Openbaring 14: 1-5. 144000 volg die Lam!

Inleiding

Dit is weereens belangrik om daarop te wys dat Openbaring nie kronologies geïnterpreteer moet word nie. Die groepe mense waarvan ons alreeds in Openbaring gelees het is die vier-en-twintig ouderlinge (die Ou-Testamentiese gelowiges – Hfst 5), die honderd-vier-en-veertig-duisend (die gelowiges uit die Joodse volk – Hfst 7) en die groot skare met wit stolas voor die troon (gelowiges uit elke volk en taal en nasie – Hfst 7). Dit is belangrik om daarop te let dat hoewel daar verskillende groepe genoem word, hulle in aard en wese dieselfde eienskappe het en saam die bruid van Christus vorm. Almal is uitverkies deur God op grond van genade en is deur Hom gemerk as sy kinders. Almal word slegs op een manier gered en dit is deur die bloed van die Lam. Verder voldoen hulle aan al die eienskappe van ʼn ware gelowige en kan dit wat vir die een groep geld net so van toepassing gemaak word op enige van die ander groepe. Wanneer daar dus in hierdie verse verwys word na die honderd-vier-en-veertig-duisend en hul eienskappe is dit net so van toepassing op ons as nie-Joodse gelowiges.

Die oorblyfsel van die Jode

Hier hoor ons weer van die honderd vier en veertig duisend wat, soos ons alreeds bespreek het, bestaan uit twaalfduisend uit elke stam van Israel. Dit is Israel se oorblyfsel wat aan die einde van die dae gered sal word. Deur die Ou Testament en ook in die Nuwe Testament is daar ʼn belofte rakende Israel dat ʼn klein groep/oorblyfsel gered sal word nadat hulle deur ʼn groot verdrukking gegaan het. Hier volg enkele verse wat hierdie standpunt bevestig:

  • Hosea 3:5 Daarna sal die Israeliete terugkeer en die Here, hulle God, soek, en Dawid, hulle koning. Ja, hulle sal bewend na die Here gaan, en na sy goedheid in die laaste dae.
  • Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur, is die uitspraak van die Here, twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God.
  • Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder.

Hierdie honderd vier en veertig duisend is diegene wat dan ook gemerk is en deur die groot verdrukking gegaan het en nou in heerlikheid is by die Lam. Die ware Lam, in teenstelling met die valse, word voorgestel waar hy staan op die berg Sion. Sion word honderd-vyf-en-vyftig keer in die Ou Testament gebruik en verwys die meerderheid kere na God se woning en die mense van God. Die berg Sion word egter net negentien keer gebruik waarvan nege keer is vir die oorblyfsel wat gered sal word. Hier volg ʼn paar voorbeelde:

  • Jesaja 4:2-3 Op daardie dag sal die loot van die Here pragtig en luisterryk wees; en die opbrengs van die land sal die trots en roem wees van dié Israeliete wat ontkom het. Dié wat oorbly in Sion, wat agtergelaat word in Jerusalem, sal heilig genoem word, almal wat vir die lewe opgeskryf is in Jerusalem.
  • Joël 2:32 Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die Here gesê het. Net hulle wat deur die Here geroep word, sal vry wees.

Hierdie groep is nou ook in die Hemelse tuiste, wat ook genoem word die Nuwe Jerusalem. Hierdie groep is gemerk met die Naam van die Vader en die Lam op hulle voorkoppe in teenstelling met die aardbewoners wat gemerk is met die 666, wat die merk van die dier is. Hierdie groep wat gemerk is in Hoofstuk sewe en deur die groot verdrukking moes gaan sien ons nou as ʼn groep wat behoue gebly het en waarvan die volle getal nou voor die Lam staan. Net soos hulle is elke gelowige ook gemerk met die Heilige Gees. Efe 1:13-14 “In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.

Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom,

tot lof van sy heerlikheid.” Hoe wonderlik is God se beloftes nie aan die gelowiges nie!? Ons kan absolute vertroue hê dat Hy wat ons as sy kinders gemerk het sal sorg dat nie een van ons  verlore sal gaan nie. Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Die merk van die Vader en die Seun is ʼn verdere bevestiging dat ons nie verlore sal gaan nie. Johannes 10:29-30 My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.

Die Lam se teenwoordigheid op die berg Sion is ook ʼn vervulling van die profesie dat die seun totale heerskappy sal hê op die berg Sion. Psalms 2:6-7 Ek self het my koning gesalf op Sion, my heilige berg. Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die Here het vir my gesê: Jy is my seun, vandag het Ek jou verwek.

