Openbaring 14:6-13. Die drie engele.

Inleiding

In hierdie gedeelte word die oordeel van God aangekondig deur drie engele. Ons was nou net op die berg Sion saam met diegene wat hulle self aan God toegewy en onberispelik geleef het. Nou verskuif die fokus na diegene wat teen God gekies het. Watter oordeel lê daar vir hulle voor? Almal wat ʼn bondgenootskap gehad het met die Antichris, die wêreld sisteem en die nasies sal geoordeel word. Die engele is nie primêr boodskappers van genade nie, maar eerder van oordeel. So sien ons ook dat die LXX die woord vir “evangelie verkondiging” in die Ou Testament ook gebruik word as “ʼn verkondiging van oordeel.” In Jesaja 40 word ʼn oordeel aangekondig teen die volk wat aan afgode offer en die oordeel begin met hierdie woorde: Klim op ‘n hoë berg, Sion, boodskapper van vreugde! Verhef jou stem met krag, Jerusalem, boodskapper van vreugde! Verhef dit, moenie bang wees nie! Sê vir die dorpe van Juda: Hier is julle God! Jesaja 40:9. Drie oordele word aangekondig, die eerste is ʼn algemene oordeel, die tweede spesifiek vir Babilon en die derde vir die wat die merk van die dier ontvang het.

Eerste engel:

ʼn Ewige evangelie

Hierdie engel verkondig die algemene oordeel van God. Hierdie oordeel gaan saam met die verkondiging van die “blye boodskap” wat beide redding en oordeel inhou. In Romeine word dit duidelik gemaak dat elke persoon weet dat God bestaan. Romeine 1:18-21 Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie.” Daarom kan hierdie engel verkondig : “Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het.”

Die eerste boodskap deur die engel is dus die evangelie, of letterlik vertaal, die blye boodskap wat uitgegaan het vanaf Jesus se koms in hierdie wêreld. Jesus het aan die mense van sy dag verkondig dat die koninkryk gekom het. Die “blye boodskap” verkondig aan ʼn sondige mensdom dat hulle hulle moet bekeer en waarsku van ʼn oordeel wat aan die kom is vir diegene wat nie gehoor gee nie. Verder is dit ook interessant dat die evangelie wat “die blye boodskap” is in die Nuwe Testament altyd saam met ʼn lidwoord gaan terwyl hier van ʼn “ewige” evangelie gepraat word, sonder die lidwoord. Dit dui op ʼn oordeel wat aangekondig word. Die evangelie het altyd twee snykante – tot redding en tot oordeel. Ons sal sien dat nie een van die groepe ag sal gee op hierdie waarskuwings nie. Hierdie is dus nou ʼn waarskuwing aan al die ongereddes om hulle te bekeer, aangesien die oordeel op hande is. Of hierdie ʼn werklike aankondiging sal wees aan die ongelowiges op aarde en of dit ʼn aankondiging is vir die gelowiges in die Hemel om die aanvang van die oordeel oor die aardbewoners aan te dui is nie duidelik vanuit die teks nie. Baie van die beelde wat ons in Openbaring sien is die drama wat afspeel vanuit die Hemelse perspektief om vir die gelowige wat die brief lees berusting te gee dat, al lyk dinge vanuit ʼn aardse perspektief na chaos, God in beheer is.

Vrees God

Die engel se boodskap is duidelik: dat elke individu hulle moet bekeer aangesien die oordeel op hande is. Die opdrag is duidelik dat hulle God moet vrees. Deur die Skrif word hierdie opdrag aan die mens bevestig. Baie mense het die idee dat die Ou Testamentiese God gevrees moet word, maar dat die God van die Nuwe Testament anders is en dat vrees ‘n te kras of negatiewe woord is. “Liewe Jesus, sag en teer” is die sentiment. Daarom is dit so jammer dat baie van die nuwe vertalings die woord “vrees” vervang het met “ontsag”. Jesus se woorde is dat hulle nie mense moet vrees nie, maar wel vir God. Lukas 12:5 Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees. As God se oordeel Ananias en Saffira in die vroeë kerk tref, het daar ʼn vrees oor die gemeente gekom. Daar word ook van die vroeë gelowiges getuig dat hulle gelewe het in die vrees van die Here. Handelinge 9:3 En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.(1953 vertaling). Die verkondiging van die evangelie het ook plaasgevind omdat hulle die Here gevrees het. 2Korintiërs 5:11 omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees. In Handelinge vertel Petrus ook aan sy hoorders dat God behae het in diegene wat Hom vrees en geregtigheid doen. Die boodskap dan aan hierdie aardbewoners deur die engel, is om God te vrees. Dit is een van die eerste kenmerke van iemand wat wederbaar is.

