Openbaring 17:12-18 Die tien konings en die dier.

Inleiding

Ons gaan in hierdie inskrywing voort om die dier te beskryf. Ons het alreeds met die vorige inskrywing die prostituut identifiseer as enige wêreldmag of stelsel wat die mens weglei van die aanbidding van die ware God. Die dier is die antichris en word voorgestel

As “‘n helderrooi dier, wat oortrek was met godslasterlike name, en wat sewe koppe en tien horings het.” Openbaring 17:3. Die sewe koppe is identifiseer as die regerings deur die eeue wat die gelowiges vervolg het en ons weet dat ons nou ten tye van die sewende kop leef. In hierdie gedeelte word die tien horings van die dier beskrywe. Dit is belangrik om nie die tien horings aan spesifieke koninkryke/regerings te probeer koppel nie, maar om te verstaan dat die getal tien, soos die res van die getalle in Openbaring, slegs simbolies gebruik word om die talle regeerders op aarde wat saam sal staan en die prostituut sal ondersteun te verteenwoordig.

Die tien horings

Die tien horings is soortgelyk aan die vierde dier van Daniel se tien horings en ook die tien tone van Nebukadneser se beeld wat hy gesien het. 

  • Daniël 7:7 Daarna het ek in my nagtelike visioene gesien: Kyk, daar was ‘n vierde dier, vreesaanjaend, skrikwekkend en buitengewoon sterk, met groot tande van yster. Hy het verslind en vermorsel, en wat oorgebly het, met sy pote vertrap. Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad.
  • Daniël 2:42 En die tone van die voete wat deels van yster en deels van klei is – ‘n deel van die koninkryk sal sterk wees, en ‘n deel daarvan sal breekbaar wees.

Die interessante is dat die draak, wat die duiwel is, ook tien horings op sy kop het. Dit dui aan dat hierdie regeerders deur alle eeue saam sal staan in hulle doel om die Kerk te vervolg en te verwoes. Tog, in die laaste oomblikke, tydens die heerskappy van die dier (die antichris) sal God hierdie tien konings outoriteit gee om saam met die dier te heers. Die tyd van hulle heerskappy is vasgestel vir een uur. Vir ʼn bepaalde tyd sal hulle hulle heerskappy aan die dier oorgee sodat hulle onder sy gesag oorlog kan voer teen die Lam. In Daniel is die klein horing, die antichris, die een wat oorlog voer en die heiliges oorwin, soortgelyk aan wat vertel word in Openbaring 11 en 13.

  • Daniël 7:21Ek het gesien hierdie horing maak oorlog teen die heiliges, en hy was besig om die oorhand oor hulle te kry,
  • Openbaring 11:7 Wanneer hulle hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onpeilbare diepte verrys, teen hulle oorlog maak, en die oorhand oor hulle kry, en hulle doodmaak.
  • Openbaring 13:7 Hy is toegelaat om teen die heiliges oorlog te voer, en hulle te oorwin. Aan hom is ook volmag gegee oor elke stam en volk en taal en nasie.

Die Lam

Teenoor hierdie gedeeltes word nou aangekondig dat die Lam die oorwinning sal behaal. Hulle word net ʼn bepaalde tyd gegee om te heers en oorlog te maak teen die heiliges en die tydperk van hulle oorwinning is deur God vasgestel. Dit word ook bevestig in die vers in Daniel met die woordjie “totdat”. Daniel 7:22 totdat die Oue van Dae gekom het en ‘n uitspraak gegee is ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het toe aangebreek, en die heiliges het die koninkryk in besit geneem. Hierdie gedeeltes bring die verwagting na vore dat die heiliges die goddelose sal oordeel. 1Korintiërs 6:2 Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake? Op aarde sal ons verwoes word en sal hulle alles wat sleg is van ons sê, maar die gelowige weet dat God ʼn dag bepaal het waarin Hy al die goddelose sal vernietig en in daardie dag sal Sy kinders ook totale heerskappy hê oor die goddelose. Die beeld is duidelik, die antichris sal saam met die tien konings tydelik op aarde regeer in teenstelling met die gelowiges wat in die ewigheid konings sal wees. Openbaring 5:10 U het hulle ‘n koninkryk en priesters  vir ons God gemaak, en hulle sal as konings  oor die aarde heers. Hoe tragies dat iemand die ewige sal ruil vir ʼn kortstondige heerskappy, ja net ʼn uur, op ʼn aarde wat vernietig gaan word. Jesus praat met sy volgelinge en vertel aan hulle dat hulle hul kruise moet opneem en Hom moet volg. Hy maak dit baie duidelik dat diegene wat Hom sal volg dit swaar sal hê op aarde en dat baie van hulle hul lewens sal verloor en tog, al sal hulle dit verloor, sal hulle die persone wees wat ewig sal lewe. Dan sê Jesus die volgende: Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Matteus 16:26. Is hierdie wêreld en die dinge van hierdie wêreld vir jou van meer waarde as die ewige? Bereken jy jou waarde en die van ander aan dit wat die wêreld as belangrik ag? Die Skrif beskryf jou dan as ʼn dwaas. Al die aardse dinge sal tot ʼn einde kom en al het Christus nog nie gekom voor jou afsterwe nie sal jy ontdek dat jy niks van die aardse saam met jou sal kan neem nie.

