Inleiding
Die oordeel oor Babilon is nou gevel en ʼn reeks klaagliedere gaan op van diegene wat onder haar beheer en invloed was. Onthou steeds hoe Babilon in Openbaring 17:5 beskryf is “En op haar voorkop was ‘n naam geskryf, ‘n misterie: Babilon die Grote, die moeder van die prostitute, en van al die afskuwelikhede van die aarde.” Onthou ook dat Babilon die kollektiewe naam is vir alle verleidsters wat mense van God afvallig maak, hetsy ʼn wêreld sisteem, geld sisteem, regering of godsdiens. Die gelowiges word opgeroep om lofsange te sing oor haar vernietiging en dit skep die vreugde van die huwelik van hoofstuk 19. Ons vind dieselfde tipe klaagliedere in Jesaja 23 wanneer daar geprofeteer word oor die val van Tirus. Tirus was ʼn fisiese stad waarmee die wêreld handel gedryf het; wie se inwoners hulself in hoogmoed en weelde hoër as God geag het. Die klaagliedere oor die stad Babilon is ook ʼn ego van Jeremia se oordeel wat hy oor Babilon aangekondig het. Tirus en die stad Babilon kan gesien word as die fisiese skadubeeld van die geestelike Babilon, die prostituut.
Die Engel
Die een wat die oordeel aankondig is ʼn engel uit die hemel en dit word beskryf dat sy heerlikheid die aarde verlig. Regdeur die Ou Testament wanneer die Seun van God verskyn word dit beskryf as die verskyning van ʼn Engel van die Here. Hier kan ons seker wees dat dit Sy verskyning is aangesien heerlikheid deur die hele Openbaring slegs aan God Drie-Enig toegeskryf word. Hierdie is ook heelwaarskynlik ʼn voorloper van die heerlikheid van God wat die nuwe aarde sal verlig, aangesien die heersers van die wêreld nou tot ʼn einde gebring sal word. Die heerlikheid van die Engel is groter as die aardse heerlikheid van Babilon. Wat ook al jou afgod op aarde is – geld, mag, weelde, roem, godsdiens – niks kan opweeg teen Christus se heerlikheid nie. Die Engel kondig die val van Babilon aan aangesien God in beheer is van elke koninkryk wat opstaan en Hy sal elke mag tot ʼn einde bring. Net soos die fisiese Babilon van ouds geval het sal die geestelike verleidelike Babilon ook tot ʼn einde kom. Babilon word beskryf as ʼn plek waar demone en die onreine lewe en ʼn tuiste vind. Dit is dan ook ʼn aanhaling uit Jesaja 34. Jesaja 34:11,13-14 Bontkraaie en kortooruile sal haar in besit neem; grasuile en swartkraaie sal in haar woon. Hy lê die maatlyn van verlatenheid oor haar aan, die weegstene van leegheid. In haar vestings sal dorings opkom – brandnetels en sydissels in haar versterkte stad. Dit sal ʼn lêplek vir jakkalse wees, ‘n blyplek vir steenuile. Woestyndiere sal hiënas daar raakloop, veldgode sal na mekaar roep. Ja, Lilit sal daar draal en vir haar ‘n rusplek vind. As die kleed van Babilon afgetrek word sien ons die boosheid en die demoniese aard van hierdie stelsel. Dit is hierdie stelsel, in watter sisteem dit ook al voorkom, wat aan die nasies sekuriteit gegee het, hulle verlei het en hulle gevoelloos gemaak het vir die toekomstige oordeel.
Verlaat!
