Inleiding
Dit is belangrik om daarop te let dat die Bybel ons leer dat, net soos daar nou alreeds Antichriste is, daar ʼn finale Antichris sal wees. Netso is daar nou ook alreeds baie valse profete, maar daar kom ʼn finale valse profeet. Al kan ons hierdie verhaal op verskillende tydperke van die kerk van toepassing maak, moet ons besef dat daar ʼn finale uitbeelding van hierdie verhaal sal wees voor Christus se wederkoms.
Die tweede dier – die valse profeet
Die tweede dier wat sy verskyning maak kom uit die aarde in teenstelling met die vorige dier wat uit die see uit kom. Daniel vertel ook dat die vier diere uit die see vier konings voorstel uit die aarde. Daniël 7:17 Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan. Hierdie dier het twee horings soos die van ʼn lam. In hierdie voorstelling kan ons daarop let dat die tweede dier net soos die eerste dier die Lam van God probeer naboots. Die tweede dier, net soos ‘n antichris en beslis ook die finale Antichris, is individue wat vanuit die kerk sal kom en nie vanuit die wêreld nie. Hulle is valse beelde van Christus en hulle doel is om die mens te mislei om hulle na te volg en sodoende die Satan te volg. Al lyk die dier soos die Lam word hy onmiddellik uitgeken die oomblik as hy sy mond oopmaak, aangesien hy praat soos die draak. Hy word ook later in Openbaring geïdentifiseer as die valse profeet. Christus word in Johannes as die Woord uitgebeeld en ook in Openbaring beskryf as die Woord van God. Openbaring 19:13 Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. Die Woord van God staan dus lynrig teenoor die tweede dier. Indien die Woord dit is wat jy navolg sal jy nie deur enige, ook nie die finale, valse profeet mislei word nie.
Misleiding
So baie mense wat vandag in kerke sit word vermaak met musiek en vertonings en hou hulle besig met alles behalwe die essensie van die evangelie. Daarom, as die misleiding kom, val hulle onmiddellik daarvoor. As die Woord nie die kern en fondasie is van die kerk se eredienste nie is die kerk ontvanklik vir dwaling. So baie mense het geen onderskeidingsvermoë nie, aangesien hulle die Woord nie ken nie. Hulle is soos diegene wat melk wil drink in plaas daarvan om vaste kos te eet. Hebreërs 5:13-14 Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is ‘n suigeling. Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad. Die verdere probleem is dat kritiese denke in so baie kerke negatief gekleur word. Enige persoon wat verskil of vrae vra word as ʼn kritiese persoon of iemand met ʼn kritiese gees gebrandmerk. So ontstaan daar ʼn kultuur van oppervlakkige “kennis” omdat alles wat verkondig word soos soetkoek opgeëet word. Wil God nie juis hê dat ons sy Woord moet ondersoek en toets wat ons hoor nie? Was dit nie juis waarom die mense van Berea gekomplimenteer is nie? Handelinge 17:10-11 Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan. Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. Sal jy die stem van die draak herken? Matteus 24:11 Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei.
Hierdie goedgelowige kultuur, saam met die mens se aard om konflik te vermy en net “goed te voel” oor alles, skep die teelaarde vir die valse profeet om onkruid te saai. As jy dink dat die evangelie beoordeel moet word oor hoe dit jou laat voel is jy beslis in die moeilikheid. Die Bybel is duidelik dat die hart bedrieglik is. Jeremia 17:9 Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? Daarom moet alles aan die Woord getoets word. Die Woord alleen is ons maatstaf. Deuteronomium 13:1-3 Wanneer ‘n profeet of iemand wat drome droom by jou opstaan en vir jou ‘n teken of wonder voorspel, en die teken of wonder waaroor hy met jou gepraat het, gebeur en hy dan sê, Ons moet ander gode volg wat jy nie ken nie en hulle dien, dan mag jy nie na die woorde van daardie profeet of die een wat die droom gedroom het, luister nie; want die Here julle God toets julle om te sien of julle met julle hele hart en julle hele wese die Here julle God liefhet. Die valse profetesal mooi lyk en vriendelik wees, maar luister na hulle boodskap. Matteus 7:15 Wees op julle hoede vir die vals profete wat in skaapsklere na julle kom, maar in hulle binneste wolwe is wat verskeur. Jou geestelike lewe sal verwoes word as jy nie kan onderskei tussen die waarheid en die leuen nie.
