Inleiding
In hierdie hoofstuk sien ons die effek van God se wraak. Dit is nie net dreigemente nie, maar word nou ʼn werklikheid wanneer die engele opdrag kry om die wraakbakke op die aarde uit te gooi. Dalk is hierdie vir baie mense ʼn “openbaring” van wie God is. So dikwels vandag word God se liefde en genade verdraai om te beteken dat Hy alles veroorloof en oorsien. Hierdie is beslis ʼn verdraaide beeld van God aangesien hy keer op keer homself openbaar as ʼn regverdige God aan wie die wraak toekom. Lees maar Psalm 79 en die beeld van God en sy toorn word duidelik sigbaar. Hierdie hele gedeelte in Openbaring stem ooreen met Psalm 79. Net soos in Psalm 79 kom daar ʼn oproep om God se wraak uit te stort en in vers 12 dat dit sewevoudig gedoen moet word.
Psalms 79:6 Stort u gramskap uit oor die nasies wat U nie ken nie, oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie;12 Vergeld ons bure sewevoudig waar dit hulle erg raak vir die bespotting waarmee hulle U bespot het, my Heer! So word daar ook in dieselfde Psalm aangekondig dat die wraak die nasies tref aangesien hulle die regverdiges se bloed uitgestort het. Psalms 79:3 Hulle het hulle bloed soos water uitgestort om Jerusalem, en daar was niemand wat hulle begrawe het nie.
“Gooi die bakke uit”
Die stem kom uit die Hemel wat die opdrag aan die sewe engele gee om die wraak bakke op die aarde uit te gooi. Dit is ʼn sinspeling op Jesaja 66. Jesaja 66:6 Die geluid van ‘ʼn rumoer uit die stad! ‘n Geluid uit die tempel! Die stem van die Here wat met sy vyande afreken volgens wat hulle verdien!
Wraak en lof
Die eerste wraakbak is kwaadaardige en bose swere wat op die mense kom wat die merk dra en die beeld aanbid het. Hierdie is beslis ʼn sinspeling op die plaag van swere in Egipte. Net so is die tweede en derde bak ook ʼn verwysing na die eerste plaag in Egipte waar water in bloed verander het. Die derde bak is weer soortgelyk aan die derde trompet wat geblaas het en die water wat bitter geword het. Die tweede wraakbak bring ook ekonomiese ellende wat verder bevestig word in hoofstuk 18 waar die bron van welvarende maritieme handel uitgewis word. Die bloed is ook verder ʼn aanduiding van die ongelowiges se intense lyding wat hulle sal deurmaak gedurende God se wraak op die ongelowiges. Die derde engel, wat ook die engel van die water genoem word en deur die genitief in die Grieks aangedui word as die een wat beheer het oor die water, kondig God se regverdigheid aan. God word geloof en geprys ten tye van Sy wraak aangesien Sy wraak regverdig is. Sy regverdigheid word besing aangesien dit plaasgevind het op grond van die gebede van die gelowiges wat onder die altaar gesien word in hoofstuk 6. Ons hoor dan ook die stem van die engel van die altaar wat sê dat God se oordeel betroubaar en regverdig is. Hierdie mense verdien God se wraak. Alles in die Hemel en op aarde moet God se lof besing in alles wat Hy doen, ja ook in Sy wraak moet Hy besing word.
Valse beeld
Die ongelowiges verdien wat hulle ontvang. Dit is die probleem met so baie mense wat bely dat hulle gelowiges is, maar God net kan prys as dit met hulle goed gaan, of Hom kan prys aangaande Sy liefde. So baie het ʼn afbeelding van God gemaak, wat meer lyk soos die goue kalf van die Israeliete in die woestyn. Net soos die Israeliete het mense die vermetelheid om hul valse beeld die ware God te noem, die God wat hulle uit Egipte gelei het. Die naam van God bly dus dieselfde, maar wie Hy is word totaal hervorm deur die mens se afgodsdenke. Hierdie is dan ook presies waarteen die tweede gebod waarsku. Eksodus 20:4 Jy mag nie vir jou ‘n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. Die oomblik as ons God se heiligheid verstaan, verstaan ons ook sy wraak. God se genade met die mens kom juis dan na vore, aangesien Hy die reg het om almal onmiddellik uit te wis en dit nie doen nie. Nee, hy gee aan die mens genadetyd en waarsku oor en oor deur Sy Woord. Dink net aan die boosheid en ongehoorsaamheid van Israel in die woestyn, vir veertig jaar lank, en jy moet jou verwonder aan God se genade. Geen mens sou dieselfde geduld met iemand anders hê nie en tog is mense geskok as hulle lees dat God straf. God se wraak behoort jou nooit te skok nie, aangesien ʼn Heilige God die mag het om onmiddellik uit te wis en regverdig sou wees as Hy dit sou doen. Deuteronomium 32:4 Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.(Ou Vertaling)
