Openbaring 15: 1-5 Die sewe engele met wraakbakke!

Inleiding

In die begin van hoofstuk 15 sien ons weer hoe twee groepe teenoor mekaar geplaas word, aan die een kant die oorwinnaars en aan die ander kant die wat onder die wraak van God sal deurloop. In vers 1 word ons gewys dat die sewe engele met die sewe plae gereed is om die finale wraak van God te voleindig. Elke keer as daar van God se wraak gepraat word, word dit aangedui dat sy volgelinge alreeds in die Hemel is, of in die geval van die Honderd vier en veertig duisend, deur God gemerk is sodat hulle bewaar sal word tydens God se wraak. Openbaring wil die leser duidelik daarvan bewus maak dat die gelowige nie onder God se wraak sal deurloop soos die res van die aardbewoners nie.

Hierdie wraak is deur die engele belowe in hoofstuk 14. Die sewe plae is ʼn herinnering aan die plae in Egipte en hoe God oorwinning oor die vyande van die Israeliete bewerk het. Die sewe is ʼn perfekte getal, wat dui op die volmaaktheid van God se wraak, maar dit is ook die hoeveelheid plae wat nie die Israeliete in Gosen getref het nie. Eksodus 8:22-23 Maar op daardie dag sal Ek ‘n uitsondering maak van die Gosenstreek, waar my volk ‘n staanplek het. Daar sal nie steekvlieë wees nie, sodat jy kan weet dat Ek, die Here, hier in die land is. Ek sal onderskeid maak tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.

Oorwinnaars in lofprysing

In die volgende beeld sien Johannes die oorwinnaars. Hierdie oorwinning is ironies aangesien ons in Openbaring vind dat hulle doodgemaak is op aarde of anders gestel oorwin is op aarde.

  • Openbaring 12:11Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed  van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie.
  • Openbaring 13:7 Hy is toegelaat om teen die heiliges oorlog te voer, en hulle te oorwin. Aan hom is ook volmag gegee oor elke stam en volk en taal en nasie.

Vanaf ʼn aardse perspektief sal dit altyd voorkom of die gelowiges oorwin word, dat hulle lyding groot is en dat hulle vernietig word. Tog, vanaf ʼn Hemelse perspektief is hulle oorwinnaars. Hulle staan by wat lyk soos ʼn see van glas met vuur gemeng. Die see verteenwoordig  beslis die Rooisee waardeur die Israeliete getrek het, aangesien dit wat volg hierdie oorwinning as metafoor gebruik vir die gelowiges se oorwinning. Dus sien ons hoe hierdie hele gedeelte, met die verwysing na die plae, die Rooisee en die lied van Moses die beeld van Eksodus by ons wil oproep. Die see was altyd die plek van chaos. Dit is die plek waar die koning van Egipte woon wat as die seemonster beskrywe word. Esegiël 32:2 Mensekind, hef ‘n treurlied aan oor die farao, die koning van Egipte, en sê vir hom, Jy was soos ‘n jong leeu onder die nasies; jy was soos ‘n krokodil in die waters. Jy het in jou riviere ingestorm, jy het die water troebel gemaak met jou pote, jy het hulle strome modderig  gemaak. In teenstelling is die see hier soos glas. Daar is kalmte en rustigheid en geen bedreiging meer nie. Van waar die gelowiges hulle bevind is die oorwinning alreeds behaal en alle vrees en bedreiging is weg. Verder is die see van glas ook ʼn aanduiding dat die gelowiges hulle bevind in die teenwoordigheid van God, aangesien die see van glas in hoofstuk 4 die plek van God se troon aangedui het. Openbaring 4:5-6 Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God. Voor die troon lyk dit soos ‘n see van glas, net soos kristal. In die middel van die troon en rondom die troon staan daar vier lewende wesens, vol oë aan die voorkant en agterkant. Die vuur wat gesien kan word in die see van glas wys op die oordeel van God oor al sy vyande wat in die vuur sal plaasvind. Die vuur en die water wat gemeng is, is ook ʼn verwysing na Daniel 7 waarin ook die oordeel van die dier aangekondig word. Daniël 7:10 ‘n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende  was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die boekrolle is oopgemaak. Die siters wat hulle vashou word so in die in Grieks uitgedruk dat dit beteken hulle staan gereed om vir God daarop te speel. Alles in die Hemel is daar om God te verheerlik en die siters is nou alreeds drie keer genoem juis vir hierdie rede. Hierdie oorwinnaars was mense van wie gesê kan word dat hul hele lewe op aarde ʼn lied was wat hulle gewy het aan die Een wat vir hulle die oorwinning bewerk het. Nou in die Hemel, sal hulle voortgaan om Sy naam groot te maak en Sy lof te besing.

