Inleiding
Wat is prostitusie? Letterlik is dit wanneer mense in seksuele aktiwiteite betrokke raak vir betaling. Dit is ʼn wegbeweeg van God se ontwerp en plan vir ʼn man en vrou om in die huwelik die seksuele te geniet. As ʼn metafoor beteken dit dieselfde, behalwe nou op ʼn geestelike vlak. Die mens verlaat die plan en ontwerp van God en smag na afgode en streef na wêreldse genot ten koste van hul verhouding met God. Die verleidster in albei gevalle word gesien as ʼn prostituut, die een wat jou weglok van God met die leuen van die Satan. In hierdie hoofstuk beweeg ons nou weg van die oordeel van die wêreld na die oordeel wat hierdie verleidster(s) gaan tref.
Die Prostituut
Babilon die grote, word beskryf as ʼn groot prostituut wat op baie waters sit. Neem kennis dat Babilon die kollektiewe naam is vir alle verleidsters wat mense van God afvallig maak, hetsy ʼn wêreld sisteem, geld sisteem, regering of godsdiens. Twee stede word in Openbaring teenoor mekaar gestel, nl. Jerusalem, die bruid van Christus, en Babilon, die prostituut. In die Ou Testament word Israel as beide beskrywe. Wanneer Israel getrou is word sy beskrywe as die bruid van God en wanneer sy verval in afgode aanbidding word sy as ʼn prostituut beskrywe. So ook word lande wat rondom Israel was wat afgode aanbid en Israel verlei het om dieselfde te doen, as prostitute beskrywe. Babilon was die prostituut waarmee die konings van die aarde gehoereer het en van wie die mense van die aarde dronk geword het.
Rykdom
Waardeur word sy gekenmerk en hoe kan ons haar vandag herken? Hierdie vrou is geklee in rykdom wat eerstens uitgebeeld word deur die pers en rooi kleur van haar kleredrag. Die pers kleurstof was baie duur en was gedra deur die hoë klas. Tweedens dra sy goud, kosbare stene en pêrels wat ons ook van haar rykdom vertel. Ons kry dus dadelik die beeld van die twee stede teenoor mekaar. Die nuwe Jerusalem, wat ook beskryf word as ʼn stad met strate van goud, poorte van pêrels en fondasies versier met edelstene, teenoor Babilon. Die ware en die valse word teenoor mekaar gestel. Die beeld is duidelik die van ʼn wêreld wat na aardse genot en welvaart smag teenoor die ware gelowiges wat uitsien na die hemelse Jerusalem. Dit is dan ook waarteen God vir Laodosea waarsku. Openbaring 3:17-18 Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Die gelowige word opgeroep om nooit in ʼn vennootskap met die wêreld te wees nie. Nie in besigheid of in die huwelik nie. 2 Korintiërs 6:14-15 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial, of wat het ‘n gelowige gemeen met ‘n ongelowige? Hierdie wêreld met al sy dinge en begeertes wil ons insluk en ons moet daarteen waak om nie deel van die wêreld te raak nie. 1 Korintiërs 7:30-31 wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. Die boodskap is duidelik: Sien die prostituut raak vir wat sy is: ʼn valse genot van verbygaande aard, wat jou sal ontneem van die ware vreugde wat verewig sal duur. Die wêreld is egter dronk van haar. As jy dronk is kan jy nie meer reg dink en handel nie. Jou oordeel is benewel en jy is blind vir gevaar. Dit is waarom die ongelowige se sekuriteit, genot en wese een is met die dinge van hierdie wêreld. Jy is totaal onder die invloed van die wêreldsisteem. So beskrywe Hosea ook die mense van sy tyd. Hosea 4:11-12 hoerery; en omdat wyn en nuwe wyn hulle verstand benewel, doen my volk navraag by ‘n stuk hout; sy wandelstok moet vir hom inligting gee. Omdat ‘n gees van hoerery hulle laat dwaal, hoereer hulle weg van hulle God af.
Verleidelik
Johannes se verwondering as hy die vrou op die dier sien sit wys vir ons dat hierdie prostituut vir die mens baie aanloklik sal wees en dat selfs die gelowige ʼn stryd teen haar aanloklikheid moet voer. Verleiding is gewoonlik ʼn subtiele manipulasie van ʼn persoon. Ons het dikwels die idee dat ons self die bose sal kan waarneem en hul plot sal kan identifiseer. Nee, die Bybel sê dat Satan hom voordoen as ʼn engel van die lig. Die gesegde sê nie verniet dat alles wat glinster nie goud is nie. Dit sal reg lyk en reg klink en selfs reg voel, omdat dit is wat ons vlees wil hê. Ons het die krag en onderskeidingsvermoë van die Heilige Gees in ons lewe nodig om vas te kan staan. Daarom vertel die teks aan ons dat diegene wie se name nie van die grondlegging van die aarde af in die boek van die lewe opgeskrywe is nie, hulle sal verwonder aan die dier. As die gelowige dan bewaar sal word kan die vraag maklik wees waarom hulle dan gewaarsku moet word? Tog is dit regdeur die Skrif duidelik dat ʼn deel van God se reddingsplan insluit dat gelowiges gewaarsku moet word om ‘n stryd te voer teen die sonde en die wêreld. 2 Petrus 1:10 Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. So waarsku Paulus ook die Korintiër gemeente dat diegene wat staan moet oppas dat hulle nie val nie. Die gelowige moet nooit selfversekerd raak in sy eie krag nie, maar moet elke dag in afhanklikheid van die Here lewe en hom wapen met die geestelike wapens wat God hom gee.
