Ragab en die verkenners

Josua, die seun van Nun, was nou die leier van die Israeliete. Josua het twee verkenners in die geheim gestuur en gesê: “Gaan kyk na die land en die stad Jerigo.”

Die twee verkenners het gegaan en in Jerigo gekom. Hulle het by die huis van ’n vrou met die naam Ragab gebly. Haar huis was in die stadsmuur gebou. Iemand het vir die koning van Jerigo gesê: “Daar is mans van Israel hier om ons land te verken.” Die koning het boodskappers na Ragab gestuur en gesê: “Gee die mans wat by jou huis is, want hulle is spioene!”

Ragab het die verkenners vinnig weggesteek. Toe sê sy vir die koning se mans: “Ja, daar was mans hier, maar ek weet nie waar hulle vandaan gekom het nie. Hulle is al klaar weg. Ek weet nie waarheen nie. Gaan gou agter hulle aan, miskien kry julle hulle!”

Die koning se mans het haar geglo en is weg om die verkenners te soek. Ragab het na die twee verkenners gegaan waar sy hulle weggesteek het en gesê: “Ek weet die Here het hierdie land vir julle gegee. Ons het gehoor hoe Hy die Rooisee drooggemaak het. Almal hier is bang vir julle, want die Here julle God is die enigste ware God in die hemel en op die aarde.”

Ragab het gevra dat hulle moet belowe om haar en haar familie te spaar wanneer hulle die stad inneem, omdat sy hulle gehelp het. Die verkenners het gesê dat sy ‘n rooi tou moes neem en dit by haar venster moes uithang, dan sou hulle haar en almal wat in haar huis is, se lewe spaar wanneer die stad ingeval word. Hulle het belowe: ”Ons lewe vir joune. As jy vir niemand sê wat ons doen nie, sal ons jou en jou familie beskerm.”

Ragab het die manne met die tou laat afsak uit die stad en gesê dat hulle vir drie dae in die berge moes wegkruip totdat die koning se mans opgehou het om na hulle te soek. Sy het dadelik die rooi tou by haar venster laat uithang.

Toe die verkenners by Josua kom, het hulle gesê: “Die Here het die hele land vir ons gegee. Al die mense daar is bang vir ons!”