Verheerlik God

Verder moet hulle aan God die heerlikheid gee. God moet groot gemaak word deur die hoorders. Hulle word ook deur die engel opgeroep om Hom te aanbid. Hy word aanbid aangesien alles deur Hom geskep is. Die skepsel moet die Skepper van alles aanbid. Die mens moet uitkom by die punt waar hy verstaan wat sy rangorde is in die heelal. God is alles en die mens is niks. Die grootste probleem van die mens is dat hy self god wil wees. Die mens moet verheerlik en aanbid word. Hierdie gedeelte verwys ook na die teregwysing van Nebukadneser. Net soos in Openbaring is dit ʼn engel uit die Hemel wat Nebukadneser oproep om aan God die eer te gee. En kyk, ‘n engel het my uit die hemel geroep en gesê: Nebukadnesar, dien die God van die hemel, die Heilige, en gee eer aan die Allerhoogste (Daniel 4:34 LXX). Nebukadneser was vol van homself en het al die eer vir homself gegee aangaande Babilon. In dieselfde uur maak God Nebukadneser soos ʼn dier wat gras vreet. Na hy tot inkeer kom sê hy die volgende: “Ek erken die Allerhoogste, en ek loof Hom wat die hemel en die aarde en die seë en die riviere en alles wat daarin is geskep het. (Daniel 4:37 LXX).”  Hierdie uitspraak is soortgelyk aan die aankondiging van die engel in Openbaring 14:7 “Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het.”  

Tweede engel:

Dit is die aankondiging van Babilon se val, wat beide ‘n fisiese en geestelike verval aandui. Dit is soortgelyk aan die aankondig oor Babilon in Jesaja 21. Jesaja 2:9b Geval, geval het Babel, en al die beelde van sy gode lê stukkend op die grond! Babilon se fisiese vernietiging word op ʼn hele aantal plekke in die Ou Testament aangekondig en sy totale verval en verwoesting kan nog steeds gesien word. Hier word egter van die geestelike Babilon gepraat wat, net soos die fisiese Babilon, dekadent en vol onsedelikheid is. Die nasies het gedrink van die wyn van Babilon se wellus en hoerery. Die beskuldiging van Israel aangaande sy hoerery was altyd dat hulle ander gode aanbid het en gehunker het na ander volkere om vir hulle beskerming te gee. Hier word ons vertel dat Babilon die nasies laat drink het. Die volkere word vrede, veiligheid en voorspoed belowe as hulle Babilon (die valse) aanbid en hul sekuriteit in wêreldse stelsels vind. Hoerery dui ook daarop dat Babilon hulle ryk gemaak het. Hulle is dronk van hulle welluste net soos wat Hosea diegene beskryf wat nie na God wou luister nie. Hosea 4:10 Hulle eet, maar sal nie versadig word nie; hulle hoereer, maar sal nie meer word nie. Omdat hulle die Here verlaat het om hulle toe te wy aan hoerery; en omdat wyn en nuwe wyn hulle verstand benewel, doen my volk navraag by ‘n stuk hout; sy wandelstok moet vir hom inligting gee. Omdat ‘n gees van hoerery hulle laat dwaal, hoereer hulle weg van hulle God af. Die keuse is duidelik, gaan jy God volg en vir Hom alles in hierdie wêreld prysgee of soek jy die dinge van die wêreld en is dit jou god. Jakobus maak dit baie duidelik dat diegene wat die wêreld najaag egbrekers is. Jakobus 4:4 Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. So word die handelswins van Tirus in Jesaja ook as hoereloon beskrywe. Jesaja 23:18 Haar handelswins en hoereloon sal aan die Here gewy wees. Dit sal nie opgegaar of weggesit word nie, maar aan hulle wat in die teenwoordigheid van die Here woon, sal haar wins behoort, sodat hulle genoeg kan eet en pragtig geklee kan gaan. Jesus maak dit baie duidelik as hy aan sy volgelinge sê dat hulle tussen God en Mammon, wat die geldgod is, moet kies.