Die gelowige word opgeroep om Babilon te verlaat. Van die begin van Openbaring het ons die waarskuwing gesien teen gemeentes wat kompromieë met die wêreld gemaak het. Sardis en Laodisea se gemeentes was deel van die wêreld se sisteem en het daaruit rykdom vir haarself verkry. Hulle was bereid om handel te dryf in die tempels van die afgode, sodat hulle kon ryk word. Johannes waarsku sy luisteraars om nie die wêreld en sy dinge lief te hê nie. 1 Johannes 2:15-16 Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. Dit was die probleem met Lot. Wanneer hy moet kies waar hy wil woon dan kies hy die gebied wat vir hom ekonomies die meeste voordelig sal wees. Hoe langer Lot in Sodom bly, hoe meer word hy ingetrek deur die aanloklikheid van Sodom. So vind ons Lot na sy skeiding met Abraham woonagtig in die Jordaanstreek en dan vertel die Woord dat hy sy tente opgeslaan het tot by Sodom. Genesis 13:12 Abram het in die land Kanaän gewoon, en Lot het by die dorpe van die Jordaanstreek gaan woon; hy het sy tente tot by Sodom opgeslaan. As ons weer van Lot hoor is hy gevange geneem saam met die res van die mense van Sodom, omdat hy toe woonagtig was in Sodom. Genesis 14:12 Hulle het Lot, die broerskind van Abram, en sy besittings gevat en weggegaan. Hy het toe in Sodom gewoon. As dit maar net ʼn waarskuwing vir Lot was, maar ons vind hom in die poort van Sodom as die engele hom kom uitneem. Hoe kruip die wêreld en sy dinge nie nader tot binne in ons harte nie? Selfs nou, waar elke gelowige in hierdie wêreld handel moet dryf, moet ons altyd daarteen waak dat die wêreld nooit ʼn houvas op ons kry nie. 1 Korinthiërs 7:30b-31 …wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. Moet nooit in ʼn vennootskap met ʼn ongelowige gaan nie en moet nooit ʼn kompromie maak in enige besigheidstransaksie nie, ly eerder skade en verloor liewer besigheid. Dit sal jou fokus hou op God as die Een wat jou finansies bepaal en nie die wêreld nie. So word gelowiges ook in Korinte gewaarsku om nie aan dit wat onrein is te raak nie. 2 Korinthiërs 6:17 Daarom: Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af, sê die Here, en moenie aanraak wat onrein is nie. En Ek sal julle aanneem. Hierdie onreinheid het te make met vennootskappe en kompromieë met die wêreld wat die gelowige nie mag maak nie. God se oordeel het deur die geskiedenis oor magtige volkere gekom net soos dit in die finale toneel sal plaasvind. Hierdie gedeelte is dan ook soortgelyk aan Jeremia se profesie wat hy uitgespreek het oor wat met Babilon sou plaasvind en ʼn waarskuwing aan die gelowiges van daardie dag. Jeremia 51:6 Vlug weg uit Babel, laat elkeen sy eie lewe red! Sorg dat julle nie omkom weens haar sondeskuld nie. Want dit is ‘n tyd van wraak vir die Here; ooreenkomstig wat sy verdien, reken Hy met haar af. Die waarskuwing in die verhaal van die Ryk Jongman wat na Jesus gekom het is vir elke gelowige. As Jesus aan hom vertel dat hy alles moet verkoop en dit aan die armes moet gee het hy hartseer weggegaan. Die Skrif verkondig wat die rede hiervoor was. Matteus 19:22 Toe die jong man egter hierdie antwoord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Die waarskuwing is duidelik, bly in Babilon en jy sal saam met Babilon geoordeel word.
Straf
Die gelowiges word opgeroep om haar te pynig dubbeld vir wat sy aan hulle gedoen het. In dieselfde maat wat sy haarself verheerlik en in rykdom geleef het moet sy gestraf word. Sy het gedink dat haar einde nooit sou kom nie. Hoe beskrywend is dit nie van elke ongelowige en die wêreld sisteme nie. Almal het die idee dat hulle vir ewig sal leef en selfs al bely hulle dat hierdie lewe tot ʼn einde sal kom, leef hulle asof daar geen rekenskap sal wees nie. So baie mense, selfs in die kerk, net soos Laodisea van ouds, lewe asof hulle van niks en niemand afhanklik is nie. Openbaring 3:17 Omdat jy sê, Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie, en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie. Daarom is daar so ʼn groot gevaar vir die gelowige rykes in die wêreld. Hulle het soveel veiligheidsnette rondom hulle opgerig dat hulle kan begin dink dat hulle onaantasbaar is en vergeet dat hulle afhanklik is van die Lewende God. Wees veral versigtig wanneer jy na ander kyk asof hierdie boodskap net vir die super rykes is. Nee, dit is ook vir jou.