Redding kom van God
Met die gooi van die vierde en vyfde wraak bak word duisternis en die son gebruik om die aardbewoners te pynig. Hulle pyniging staan in sterk kontras teenoor die stand van diegene wat voor die troon van God is. Openbaring 7:16 Hulle sal nie meer honger of dors word nie; nie die son nie, ook geen hittegloed sal hulle brand nie. Die duisternis is weer ʼn sinspeling op die plae in Egipte. Die son word met die uitgooi van die vierde wraakbak toegelaat om die mense met vuur te skroei. Die vyfde wraakbak is so erg dat mense hulle tonge byt van die pyn en tog in albei gevalle bekeer hulle hulle nie en met die vyfde wraakbak laster hulle selfs vir God omdat Hy hulle pynig. Baie keer het ons die idee dat mense se omstandighede sal bepaal of hulle tot inkeer sal kom en God sal eer. Volgens ons kort party mense net ʼn bietjie meer teëspoed en hulle sal hulle tot God wend. Dit gaan met hulle net te goed en hulle is te selfversekerd. Of die teendeel moet geskied. As God net vir hulle hierdie een ding sal laat uitwerk sal hulle besef dat hulle God nodig het. Ons sien dit reg deur die Skrif dat dit alles behalwe die waarheid is. Gam beleef God se wraak oor die aarde en skaars is die wraak verby en Gam sondig. Die plae tref die Egiptenare en skaars is die tiende plaag verby of die Farao en sy manskappe val die Israeliete aan, en meer as dit, storm die see binne wat God in sy almag gekloof het om by die Israeliete uit te kom. Hoe is dit moontlik dat iemand die waters aan weerskante kan sien staan en steeds die verwaandheid het om hierdie magtige God wat dit bewerkstellig het, teë te gaan. Net so spreek Daniël ook koning Belsasar aan nadat hy die hand, wat sy oordeel aangekondig het, teen die muur sien skrywe het. Hierdie koning het alles gesien wat met sy pa gebeur het en tog het hy nie daaruit geleer nie. Daniël 5:21-22 Hy is verdryf, weg van mense af, en sy hart het soos dié van ‘n dier geword. By die wilde donkies was sy woonplek. Hy is gras gevoer, soos vir beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword – totdat hy erken het dat die Allerhoogste God mag het oor ‘n menslike koninkryk, en dat Hy daaroor aanstel wie Hy wil. Maar u, sy seun Belsasar, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles geweet het. Ons sien dit ook in die Nuwe Testament as Paulus voor die goewerneur Sergius verskyn en die towenaar Elimas vir Paulus teengaan om te verhoed dat die goewerneur die evangelie hoor. Paulus bestraf die towenaar sodat hy blind word. Die goewerneur kom tot inkeer, maar die towenaar soek iemand om hom te lei aangesien hy niks kan sien nie. Selfs tydens God se wraak sal die mens nie spyt kry oor sy dade nie. Geen mens sal vanuit hulleself tot God bekeer, tensy God nie die werk van binne doen nie. Daarom sê Jeremia: Ek het dit beslis gehoor – Efraim bejammer homself, U het my ingebreek, en ek het my laat inbreek soos ‘n ongeleerde kalf. As U my laat terugkeer, keer ek werklik terug; want U is die Here my God. Jeremia 31:18. As die wraakbakke uitgestort word is God se genadetyd verby en geen mens sal tot inkeer kom nie, aangesien wedergeboorte van bo kom en nie vanuit die mens nie. Efesiërs 2:8 Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Die mens sonder God word beskrywe as dood vir alles wat goddelik is en geestelik verstaan moet word. Efesiërs 2:1 Julle was dood deur die oortredings en sondes. Elke mens sonder God bal sy vuiste teen Hom in die manier hoe hulle leef. Ook in die manier wat hulle Sy Woord afwater of hanteer asof dit slegs ʼn opinie van God is wat hulle kan interpreteer soos wat dit hulle pas. Daar is geen vrees vir God by hulle nie.