Die Lam wat oorwinning sal behaal word genoem die Heerser van die heersers en die Koning van die konings. Dit is ʼn aanhaling uit Daniel 4 van die LXX. Die aanhaling is deel van ʼn belydenis van Nebukadneser nadat hy homself verhoog het en gedink het dat alle eer aan hom toekom en nadat God hom verneder het om soos ʼn dier gras te vreet. Nebukadneser erken dat God alles beheer en dat niemand Hom kan teengaan nie. Hierdie aanhaling is dus so gepas aangesien die antichris en die tien konings dink dat hulle in beheer is van alles en kan maak soos hulle wil, en tog is die ware Heerser en Koning in beheer.

Haat vir die vrou

In die einde van hierdie toneel sal God die partye wat saam gestaan het gebruik om die vrou, die prostituut, die een wat op sewe berge sit, te vernietig. Sy sit ook op die waters wat beskrywe word as volke en skares en nasies en tale. Al hierdie mense volg die valse godsdienste en die geld en weelde van hierdie wêreld wat ook deel vorm van die afgodery van die wêreld. In Openbaring 17:18  word ook gesê dat die vrou heerskappy het oor al die konings van die aarde.  (Dit is tog interessant om te sien dat selfs vandag nog Rome so ʼn groot invloed het oor die konings van die aarde. Hou maar net dop as ʼn pous sterwe hoe die heersers van die wêreld saam kom in Rome.)

Die antichris en die tien konings sal eers hulle woede op die vrou uitwoed voor hulle die Lam sal probeer verwoes. Die verwoesting van die vrou word op baie maniere beskrywe in die Ou Testament waar koninkryke soos Egipte beskrywe word dat hulle vernietig sal word deur Babilon (Esegiël 29, Jeremia 46). Selfs goddelose Israel word ook op hierdie manier beskrywe.

  • Esegiël 23:25-27 Ek sal my heilige jaloesie teen jou rig, en hulle sal in woede met jou handel. Jou neus en ore sal hulle afsny, en wat van jou oorbly, sal deur die swaard val. Dit is hulle wat jou seuns en dogters sal wegneem; wat van jou oor is, sal deur vuur verteer word. Hulle sal jou klere van jou afstroop en jou versiersels vat. So sal Ek ‘n einde maak aan jou skandelike gedrag en hoerery wat in Egipteland begin het. Jy sal nie meer na hulle opkyk en aan Egipte sal jy nie weer terugdink nie.
  • Esegiël 16:37-40 daarom, kyk, Ek gaan al jou minnaars byeenbring, hulle aan wie jy genot verskaf het, elkeen vir wie jy lief was, sowel as elkeen wat jy gehaat het. Ek bring hulle teen jou byeen, van oraloor. Ek gaan jou kaal uittrek voor hulle. Hulle sal jou in al jou naaktheid sien. Ek gaan aan jou die vonnisse voltrek van vroue wat egbreuk pleeg en bloed vergiet. Ek sal jou onderwerp aan die bloedwraak van woede en heilige jaloesie. Ek gaan jou in hulle hand oorgee. Hulle sal jou plekke van hoerery opbreek en jou offerhoogtes afbreek. Hulle sal jou klere uittrek en jou versierings vat. Hulle sal jou ontbloot en nakend agterlaat. Hulle sal ‘n horde teen jou laat optrek, en dié sal jou met klippe doodgooi, jou opkap met hulle swaarde.