Derde engel:

Dit is die waarskuwing vir diegene wat die merk ontvang, en die aankondiging van die uiteindelike oordeel met ewige straf. Die derde engel kondig die oordeel aan vir almal wat die merk op hulle voorkoppe en hande ontvang het. Soos ons reeds bespreek het was hierdie merk die paspoort waarsonder jy nie sou kon handel dryf nie. Dit pas dus ook aan by die hele gedagte van die hoerery met Babilon. Hierdie individue word belowe dat hulle ook wyn sal ontvang, maar in hierdie geval van God se toorn. Openbaring 14:10 “…sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is.” Hierdie beker van toorn wat die goddelose moet drink vind ons regdeur die Ou Testament.

  • Psalms 75:9 Ja, daar is ‘n beker in die hand van die Here met wyn wat gegis het en vol kruie is. Hy skink daaruit. Al die goddeloses van die aarde sal dit moet drink, dit tot die droesem moet ledig.
  • Jeremia 25:15 Ja, so het die Here, die God van Israel, vir my gesê, ‘Neem hierdie beker met die wyn van woede uit my hand en laat al die nasies na wie Ek jou sal stuur, daaruit drink.

Hierdie persone sal ʼn ewige straf van vuur en swawel ontvang. Jesus waarsku met baie van sy gelykenisse sy luisteraars dat daar ʼn dag van afrekening sal kom, ʼn dag wat gekenmerk sal word met intense pyn waar hulle op hulle tande sal kners. Hierdie straf sal nie net vir ʼn paar dae of ʼn aantal jare wees nie, maar sal vir ewig duur. Die gedagte van die ewigheid word beklemtoon in hierdie twee verse waarin die derde engel se boodskap gebring word. Net soos die mense sal die Satan, die dier en die valse profeet ook ʼn ewige straf ondergaan. Die rook van hulle pyniging gaan ook vir ewig op. Hierdie gedagte van rook is ook ʼn beskrywing in die Ou Testament wat saamgaan met God se wraak. Psalms 18:8-9 Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder. Dit het geskud want sy toorn het ontbrand: Rook het uit sy neus opgestyg, ‘n verterende vuur uit sy mond; gloeiende kole het daaruit opgevlam. Hier word dus weereens beklemtoon dat die straf nie net vir ʼn oomblik sal wees nie, maar nooit tot ʼn einde sal kom nie. In teenstelling met die vrede wat hulle op die aarde gesoek het, sal dit wat hulle in die Hel ontvang, ewige onrus wees. So baie sal geskok wees as hulle besef voor Wie hierdie straf van pyniging uitgeoefen sal word – ja, voor Jesus en sy engele. Weg is die “Liewe Jesus, sag en teer” wie se genade volgens die valse profete van ons tyd nooit sal opraak nie. Nee, Jesus is God en die God van die Ou en Nuwe Testament is dieselfde. Die ongelowiges sal vir ewig die Een sien wat hulle verwerp het. Die Een wat hulle elke dag met hulle lewens gekruisig het en van geen belang geag het nie sal nou die Een wees voor wie hulle gepynig sal word. Die wyn van God se wraak sal onverdun gedrink moet word.

Slot

Hierdie gedeelte is die finale waarskuwing, voor daar geoes word. Nou het die wraak van God aangebreek en die genade tyd is vir ewig verby. Die gevolge van jou keuse sal jy vir ewig dra. Óf ʼn vrede nou en eendag ewige onrus óf onvrede nou en eendag ʼn ewige rus.

Daar is niemand op aarde wat nie op hierdie stadium van die verhaal ʼn keuse vir of teen God gemaak het nie. Watter keuse het jy gemaak?