Openbaring 19:1-10Die Bruilof!

Inleiding

Ons kry in hierdie gedeelte twee temas, nl. die straf van die goddelose en die hemel wat God daaroor prys en die bruilof vir die gelowiges. Daar is dus wraak en beloning. Dit waarvoor die gelowiges gewag het, het aangebreek; die bruilof waarna hulle uitgenooi is, is hier.

Prys God vir sy oordeel

In die Skrif word die gelowige herhaaldelik daarop gewys dat die wraak God toekom, dat Hy regverdig oordeel en dat ons Hom as die regverdige regter moet vertrou en nie self moet probeer wraak neem nie. Romeine 12:19 Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here. Hier word die gelowige se geduld nou beloon. Ons sien alreeds in die Psalms hoe Dawid bid dat God se wraak uitgeoefen moet word op die ongelowiges. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie gebed nie gaan oor spesifieke individue nie, maar oor ongeregtigheid wat gestraf moet word, want daardeur kom God se regverdigheid na vore en word Hy verheerlik as die Volmaakte Regter. Psalm 94:1-3 “O God wat vergeld, Here, God wat vergeld, laat u lig skyn. Verhef U, regter van die aarde, gee hoogmoediges hulle verdiende loon.  Ons kry ook dieselfde gebed in die Nuwe Testament wanneer die vyfde seël oopgemaak word in Openbaring 6:10 “Hulle het met ‘n harde stem geroep: “Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek?”  Dit kan dan ook nie anders dat die skare in die hemel God vir hierdie regverdige oordeel prys nie. Dit is nie ʼn selfvoldane gevoel van “boontjie kry sy loontjie” teenoor iemand wat jou persoonlik te na gekom het nie, ons word immers opgeroep om ons vyande lief te hê en vir hulle te bid, maar eerder ʼn lofprysing teenoor ʼn regverdige God, wat uiteindelik die Bose vernietig.

In hierdie hoofstuk word die lot van Babilon beskrywe teenoor die toekoms van die nuwe Jerusalem, die bruid. God word geprys vir beide aangesien Hy in beheer is van alles wat plaasgevind het en wat nog sal gebeur. Diegene wat hulle vertroue in Babilon geplaas het en hulle vreugde in haar gevind het sal huil en met gevrees gevul wees. Dit staan teenoor die opgewondenheid wat nou heers onder die diensknegte van die Here wat uitroep: “Halleluja”, wat beteken prys die Here. In die Skrif word gelowiges opgeroep om God te prys vir die feit dat Hy wraak sal uitoefen op diegene wat Sy volgelinge mishandel en vermoor het.

  • Deuteronomium 32:43 “Nasies, juig sy volk toe, want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek; Hy gaan wraak neem op sy teenstanders en versoening doen vir sy grond, sy volk.”
  • Jeremia 51:48-49 Hemel en aarde, alles daarin, sal oor Babel jubel; want uit die noorde kom hulle na haar – die verwoesters,” is die uitspraak van die Here. “Ook Babel moet val vir die gesneuweldes van Israel, soos gesneuweldes  van die hele aarde ook vir Babel geval het.

Die straf van diegene wat Babilon gevolg het sal ewig wees en ons sien dat hulle rook vir ewig en ewig sal opstyg. Die kortstondige genietinge van die aardbewoners sal gestraf word met ʼn ewige pyniging teenoor die aardse lyding van die gelowige wat beloon sal word met ʼn ewige heerlikheid. Die belofte in Romeine 8:18 “Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word” word nou bewaarheid. Die vrou met haar verleidelikheid van aardse bevrediging het die goddelose verlei om op kortstondige “sigbare” dinge te fokus. Hierteenoor het die Woord kinders van die Here aangespoor om moed te hou en te bly let op die onsigbare dinge wat ewig is. 2 Korintiërs 4:16-18 Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ‘n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.

Die bruilof van die Lam

Hierdie sal ʼn bruilof wees soos geen ander nie; ʼn bruilof waaraan net die gelowiges waarde geheg het. Hierdie gelowiges bestaan uit geringes sowel as magtiges in hierdie wêreld. God is hulle grootste vrees en nie mense of wat iemand aan hulle kan doen of van hulle sal sê nie. As Hy spreek antwoord sy volgelinge onmiddellik in gehoorsaamheid. Jesus vertel ʼn gelykenis om aan te toon hoe die wêreld hierdie bruilof sal bejeën as onbelangrik of laaste op die prioriteitslys. Jesus vertel in Matteus 22 van ʼn koning wat ʼn bruilof vir sy seun voorberei het en sy diensknegte uitgestuur het om die gaste te nooi. Tot die leser se skok het die gaste verskonings waarom hulle nie die belangrike bruilof kan bywoon nie. Die koning pleit by hulle om te kom, maar die een gaan na sy handelsaak en die ander na sy land. In ʼn soortgelyke gelykenis in Lukas vind ons dat een se verskoning is dat hy ʼn stuk land gekoop het, die ander dat hy pas getroud is en die ander een dat hy ʼn klomp osse gekoop het wat hy wou gaan uittoets. Met watter onbenullighede was hulle nie besig nie?! Met watter onbenullighede is jy besig?

