Agan is ongehoorsaam!

Nadat Jerigo se mure geval het, het God vir Josua en sy mense gesê: “Moenie iets uit Jerigo vir julleself vat nie. Alles daar behoort aan My.” Maar Agan, een van die Israeliete, het nie geluister nie. Hy het ‘n mooi mantel, 200 silwerstukke en ‘n goudstaaf gevat en dit onder sy tent in die grond weggesteek.

Later het Josua soldate gestuur om die stadjie Ai in te val. Hulle was seker dit sou maklik wees, maar Ai se soldate het hulle verslaan. Ses-en-dertig van Josua se mense is dood, en die res het weggehardloop. Almal was baie bang.

Josua het voor God gebid: “Hoekom het ons verloor?” God het gesê: “Iemand het My nie gehoorsaam nie. Hulle het iets uit Jerigo gevat. Staan op en gaan soek wie dit is.”

Die volgende dag het Josua al die mense bymekaargebring. God het eers gewys dat die persoon uit die stam van Juda was. Daarna het God die familie van Serag aangewys. Binne die familie het God gewys dat die persoon uit die huis van Sabdi was en laastens het God die man Agan aangewys. Josua het gevra: “Agan, praat die waarheid. Wat het jy gedoen?” Agan het gesê: “Ek het gesondig. Ek het ‘n mantel, silwer en goud gevat en dit onder my tent begrawe.”

Josua het mense gestuur en hulle het die mantel, silwer en goud onder Agan se tent gekry, net soos hy gesê het. Omdat Agan nie geluister het nie, is hy en sy gesin gestraf. Hulle het Agan met klippe doodgegooi.

Daarna het God vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie. Julle sal Ai verslaan.”