Die lied van Moses

Die lied wat hulle sing is die lied van Moses, die lied wat Moses gesing het nadat God die Farao se leër in die water gestort en vernietig het. Daar word ook na hierdie lied verwys as die lied van die Lam. Net soos God die oorwinning oor Israel se vyande bewerk het en Moses God daarvoor geprys het,  het die Lam die oorwinning oor die gelowiges se vyande bewerk en kan die gelowiges Hom daarvoor prys. Die gelowige vind nooit enige prysenswaardigheid in homself nie. Alles is God se werk. As die vier en twintig ouderlinge die Lam aanskou haal hulle ook hul oorwinningskrone af en plaas dit voor die Lam. Net God verdien die lof en die eer en die aanbidding. Hierdie lied van Moses verwys nie net na die lied wat hulle gesing het na die oorwinning by die Rooisee nie, maar ook na die lied van Moses waarna verwys word in Deuteronomium 32. In hierdie lied word ook gesing dat God hom sal wreek oor die bloed van sy diensknegte. Deuteronomium 32:43 Nasies, juig sy volk toe, want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek; Hy gaan wraak neem op sy teenstanders en versoening doen vir sy grond, sy volk. Hierdie lied is een van drie nuwe liedere wat met siter begeleiding in Openbaring gesing word.

  • Openbaring 5:8 Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het ‘n lier en ‘n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is, vasgehou.
  • Openbaring 14:2 En ek het ‘n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van ‘n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters.(Ou Vertaling)

Daarom sal ons ook sien dat die woorde van hierdie lied nie dieselfde is as die lied van Moses nie, maar so genoem word omdat dit ook ʼn oorwinningslied van lofprysing teenoor God is.  

Soewereiniteit

God word beskrywe as die Almagtige God, die een wat in beheer is van alles wat op aarde plaasvind. Elke gelowige kan die Here altyd hiervoor prys, dat, ten spyte van die omstandighede, ons weet ons God is in beheer van alles en ons het geen rede tot vrees nie. Alles kom uit God se hand. Deuteronomium 32:39 Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie. Dus, net soos wat ons lyding onder die beheer van die almagtige God is, weet ons ook dat die oorwinning wat deur die Lam aan die kruis behaal is, onder beheer van God was. God is soewerein.

Handelinge 4:27 Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heiden nasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur.

Hy word ook besing omdat Hy regverdig en betroubaar is. Hierdie aanhaling is in dieselfde volgorde as in hoofstuk 16 waar God se regverdigheid beklemtoon word wanneer Hy oordeel oor die nasies. Hierdie God wat aanbid word is Koning oor die nasies. Dit beklemtoon weereens sy soewereiniteit, aangesien Hy oor alles heerskappy voer. Hoe tragies dat daar individue is wat hulleself Christene noem, maar dink dat God oor sekere aspekte op aarde nie beheer het nie. Hulle bely dat lyding, swaarkry en siekte van die duiwel kom en God nie in beheer daarvan is nie. Watter ‘klein’ God aanbid hulle nie. As God nie in beheer is nie, is iemand anders in beheer en dan is hierdie mag sekerlik god. Of Hy is Almagtig en in beheer van alles of Hy is nie en dan beslis nie almagtig nie. Omdat Hy heerskappy oor alles het sing hulle dat Hy gevrees moet word, soortgelyk aan wat in Jeremia staan. Jeremia 10:7 Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie.(Ou Vertaling). In hierdie gedeelte in Jeremia word die afgode teenoor God gestel en daarop gewys dat hulle geen mag het in teenstelling met God nie. Terwyl die afgode aanbidders vir alles rondom hulle vrees, vrees die gelowige slegs die ware God.

Die nasies wat God sal aanbid aan die einde van die dae is ʼn ego deur die hele Ou Testament.

  • Jesaja 2:3 baie volke sal gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy paaie kan leer, en ons sy weë kan volg. Ja, uit Sion sal daar onderrig kom, en die woord van die Here uit Jerusalem.
  • Miga 4:2 baie nasies sal gaan en sê, Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy weë  kan leer, en ons op sy paaie kan volg. Ja, uit Sion sal daar onderrig kom en die woord van die Here uit Jerusalem.