Daar is ʼn opgewondenheid in die Hemel aangesien die finale toneel aangebreek het. Daar is ʼn geroep wat klink soos ʼn groot massa water en donderslae wat uitgaan om God te prys dat Hy Almagtig is en heers oor alles. In die 1953 vertaling word dit vertaal dat Hy “die koningskap aanvaar” en in die 2020 vertaling dat Hy “sy koningskap opgeneem” het. ʼn Hele aantal Engelse vertalings vertaal dit as “heers” wat volgens my die beter vertaling is, aangesien God die Almagtige heers en nie ʼn heerskappy gaan aanvaar of gaan opneem nie, maar dit is ʼn profetiese boodskap wat sê dat Hy heers. Die gelowiges word opgeroep om bly te wees en te jubel aangesien die bruilofsfees van die Lam aangebreek het. Dit waarna elke gelowige en die Hemel skare uitgesien het, het nou aangebreek. Die teks vertel dat die bruid haar gereed gemaak het vir die bruilofsfees. Elkeen wat al getrou het weet wat die “gereed” maak behels.  Dit is ʼn beplanning wat al maande voor die bruilof begin. Die bruid se rok is sekerlik een van die belangrikste komponente wat aandag geniet in die voorbereiding en hier word dit ook beklemtoon. Die belangrikste ding vir enige bruid is hoe sy vir haar bruidegom gaan lyk! Wat gaan hy dink wanneer sy in die paadjie afgestap kom. Die fisiese kleed van die bruid word hier geestelik verstaan, aangesien die kleed van die bruid nie gaan oor haar uiterlike nie, maar oor die regverdige dade van die heiliges. Die teks sê sy het haar gereed gemaak met blink klere van suiwer, fyn linne en dit verteenwoordig die regverdige dade van die heiliges. Hierdie dade is die dade wat God voorberei het sodat sy kinders daarin sal wandel. Efesiërs 2:10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. Die bruid se klere drag staan in sterk kontras teenoor die fyn linne van die prostituut, Babilon. Deel van hierdie dade van geregtigheid in vers 10 is die gelowiges se vashou aan die getuienis van Christus. Deur woord en daad het hulle vir Christus geleef en dit is hierdie kleed wat hulle dra.

Dade van geloof

Paulus skrywe aan die gemeente van Filippense dat hulle hulle eie heil moet uitwerk met vrees en bewing. Hulle dade is ʼn bewys van hulle redding en aan wie hulle behoort en dit word duidelik gewys deur die vers wat net daarop volg. Filippense 2:13 Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. God is dus die Een wat in ons die gewilligheid bewerk om aan Hom gehoorsaam te wees, maar meer as dit, ons ook in staat stel om te doen wat Hy vereis. Elke gelowige kan dus na die vrug in sy/haar lewe kyk en sien of hulle werklik aan God behoort. Vra jouself af of jy die begeerte het om in gehoorsaamheid aan God te leef en ervaar jy God se krag, deur die Heilige Gees, om daardie begeerte te bewaarheid. Hoe wil jy vir God, jou bruidegom, lyk op die dag van die bruilof? Die reformatore het met reg gesê jy word met geloof alleen gered, maar nie met ʼn geloof wat alleen staan nie. Daarom sal slegs diegene wat geklee is met die bruilofskleed toegelaat word by die bruilofsmaal. Matteus 22:12-13 En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal ‘n geween en ‘n gekners van tande wees.