Die oorlog
Die sesde engel se bak wat uitgegooi word, laat die Eufraatrivier opgedroog. Dit is ook weereens ʼn herinnering aan die opdroog van die Rooisee na die uittog uit Egipte en word voorspel in Jesaja. Jesaja 11:15 Die Here sal die tong van die Egiptiese See verdeel, sy hand oor die Rivier laat gaan met sy geweldige wind. Hy sal dit in sewe strome uitmekaar slaan; Hy sal mense met sandale daar laat deurloop. Hierdie profesie van die opdroog van die Eufraat word deur die Ou Testament voorspel. Die Eufraat is dan ook die bekende rivier by Babilon en dui op die aanval van “Babilon”, as die wêreld sisteem, en die wêreld teen God en Sy mense. Die werklike Babilon van die Ou Testament is klaar vernietig soos wat die profete voorspel het en daarom is die plek waar die Babilon van ouds was nou die plek van jakkalse en wilde diere. Dit is presies soos die profeet voorspel het en elke persoon wat die ou Babilon besoek kan dit self waarneem. Jeremia 51:37 Babel sal klipstapels word, ‘n lêplek vir woestynjakkalse, ‘n skrikbeeld en die rede vir ‘n gefluit, sonder inwoners. Na alles wat plaasgevind het sal die klein “drie eenheid” opstaan saam met hul volgelinge vir die groot oorlog. Hulle dink dat hierdie oorlog hul eie idee is, maar die teks maak dit duidelik dat God alles vooraf bepaal het. Die drie bose geeste uit die draak, die dier en die valse profeet sal uitgaan om al die konings te bring vir die oorlog. Hierdie drie bose geeste lyk soos paddas wat weereens sinspeel op die plae in Egipte. Hulle haal die konings oor tot die oorlog deur die tekens wat hulle doen. As daar iets is waarna die wêreld smag en wat die bose mens van kennis neem, dan is dit tekens en wonders. Farao het ook sy towenaars gebruik om God se wonders na te boots en hulle kon ook, net soos God, paddas voortbring. So kondig Jesus ook aan dat die mense van sy tyd owerspelers is wat na tekens soek. Matteus 12:39 Hy het hulle geantwoord: ‘n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Jesus waarsku ook sy volgelinge dat in die laaste dae valse christusse en valse profete sal opstaan en wonders doen. Die gelowiges word gewaarsku dat hulle altyd moet wakker wees en onthou dat Christus gesê het Hy kom soos ʼn dief. Ons moet geklee wees met die Skrif, wat behels dat ons moet wandel in die geregtigheid van God. Mense wat naak bevind sal word sal diegene wees wat nie aan God se Skrif gehoorsaam is nie en nie sy opdragte uitvoer nie. Hulle sal naak bevind word met die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is soortgelyk aan die gelykenis van Jesus van ʼn groot bruilof waarna mense uitgenooi word en hoe die koning ʼn man onder die bruilofsgaste sien wat nie die bruilofskleed aan het nie. Matteus 22:11-12 Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar ‘n man sonder ‘n bruilofskleed aan. En hy vra hom, Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. So word die kleed van die gelowiges ook by die bruilof van die Lam “die regverdige dade” genoem. Openbaring 19:8 En sy is toegelaat om blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges.
Die geeste bring die konings bymekaar by Armageddon. Hierdie oorlog word beskrywe in Openbaring 17:14 en 19:14-21. Hierdie plek is sinoniem met Megiddo waar die oorloë in Israel plaasgevind het. Armageddon beteken in Hebreeus die berg van Megiddo. So word die laaste oorlog teen Israel in Esegiël ook geveg by die berge van Israel. Dan word die sewende bak uitgegooi en weerligstrale, ʼn gerammel en donderslae en ʼn groot aardbewing vind plaas net soos wat beskryf word op ander plekke in Openbaring. Al hierdie gebeure is sinoniem met God se verskyning op Sinai in die Ou Testament. Hier word die groot stad deur die aardbewing in drie verdeel. Die stad wat in hierdie gedeelte beskryf word is die groot Babilon. Die eilande en die berge wat verdwyn toon God se vernietiging van die bekende wêreld a.g.v. sy wraak wat daarop uitgestort word aan.
- Miga 1:3-4 Kyk, die Here kom uit sy woonplek; Hy daal neer en trap op die hoogtes van die aarde. Die berge smelt onder Hom en die valleie skeur oop, soos was wat voor vuur smelt, soos water wat teen ‘n berghang afstroom.
- Sagaria 14:5 Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees.
Alles sal nou tot ʼn einde gekom. Net soos met die sewende plaag in Egipte val daar haelstene. Groot haelstene het ook Josua se vyande getref en meer mense doodgemaak as wat met die swaard doodgemaak is. In Openbaring word die gewig van die haelstene bereken op ʼn talent wat tussen 30 en 36 kilogram is.
Slot
Wat sal die mense se antwoord op al hierdie ellende wees. Aan die einde, met die absolute vernietiging van die aarde en die mees vreesaanjaende verskynsels vanuit die Hemel, sal die mens God laster. Hierdie God wat nou in sy algemene openbaring aan die mens bekend maak wie Hy is, wat die reën gee aan goed en sleg, wat die lewe skenk aan almal sal in sy toorn bewys dat Hy regverdig is. Ons verdien almal God se toorn en sy wraak, maar dank God, Hy het sy Seun, Jesus Christus gestuur, sodat ons wat in Hom glo deur sy geregtigheid vry kan gaan. Om hierdie rede kan ons hom saam met die engel loof wat in Openbaring 16:5 sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, die Heilige, omdat U oor hierdie dinge geoordeel het”