Die goddelose sisteem van die Antichris sal draai teen die sosio-ekonomiese-godsdienstige kant en dit vernietig. Ons sien in Openbaring dat die Antichris wil hê dat almal hom moet aanbid. Geen ander godsdiens sal meer aanvaar word nie. Op hierdie stadium word alle valse godsdienste gebruik om mense weg te lok van die aanbidding van Christus, maar daar sal ʼn dag kom waar net een godsdiens toegelaat sal word. So, die vrou sal jou weglok van die Here, om die wêreldse dinge hoër as God te ag, en daarna sal die Antichris hierdie afvalligheid tot sy voordeel gebruik om die mag te verkry om mense te dwing om hom alleen te aanbid. Iets wat aanvanklik vir mense wonderlik gelyk het sal nou verander in die afgryslike heerskappy van die Antichris. Ons kan hier dink aan regerings waar mense vir ʼn leier gestem het wat ʼn absolute despoot geword het en met mag en geweld mense onderdruk om aan hom onderdanig te wees. Dalk sê jy vir jouself dat jy nooit vir so ʼn leier sal stem nie, maar die valse godsdiens is alreeds besig om mense reg oor die wêreld te mislei, sodat hulle dink dat hulle vir God dien, maar dit is ʼn valse god wat geskep is deur die mens se vlees. Soos Delila van ouds deur die Filistyne gebruik is om Simson te mislei, so sal die wêreld deur die vrou mislei word, tot uiteindelike vernietiging.

God in beheer

Tog met al hulle beplanning wys Christus aan sy volgelinge dat Hy die bron van hul outoriteit is. Openbaring 17:17 Want God het dit op hulle harte gelê om sy bedoeling uit te voer, en om een doelwit voor oë te hê: om hulle koningskap aan die dier beskikbaar te stel, totdat God se woorde hulle volledige doel bereik het. Die gelowige moet nooit uit die gesig verloor dat God heerskappy oor alles het en dat Hy alles laat gebeur volgens sy plan en doel nie. Dalk is dit vir jou ʼn vreemde en self godslasterlike gedagte dat God dinge kan beplan wat in ons oë boos is. Kom ons dink aan die kruisiging. Dit is sekerlik een van die wreedste en boosste dinge om iemand onskuldig aan ʼn kruishout op te hang, tog was dit God se plan. Nie net het Hy dit toegelaat nie, Hy het dit beplan. Ons kan dit sien vanuit die Psalms en die professieë wat sy kruisiging voorspel het. Handelinge 4:27-28 Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. Dit is belangrik om te sien dat, nie net veroorsaak God dit wat moet gebeur nie, maar Hy lê dit ook in hulle harte om sy bedoeling uit te voer. Hierdie woord het nie te maak met ʼn toestemming wat God gee nie maar as ʼn goddelike bepaling. As jy worstel met hierdie gedagte is dit altyd goed om te onthou dat God nie sonde doen of die oorsaak is van sonde nie. Hy is heilig en sonder enige sonde. God wat sy plan in die hart van die mens gee om uit te voer is ook die God wat in ʼn bose hart dit ingee om te doen wat Hom sal verheerlik, al lyk dit in die mens se oë boos. (Soos in die geval van sy kruisiging) Hier is dit goed om ook na die voorbeeld van die profete wat voor Agab geprofeteer het te gaan kyk. Josafat, die swaer van Agab, was ʼn goddelike man en wou weet wat God se uitspraak is aangaande die oorlog wat Agab wou hê hulle moes voer. Al die profete stem in dat God hulle die oorwinning sal gee behalwe een, naamlik Miga. Hy vertel aan die konings dat God op sy heerlike troon sit en vra wie Agab sal mislei om in die oorlog op te trek en te val. Daar kom dan ʼn gees na vore en sê die volgende: Ek is die een wat hom sal mislei. Toe vra die Here vir hom,  Hoe?  Hy het geantwoord, Ek sal uitgaan en ‘n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die Here, Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so! Daarom, kyk, die Here het ‘n leuengees geplaas in die mond van al hierdie profete van u. Die Here self het onheil teen u gelas. 1 Konings 22:21-23. So gebruik God ook deur die geskiedenis koninkryke, soos bv. Assirië om alles uit te voer wat Hy bepaal het. Jesaja 10:5-6 Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – ‘n staf is dit in hulle hand. Teen ‘n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle ‘n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. So ook salGod aan die einde van die tye sorg dat die laaste koninkryk verdeeld word. Daarom sien ons ook in die beeld van Nebukadneser dat die tien tone wat uit klei en yster opgemaak is ʼn koninkryk is wat verdeeld sal wees.

Slot

Oor en oor in Openbaring word die gelowiges verseker dat God totale heerskappy het en dat die vervolging en die verwoesting van die gelowiges net vir ʼn bepaalde tyd sal voortduur. God wil beslis nie hê dat gelowiges moedeloos moet word of bevrees moet wees gedurende hulle wandeling op aarde nie, maar dat hulle vaste sekerheid moet hê dat God in beheer is en heers ten spyte van dit wat hulle sien en ervaar.

Romeine 8:35-39 Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskryf staan: Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou. Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.