Die gelowige dra vrug. Wat uit elke gelowige se binneste vloei is ʼn fontein van lewende water. Die oomblik as ons vernuwe word en erken dat ons die stem van ons Verlosser gehoor het, kan ons nie anders as om ook soos die vrou by die put mense van Hom te vertel nie. Sy hardloop terug na die dorp vanwaar sy gekom het met ʼn boodskap:  “Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe?” Johannes 4:29. Net so vind ons die man wat as Legio bekend gestaan het, waaruit duisende duiwels gedryf is. Jesus stuur hom terug na sy eie mense om te gaan vertel watter groot dinge God aan Hom gedoen het. Lukas 8:39 “Gaan terug na jou huis en vertel daar wat God alles vir jou gedoen het.” Hy het toe weggegaan en dwarsdeur die dorp bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. So kan ons ook Maria Magdalena noem, ʼn slegte vrou wat meer as ʼn jaar se salaris op reukolie spandeer het sodat sy Jesus se voete kon salf. Hierdie Verlosser was vir haar meer werd as enige iets op aarde. Vir kinders van die Here is niks van groter belang as om hulle Here te ken en Hom te dien nie. Daarom roep Jesus ook sy volgelinge op om die prys te bereken voordat hulle die pad saam met Hom begin stap. Is Christus werklik vir jou van meer waarde as dit wat jy op aarde as wins kan verkry? Lukas 14:26-27 en 33. “As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. Wie nie sy eie kruis dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie. Net so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie.” Dit is alles of niks.

Hoe graag wil die bruid nie op haar beste lyk vir die bruidegom, Christus nie? So beskrywe Paulus ook sy taak as bedienaar van die Woord om die gemeente wat Hy bedien as ‘n rein maagd aan Christus voor te stel. 2 Korinthiërs 11:2 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan Christus, verbind het, om julle as ‘n rein maagd aan Hom aan te bied. Hy verdien my onverdeelde aandag en my absolute getrouheid.

Uitgenooi!

Elkeen wat genooi is na die bruilofsfees is gelukkig. Die boodskap is deur die hele Skrif duidelik dat niemand dit waardig is of iets uit hulle eie gedoen het om uitgenooi te word nie.  Hy het sy liefde aan ons bewys toe ons nog sondaars was. Romeine 5:8 God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Dit word so mooi gestel in Efesiërs dat ons redding en verkiesing ʼn werk van God is en nie uit die mens is nie. Efesiërs 1:4-6 So het Hy ons voor die grondlegging  van die wêreld  in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik  in liefde  voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het  om ons deur Jesus Christus  as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil  goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde  begenadig het. Daar is seker geen vers wat die orde van God se verlossing in ons lewens so goed beskryf as Romeine 8 nie. Romeine 8:29-30 want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Hoe gelukkig en bevoorreg is ons nie!? In Sagaria word hierdie beeld gedemonstreer as Josua voor God staan met vuil klere en God hom beklee met feesklere. Sagaria 3:4 Hierop het die engel gereageer en aan diegene wat voor hom staan, gesê: “Trek sy besmeerde klere uit.” Vir Josua het hy gesê: “Kyk, ek het jou sondeskuld van jou weggeneem en ek sal vir jou feesklere aantrek.” God het ons genooi, ons geklee en laat ons aansit by ʼn feesmaal.

Slot

Johannes word so meegevoer deur dit wat voor Hom afspeel dat hy die engel wil aanbid en onmiddellik gestop word aangesien net God aanbid mag word. Ek glo hierdie beeld is in teenstelling met Johannes se beeld van die vrou wat op die dier sit. Openbaring 17:6b-7 Toe ek haar sien, was ek uitermate verbaas. Die engel sê toe aan my: “Waarom is jy so verbaas? Ek sal die misterie aan jou verduidelik van die vrou, en die dier met sy sewe koppe en tien horings wat haar dra. Daar het hy hom verwonder en nou wil hy in aanbidding neerval. Dit wat hy hier sien oortref alles. Babilon kan nie opweeg teen die bruid van die bruidegom nie. Hoe sal dit wees – daardie dag as ons die bruidegom aanskou – Christus, die Lam? Christus moet aan die wêreld verkondig word of hulle luister of nie. Alles in die Ou en Nuwe Testament verkondig Christus en daarom is Jesus die gees van die profesie. As Jesus met die Emmaus gangers in gesprek is na sy opstanding en hy hulle aankla dat hulle traag is en sonder begrip, begin Hy om die Skrifte aangaande Homself vir hulle uit te lê. Lukas 24:27 Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. So verklaar die Hebreërs skrywer dat God in die eindtyd praat deur sy Seun. Hebreërs 1:1-2 In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.

Die opdrag is duidelik aan elke gelowige. Dit wat voorlê oortref alles in hierdie wêreld. 1 Korintiërs 2:9 Maar soos daar geskryf staan: Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie – dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet. Daarom het ons niks om te verloor nie, maar ons het een doel voor oë, om die opdrag waarvoor God ons geroep het te gaan voltooi. Matteus 28:19-20 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.