God se boodskap het uitgegaan na alle nasies en individue uit elke nasie het hulle toevlug na die Verlosser geneem. Van die begin af was Christus se opdrag aan sy volgelinge dat die boodskap uit moes gaan vanaf Jerusalem tot aan die einde van die aarde. So het dit ook gebeur en word daarvan in die Nuwe Testament getuig. Kolossense 1:5b-6 Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Mense aan die einde van die dae, gelowiges sowel as ongelowiges, sal moet bely dat Hy alleen heerskappy het en Hy alleen gevrees moet word. Filippense 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, Jesus Christus is die Here! tot eer van God die Vader. Die keuse is duidelik, jy sal Hom of op aarde erken as Koning of jy sal onder Sy wraak moet erken dat Hy die Koning van die konings is.

Ongelowiges onder die wraak

Noudat ons gesien het wat in die Hemel plaasvind skuif ons weer terug na die sewe engele en hulle opdrag om die aarde te tref met die toorn van God in die sewe plae. Die tempel in die Hemel word ook genoem die Tent van getuienis, wat weereens die leser laat dink aan die teenwoordigheid van God in die woestyn. In hierdie tent was die wette van God wat die aardbewoners oortree het en waarvolgens hulle geoordeel sal word. So het God ook aan die Israeliete belowe dat as hulle nie na Hom luister nie Hy hulle sou straf. Levitikus 26:21En as julle My steeds teengaan en nie bereid is om na My te luister nie, sal Ek oor julle die slae sewe keer vermeerder ooreenkomstig julle sondes.

Aan hierdie sewe engele word die sewe wraak bakke gegee. Hierdie bakke herinner aan die bakke van die gelowiges se gebede wat gemeng was met wierook. Hier word aan ons vertel dat God se wraak wat oor die aardbewoners sal losbreek, ʼn antwoord is op die gebede van die gelowige martelaars. Die dag van genade is verby en die oomblik van wraak het aangebreek. Die wraak kom van God en die engele is slegs sy agente wat sy wraak op die aardbewoners sal uitstort. As God se wraak die aarde tref kan niemand in die tempel ingaan nie. Niemand kan intree voor God ten tye van sy wraak nie. Hoe skrikwekkend dat die aardbewoners die enigste middelaar verwerp het. Net Een kon staan tussen God en mens. Dit was die begeerte wat Job uitgespreek het toe hy ʼn middelaar begeer het. Job 9:33-34 As daar maar iemand was wat die saak tussen ons  kon besleg, wat sy hand oor ons albei kon hou! God sou sy staf van my  moes verwyder;

sy verskrikking sou my  dan nie ontstel nie. Hierdie begeerte van Job is vervul in Christus en tog het die wêreld geen behae in Hom gehad nie. Jesaja beskrywe baie mense deur die geskiedenis se gesindheid jeens Christus. Jesaja 53:4 Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hoe vreesaanjaend sal hierdie oomblik nie wees wanneer daar geen meer middelaar vir die mens sal wees nie.

Slot

Hierdie toneel wys die gelowiges die beeld aan die einde. Soos die psalmdigter in Psalm 73 eens op aarde moes toekyk hoe die goddelose voortgaan asof God nie bestaan nie en dit lyk asof dit met hulle net voorspoedig gaan, terwyl die regverdige tevergeefs hul hart probeer rein hou. En dan sien hy die slottoneel. Ps 73: 3-17 “Want ek het verwaande mense beny; ek het die voorspoed van goddeloses gesien. Hulle het immers tot hulle dood geen sorge nie; en hulle liggame is vet. Aan die sorge van sterflinge het hulle nie deel nie, en hulle word nie geteister saam met gewone mense nie. Daarom versier hoogmoed hulle nekke, bedek ‘n kleed van geweld hulle. Van vet peul hulle oë uit, die versinsels van hulle hart oorskry alle perke. Smalend onderhandel hulle met bose bedoelings; uit die hoogte dreig hulle met afpersing. Hulle rek hulle monde teen die hemel, en laat hulle tonge gaan oor die aarde. Daarom draai sy volk hierheen. Wie vol is, word deur hulle uitgepers, en hulle sê: “Hoe sal God dit weet? Is daar dan kennis by die Allerhoogste?” Kyk, dit is hoe goddeloses is: Immer sorgeloos vermeerder hulle hulle rykdom. Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.

Ek is die hele dag geteister; my kastyding was elke oggend opnuut daar. As ek sou dink, ek wil soos hulle praat, kyk, dan sou ek ontrou wees aan die nageslag van u kinders.

Ek het toe probeer om dit te verstaan, maar het dit as vermoeiend beskou, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het. Ek het insig gekry in hulle uiteinde.

Is jy deel van die wat as oorwinnaar saam met die siter lofprysing bring aan God die Almagtige, of is jy deel van die wat op aarde wag vir die uitgooi van die wraakbakke?