee elkeen ‘n kans om te antwoord)

Lees saam:  Lukas 1:26-56

  1. Wat vertel die engel Gabriel vir Maria?
  2. Wie sê Gabriel is Jesus? Lees weer 1:32-33
  3. Hoekom dink julle gaan Maria na Elisabeth toe?
  4. As iets lekker met jou gebeur, of as jy iets nuuts reg kry vir wie vertel jy dit eerste? Hoekom?
  5. Hoekom loof Elisabeth en Maria die Here?
  6. Wat het die Here al vir jou en/of jou familie gedoen?

Les

  • Die Here doen wonderlike dinge. Ons moet ons oë oophou om te sien wat Jesus doen en dan kan ons as familie saam die Here daarvoor loof. Ons moet ook nie skaam wees om vir ander mense te vertel van die wonderlike dinge wat Jesus vir ons doen nie.

Bid saam

Kom ons sê dankie vir Jesus vir al die wonderlike dinge wat Hy vir ons doen.

Dag 3                     

Lukas 1:33

33Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Openings vraag:

  1. Ma en Pa kry vandag die geleentheid om te vertel van elke kind se geboorte. Vertel van ervaringe in die swangerskap. Vertel van die eerste krampe wat ma gekry het en hoe julle hospitaal toe moes ry. Vertel van die dokter en susters wat gehelp het. Vertel ook van die opgewondenheid om die kind die eerste keer te sien.
  2. Vertel ook vir elke kind hoekom hy/sy die naam het wat hulle het.

Lees saam:  Lukas 1:57-80

  • Hoekom gee Sagaria en Elisabeth die kind die naam Johannes en nie ‘n familie naam nie?
  • Wanneer kry Sagaria sy stem terug?
  • Wat sê Sagaria in sy loflied oor Johannes? Wat was Johannes se lewens taak?
  • Wat sê Sagaria gaan Jesus kom doen?

Les

  • Jesus red ons uit die hand van die duiwel? Hy kom wys ook vir ons hoe moet ons met God die Vader in ‘’n liefdes verhouding moet staan. God kom nou ons pa wees. Jesus is ons broer wat ons help wanneer ons swak is.
  • Ons moet soos Johannes ook vir ander mense van Jesus vertel !!!!

Bid saam

Kom ons sê dankie vir Jesus vir wat Hy aan die kruis en deur die opstanding vir ons kom doen het.

Dag 4                       

Lukas 1:33

33Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Kom ons deel met mekaar

  1. Gee elkeen ‘n kans om te sê wat was vir hom/haar lekker en wat was sleg die week.

Lees saam: Lukas 2:1-20

  • Wie het eerste beplan om Josef en Maria na Betlehem toe te stuur? Lees Miga 5:1. Miga is 400 jaar voor Jesus se geboorte geskryf.
  • Hoekom laat God dit toe dat sy Seun in ‘n stal gebore word en in ‘n voerbak moet lê?
  • Hoekom dink julle laat God eerste vir skaapwagters weet dat hy sy Seun na die aarde toe gestuur het.

Les:

  • Jesus kom in nederigheid. Hy wil nie belangrik lyk nie. Hy kom om die mense te dien selfs al kos dit sy lewe. Hy kom ook nie net vir die rykes en bekendes nie, maar ook vir die armes. Hy word in ‘n stal gebore waar skaapwagters tuis is en maklik kan in kom. Jesus kom vir elkeen van ons en hy ontmoet ons hier waar ons is. Sy kruisdood bring versoening vir ons.

Bid saam:        

Dankie, Here dat U aarde toe gekom het. Dat U vir my so lief is, is vir my wonderlik. Ek wil voluit vir U leef.