Die bruid

Die inleiding van vers 2 is soortgelyk aan die vers in hoofstuk 19 wat die koningskap en die bruilof van die Lam aankondig. Openbaring 19:6-7 En ek het iets gehoor soos die klank van ‘n groot skare, en soos die klank van baie waters, en soos die klank van swaar donderslae wat uitroep: Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige, het sy koningskap opgeneem. Laat ons bly wees en jubel, en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilofsfees van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar  gereedgemaak. In beide gevalle word die oorwinning van God besing. Hulle sing nuwe lied net soos die vier-en-twintig ouderlinge ʼn nuwe lied gesing het in hoofstuk 5. Openbaring 5:9-10 Toe sing hulle ‘n nuwe lied: U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk  en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters  vir ons God  gemaak, en hulle sal as konings  oor die aarde heers. Dit is so mooi hoe Openbaring ons wys dat al die groepe van die Bybel, nl. die Ou Testament gelowiges, mense uit alle nasies en dan die Jode wat aan die einde tot inkeer sal kom, deel is van Christus se bruid. Die oorwinning is behaal en alle gelowiges is deel van die lofprysing van God. Hier word ons spesifiek gewys hoe die honderd-vier-en-veertig-duisend die nuwe lied sing en hoe hulle dit ook sing voor die vier-en-twintig ouderlinge. Net soos die ouderlinge staan hulle ook voor die troon en die vier lewende wesens.

Hulle is vrygekoop van die aarde. Slegs diegene wat voor God se troon toegelaat word het ewige waarde. Die gelowiges kon nie op aarde koop en verkoop nie, aangesien hulle nie die merk van die dier op hulle gehad het nie en hier word hulle beskrywe as die mense wat gekoop is van die aardbewoners. In watter groep sal jy eerder wil wees? Die groep met tydelike genot of die groep met ewige vreugde? Jesus vertel sy volgelinge dat hulle bereid moet wees om hulle self te verloën en sy kruis op te neem en Hom te volg. Die kruis opneem is  ʼn ander manier om te sê dat jy bereid moet wees om vir Christus te sterwe en daagliks geestelik te sterwe in jouself en vir die wêreld en die wêreld se dinge. Verder sê Hy aan hulle dat mense wat hulle lewens in hierdie wêreld wil red, dit sal verloor. Die stelling se betekenis is duidelik en word hier in Openbaring gedemonstreer. Die vraag is of jy hier op aarde lekker wil lewe en koop en verkoop of bereid is om alles te verloor sodat jy die ewige prys sal ontvang. Matteus 16:26 Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Kan jy so onnosel wees om die tydelik hoër te ag as die ewige. In hierdie gedeelte sien ons dat net hierdie groep die lied kan leer. Dit word nie gesê om hulle van die ander gelowiges te onderskei nie, maar wel van die ongelowiges, want ons sien ook die vier-en-twintig ouderlinge ʼn nuwe lied sing en ons ervaar ook hoe die groep uit elke  volk en taal en nasie God loof en prys. Die bruid is spesiaal. Hulle is die gunstelinge van die Vader. Hulle is die uitverkorenes, die mense waarop God sy liefde uitgestort het. Die vrygekooptes van die Lam.

Heilig en rein

Soos reeds gesê geld elke eienskap van hierdie groep vir elke gelowige wat deel is van Jesus se bruid en daarom wil ek dit van toepassing maak op elke gelowige. Toets jouself of jy aan hierdie eienskappe voldoen. Daar word na hierdie groep verwys as mense wat heilige lewens gelei het. Hulle het hulself nie met vroue besoedel nie. Dit verwys na die Ou Testamentiese gedagte van reinheid en het dus ʼn geestelike betekenis aangesien hierdie groep uit mans sowel as vroue bestaan het. Hulle word verder beskryf as maagde wat ook daarop wys dat hier nie van fisiese mans gepraat word nie, maar wel van gelowiges se rein gedrag. Wanneer die mans in die Ou Testament oorlog toe moes gaan moes hulle hulleself rein gehou het. So sien ons dat toe Dawid vir Saul gevlug het en hy by die priester vir brode gevra het, die priester hom antwoord dat hy net heilige brood het en dit slegs aan hom kan gee as sy manne hulle onthou het van vroue. Dawid antwoord dan soos volg: Sekerlik is die vroue aan ons onthou soos altyd wanneer ek uittrek. Dus is die uitrustings van die dienaars heilig, alhoewel dit ‘n ongewyde onderneming is — hoeveel te meer as hulle vandag deur die uitrusting geheilig word! 1Samuel 21:5. Dit was dan ook ʼn opdrag van God vir wanneer die Israeliete teen enige volk uitgetrek het in ʼn oorlog. So sien ons ook dat Uria nie by sy vrou, Batseba, wou gaan slaap nie, aangesien die res van die manne ʼn oorlog teen die vyand gevoer het. Die teks wil ons dus laat verstaan dat hierdie groep hulleself rein gehou het in die oorlog wat hulle gevoer het teen die bose. Hulle was maagde wat hulle self aan die bruidegom, Christus toevertrou het. So spreek Paulus ook die gemeente in Korinte met soortgelyke woorde aan om hulle daaraan te herinner dat hulle aan die bruidegom, Christus toevertrou is. 2Korinthiërs 11:2 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan Christus, verbind het, om julle as ‘n rein maagd aan Hom aan te bied. Hulle het ook nie deel gehad het aan die prostituut wat nog beskrywe sal word in Openbaring 17 nie. So het ook die Ou Testamentiese Israel gereeld agter ander gode en volkere aan gehinker en hulle man, God verlaat. Deur die Skrif word gelowiges opgeroep om heilig te lewe. Hulle word opgeroep om hulle ou lewens te verlaat en om rein lewens te lei. Kolossense 3:5 Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. In Hebreërs lees ons dat niemand God sal sien wat nie die pad van heiligmaking loop nie. Hebreërs 12:14 Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.

