Gideon vra n teken.

Gideon het geweet die Midianiete kom weer om hulle aan te val. Hulle het ‘n groot leër gehad en in die vallei kamp opgeslaan. Gideon wou seker maak God sal hom help as hy teen hulle moet gaan veg en daarom het hy vir God ‘n teken gevra. Hy het gesê: “God, as U my regtig gaan gebruik om Israel te red, gee my ‘n teken. Ek sit ‘n stuk wol op die grond. Maak die wol nat met dou, maar hou die grond droog.” Die volgende oggend was die wol sopnat, en Gideon kon water daaruit druk, maar die grond was droog.

Gideon was nog onseker en het nog een keer gevra: “Moenie kwaad wees nie, God, maar kan U nou die wol droog hou en die grond nat maak?” Die volgende oggend was die wol droog, maar die grond was nat met dou. Toe het Gideon geweet dat God by hom is.

God het vir Gideon gesê: “Roep al die mense om te kom veg.” Baie mense het gekom – 32 000 soldate. Maar God het gesê: “Dis te veel. Die mense sal dink hulle het self gewen. Sê vir almal wat bang is, hulle kan huis toe gaan.” Toe het 22 000 mense huis toe gegaan; net 10 000 het oorgebly.

God het egter gesê: “Daar is nog te veel soldate. Neem die mense na die water en kyk hoe hulle drink. Dié wat water met hulle hande opskep en drink, moet oorlog toe gaan, maar dié wat op hulle knieë gaan en soos honde drink, moet jy huis toe stuur.” Net 300 mense het water met hul hande opgeskep om te drink. God het gesê: “Met hierdie 300 sal Ek die Midianiete verslaan.”