Huil en juig
Die wat huil oor Babilon is dieselfde groep as die in Esegiël, naamlik die konings, die matrose en handelaars op aarde. Die verband tussen ekonomiese welvaart en afgodery word oral in die Bybel beklemtoon. Hulle is geskok dat so ʼn groot en ryk “stad” in ʼn oomblik, “een dag”, verwoes kon word. Hulle staan op ʼn afstand uit vrees vir haar foltering. Nieteenstaande die verwoesting wat mense sien, sal hulle hulself nie bekeer nie. So sal die Seun alle konings verwoes en hulle regerings tot ʼn einde bring. Psalms 2:9 Jy sal hulle verpletter met ‘n ystersepter, soos erdewerk sal jy hulle stukkend slaan.
Teenoor die gehuil en die hartseer van die mense op aarde is die oproep aan al die heiliges om te juig aangaande haar oordeel. Dit is in teenstelling met dit wat gebeur het met Christus se kruisiging. Johannes 16:20 Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. Die wêreld en sy heersers was in ekstase toe Christus vermoor is terwyl die gelowiges getreur het, al was dit net ʼn oomblik, aangesien Hy die Sondag opgestaan het. Nou sal die wêreld treur, maar die gelowiges sal opgewonde wees en juig. Die gelowiges het gely onder die wêreld sisteme en die heersers van hierdie wêreld en daarom is die vernietiging daarvan ʼn rede tot vreugde. Miskien is een van die grootste probleme van so baie wat bely dat hulle gelowiges is, dat hulle geen haat of antagonisme van hierdie wêreld ervaar nie. Johannes 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Baie het so gemaklik geword met die wêreld se idees dat hulle totaal inpas en die wêreld hulle as sy eie beskou. Die gelowige pas nooit hier in nie. Ons ervaar ʼn ander wêreld wat na ons roep en waarna ons verlang.
Slot
Babilon word opgetel as ʼn klip, ʼn maalklip van ʼn donkie, en in die see gegooi. Dit is in teenstelling met die klip wat Jeremia in die Eufraat moes gooi wat die val van Babilon ten toon gestel het. Hier is dit egter ʼn maalklip wat ʼn groot klip is. Hierdie beeld herinner aan Jesus se belofte oor wat met enige iemand sal gebeur wat een van hierdie kindertjies laat struikel. Matteus 18:6 Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ‘n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Die kleintjies waarvan Jesus praat is die gelowiges. Babilon word dus vergelyk met ʼn stad wat dit reggekry het om God se kinders te laat struikel en daarom word hierdie beeld vir sy straf aangedui. Die waarskuwing van die begin van Openbaring kom weer ter sprake. Verlaat die wêreld, want dit sal jou verlei. Nou word dit wat die verleiding veroorsaak het gestraf en diegene wat hulself suiwer gehou het van die besoedeling van die vrou (die menslike afgode van mag en roem en weelde) kan juig. Onthou die woorde van Jesus in Matteus 18 dat die gelowige eerder sonder ʼn hand of oog die ewige lewe moet ingaan as om in die ewige vuur gegooi te word.
Matteus 16:26 Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Ons weet dat die verleiding kom, ons weet dat dit, indien moontlik selfs die uitverkorenes sou mislei. Wanneer jy dus na die wêreld kyk en met begeerte staar na diegene wat lyk asof hulle alles het, wanneer die vrou jou uitlok om God te verlaat en ander dinge belangriker te ag, lees weer Openbaring 18 en sien die uiteinde van die vrou, die Groot Babilon, die hoer.
