Simson se ouers

Die Israeliete het dinge gedoen wat verkeerd was en daarom het die Here hulle vir veertig jaar oorgegee aan hul vyande, die Filistyne.

Daar was ’n man met die naam Manoag van die stam Dan. Sy vrou kon nie kinders hê nie. ’n Engel van die Here het aan haar verskyn en gesê:

“Jy gaan ’n seun hê. Moenie wyn drink of iets onrein eet nie, want jou seun sal van sy geboorte af aan God behoort. Hy mag nooit sy hare sny nie.”

Sy het vir Manoag vertel en hy het tot die Here gebid dat die man van God weer aan hulle sou verskyn. God het sy gebed beantwoord, en toe die Engel  weer aan hulle verskyn,  het hulle hom gevra wat hulle moes doen. Die Engel het herhaal:

“Alles wat Ek gesê het, moet sy ma doen.”

Manoag het die Engel genooi om by hulle te bly en ’n maaltyd te eet, maar die Engel het gesê hy sou nie eet nie, maar hulle kon ’n brandoffer aan die Here bring. Toe die vuur opgaan van die altaar, het die Engel van die Here in die vlam opgegaan. Manoag en sy vrou het op hul gesigte geval, want hulle het besef dit was ’n Engel van die Here.

Manoag en sy vrou het ʼn seun gehad net soos die Engel gesê het. Hulle het hom Simson genoem. Die seun het grootgeword, en die Gees van die Here het hom begin lei.