Volgelinge van Christus

Daarom is die verdere beskrywing van hierdie groep dat hulle die Lam volg waar Hy ook al gaan. Dit is beslis ʼn eienskap van ʼn gelowige. Hulle luister na die stem van die herder en sal Hom altyd volg, waar Hy ook al lei. Johannes 10:4 Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. So baie mense wat bely dat hulle gelowiges is begin met entoesiasme om Christus te volg, net totdat hulle vind dat daar dinge in die Woord is waarvan hulle nie hou nie. Die prys raak te hoog. Dit is die mense wat in die gelykenis van die Saaier beskryf word deur die saad wat tussen die onkruid of op die klipbank geval het.

Christus is die Lam wat geslag is. Hy is die Een gekenmerk deur smarte en van mense verlaat. Jesaja 53:3 Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Enige persoon wat die Lam sal volg sal soortgelyke behandeling ontvang. Johannes 15:18 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. En tog, al is dit waar, word diegene wat volhard tot die einde in hierdie gedeelte beskryf as die eerstelinge of die eerste vrugte. Hierdie is ʼn pragtige beeld wat die gelowige beskryf as die beste van God se skepping, net soos Jakobus dit ook doen in sy brief. Jakobus 1:18 Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees. Eerstelinge of eerstevrugte dui nie net op die eerste vrugte wat die volk moes insamel nie, maar ook somtyds op die beste van die vrugte. Eksodus 23:19a Die keur van die eerste vrugte van jou grond moet jy na die huis van die Here jou God bring. Watter kontras word nie hier uitgebeeld nie? Op aarde word ons gehaat en sleg gesê. Ons kan nie koop en verkoop nie en ons word as die skuim van die aarde beskou en tog is ons die eerstelinge van God. Ons is gekoop uit die wat op aarde is. Die honderd vier en veertig duisend is gekoop, net soos die mense uit elke volk en taal en nasie.  Openbaring 5:9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied: U is waardig om die boekrol  te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk  en nasie.

Die waarheid

Hulle word verder beskryf as mense oor wie se lippe geen leuen gekom het nie. Dit is weereens ʼn beskrywing uit die Ou Testament na die oorblyfsel wat gered sal word aan die einde van die dae. Sefanja 3:13 Die oorblyfsel van Israel sal nie onreg doen en leuens vertel nie; ‘n bedrieglike tong sal nie in hulle mond te vinde wees nie. Ja, hulle is diegene wat sal wei en gaan lê, sonder dat iemand hulle opjaag. Hulle staan ook in duidelike teenstelling teen die wat die ewige verderf sal ontvang as straf. Openbaring 21:8 Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood. Hulle volg die Waarheid in alles. So sê Jesus ook aan sy volgelinge dat die wat in sy woord bly waarlik sy dissipels is en dat hulle die waarheid sal ken en dat die waarheid hulle sal vry maak. As Tomas ʼn ruk later aan Jesus vra hoe hulle die weg kan ken antwoord Jesus hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Johannes 14:6. Hierdie groep is sonder enige blaam. Hulle is skoon gewas deur die bloed van die Lam en daar sal geen aanklag teen hulle ingebring kan word nie. 1 Petrus 4:12-13 Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ‘n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel.

Slot

Is jy kuis en volg jy die Lam, waar Hy ook al gaan? Is jy losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam? Kom daar geen enkele leuen oor jou lippe nie en is jy onberispelik? Hoe kan ek weet of ek deel is van die Bruid van Christus, want verseker kan geen mens aan hierdie vereistes voldoen nie?  Die Heilige Gees skep daardie begeerte in die uitverkorenes se hart en maak ‘n heilige lewe hul strewe. Hy is die een wat jou gewillig maak en in staat sal stel. Filippense 2:13 Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. Verder sal elkeen as gevolg van Christus se kruisdood vlekkeloos en rein voor God kan staan.