Die dier
Die vrou en die dier is nie dieselfde nie, aangesien die dier slegs die vrou gebruik in die misleiding van die wêreld. Die dier waarop sy sit is alreeds aan ons bekend gestel in hoofstuk 13. Hierdie dier is die antichris. Hy het godslasterlike name op hom wat aandui dat hy homself voordoen as God. Die sewe koppe word ten eerste beskrywe as sewe berge. Enige leser in die Bybelse tyd sou onmiddellik geweet het dat Johannes van Rome gepraat het, want Rome het bekend gestaan as die stad met sewe berge. Dus kan die vrou identifiseer word as Rome. Dit was die rede waarom ʼn groot groep van die reformatore die vrou geïdentifiseer het as die Rooms Katolieke Kerk, aangesien haar hoofkwartier in Rome is en die pous geïdentifiseer het as die dier, aangesien die name wat die pous vir homself geneem het godslasterlik is. Verder het die pous homself die mag toegeëien om sondes te kan vergewe, iets wat godslasterlik is en hom verder identifiseer as die dier/antichris. Die vrou word beskryf as die een wat dronk geword het van die bloed van die gelowiges. Dit was dan nog ʼn sterk rede waarom die vrou as die Rooms Katolieke Kerk geïdentifiseer is, want baie gelowiges is voor en gedurende die reformasie vermoor deur die Roomse kerk. Vandag sal dit nie verkeerd wees om enige valse kerk met die prostituut te identifiseer nie. Daar is vele kerke waar predikante en pastore hulself “goddelik” verklaar, hetsy direk, of subtiel deur die Woord van God te verander soos hulle goed dink. Dit is dan ook ʼn waarskuwing vir enige pastoor of predikant wat dink dat jy “onskuldig” aan God se Woord kan verander deur aan die tydsgees toe te gee. Jy doen jouself voor as God en dit word jou woord in plaas van Syne. So word jy deel van die prostituut en van die antichris se plan.
Sewe Koppe
Kom ons kyk weer na die beskrywing in hierdie gedeelte van die dier. Hoe meer hy beskryf word hoe meer sal die dier vir ons sigbaar word. Hy word beskryf as een “wat was en nie is nie, alhoewel hy is.” Wat dit kan beteken word beantwoord met die beskrywing van die sewe koppe van die dier. “Vyf het geval en een is en die ander een het nog nie gekom nie en wanneer hy kom moet hy vir ʼn kort tydjie bly.” Watter vyf het geval? Aangesien ons altyd die antwoord van enige vraag in Openbaring vanuit die Skrif moet vind is dit weereens belangrik om dit hier ook te doen. In Openbaring is daar alreeds na die dier verwys as beelde uit Daniel. Openbaring 13:2 Die dier wat ek gesien het, het net soos ‘n luiperd gelyk, met pote soos dié van ‘n beer en ‘n bek soos dié van ‘n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. Hier het ons opgemerk dat hierdie diere die Babiloniese, Mede en Persiese en Griekse ryke verteenwoordig. Met die skryf van die boek van Openbaring was die sesde kop in beheer, wat beslis die Romeinse ryk was, wat ook in Daniel beskryf word. Daniël 7:7 Daarna het ek in my nagtelike visioene gesien: Kyk, daar was ‘n vierde dier, vreesaanjaend, skrikwekkend en buitengewoon sterk, met groot tande van yster. Hy het verslind en vermorsel, en wat oorgebly het, met sy pote vertrap. Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad. Hierdie dier kan ons ook sien het ooreenkomste met die dier van Openbaring aangesien hy ook tien horings het. Die vraag ontstaan dan, “Indien hierdie die sesde kop was en die drie ander koppe die Babiloniërs, die Mede en Perse en die Grieke is, wie was die ander twee wat nie in Daniel beskryf word nie?” Die vraag kan beantwoord word as ons sien dat elke kop van die dier die gelowiges van die Ou Testament en die Nuwe Testament vervolg het. Daar is twee magte, twee koppe, wat voor die tyd van Daniël die Ou Testamentiese gelowiges vervolg het en dit was die Egiptenare en die Assiriese mag wat die tien stamme van Israel verwoes het. Vyf koninkryke het dus al geval, (Egipte, Assirië, Babilonië, Mede en Perse en Grieke) net soos die engel aangekondig het, en die sesde, wat nou heerskappy het, is Rome. Die sewende wat sal kom sal vir ʼn kort tyd daar wees. Enige gelowige kan die sewende kop van die dier dus identifiseer met die koninkryk wat in sy tyd heerskappy het en die kerk vervolg, soos die reformatore ook gedoen het, totdat die finale koninkryk sal opstaan waarin die antichris heerskappy sal hê. So sal die antichris, net soos die ander koninkryke deur die geskiedenis, God se kerk vervolg. Dit is duidelik vanuit Johannes dat daar baie antichriste deur die geskiedenis sal wees totdat die finale antichris sy verskyning sal maak. 1 Johannes 2:18 Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is.
Slot
Die gelowige ontvang deur die geskiedenis die berusting dat God in beheer is van wanneer elke koninkryk sal opstaan en ook vir die “tydjie” wat hulle moet heers. Wat seker is van elke heerser en gesag is dat daar ʼn dag van oordeel sal aanbreek. Alle wêreldmagte of mag stelsels vorm deel van die prostituut, die Groot Babilon, en hier word aangekondig dat hulle gaan na die verderf. Elke koninkryk, hoe sterk ook al in mense oë, sal tot ʼn einde kom, soos alreeds deur die geskiedenis bewys is. Daar is net een Koning wie se heerskappy van ewigheid tot ewigheid is en dit is Christus. Hy is die begeerte van die bruid, die Kerk. Hooglied 6:3 Ek behoort aan my liefste en my liefste behoort aan my, hy wat tussen die narsings wei.