Wonders en tekens
Die tweede dier se doel is om die mens sover te kry om die eerste dier te aanbid. Hierdie dier laat tot vuur uit die hemel neerdaal net soos Elia van ouds. Hierdie dier is anders as die twee profete van Openbaring 11 wat getroue profete is en ook vuur laat neerkom op hulle vyande. By hulle, in teenstelling met die dier, kom die vuur uit hulle monde en dus uit hul prediking van die Woord. So is daar ook ʼn verskil met Elia se vuur wat uit die hemel gekom het om die soldate te verteer, terwyl die vuur wat die dier of valse profeet laat neerdaal slegs daar is om die mense te verstom en te beïndruk. Sy kenmerk sal wees dat hy in staat gestel sal word om wonders en tekens te doen. 2Thessalonisense 2:9 Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders. Niks in hierdie tekste gee ons die idee dat dit valse tekens en wonders sal wees, asof hy ʼn tipe kulkunstenaar of mense met die vlugheid van sy hande sal bluf nie. Nee, die teks sê dat hy daartoe bemagtig sal wees deur die Satan. Daarom is dit so gevaarlik om jou oë te fokus op wonders en tekens asof dit ʼn teken is dat die persoon se boodskap van God af kom. Niks kan verder van die waarheid wees nie. So kan ons ook na die towenaars van die Farao kyk wat dieselfde wonders as Moses kon doen tot en met die tweede plaag. Verder moet ons altyd onthou dat daar deur die grootste deel van die Ou Testament geen tekens en wonders plaasgevind het nie en selfs in die Nuwe Testament moet ons daarmee rekening hou dat die wonders en tekens wat plaasgevind het, slegs verrig is deur die apostels. 2 Korintiërs 12:12 Dit wat ‘n apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade. So bevestig Hebreërs dit ook dat die wonders en tekens daar was om die Woord te bevestig as Goddelik. Hebreërs 2:3-4 hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot verlossing verontagsaam? Hierdie verlossing is eers deur die Here verkondig, en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het. Die amp van apostelskap bestaan nie meer nie en hul boodskap is geloofwaardig opgeteken as fondasie van die Evangelie. Die valse profeet sal egter, omdat mense nie die Woord ken nie, hierdie selfde plan gebruik om hom geloofwaardig te maak, sodat hy mens kan mislei om die eerste dier te aanbid.
Die beeld
Hy beveel hulle om ʼn beeld op te rig. Hierdie beeld se oprig is soortgelyk aan dit wat plaasvind in Daniel 3. In hierdie gedeelte word die mense deur Nebukadneser beveel om die beeld wat hy gemaak het te aanbid. Daniel vertel ons, en dit word deur Christus bevestig, dat die Antichris ʼn gruwel in die tempel sal oprig. Matteus 24:15 Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp. Die tempel vandag, in teenstelling met die tyd van Daniel, is die Kerk. 1 Korintiërs 3:17 As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle. Die kerk kan gesien word as elke gelowige of dan die gemeenskap van gelowiges. Die valse profeet wil die kerk die plek maak waar die Antichris aanbid sal word. Hierdie beeld sal dan ʼn gees ontvang sodat hy kan praat. So ontvang een van die diere in Daniel se beeld ook ʼn mensehart. Daniël 7:4 Die eerste was soos ‘n leeu met die vlerke van ‘n arend. Ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgepluk was, hy van die grond af opgelig is, op twee voete soos ‘n mens neergesit is en die hart van ‘n mens aan hom gegee is. Kan jy jou indink hoe die mense hulle sal verwonder en die beeld van die eerste dier, wat nou lewe, sal aanbid. Dit sal alles gebeur soos die Here belowe het sal gebeur met die laaste Antichris wat sal kom. 2 Thessalonisense 2:11-12 En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.
Diegene wat nie die beeld wil aanbid nie sal doodgemaak word, net soos Nebukadneser beloof het sou gebeur indien iemand nie voor die beeld wat hy gemaak het sou neerval en dit aanbid nie. Wat hierdie beeld is weet ons nie, maar dit is baie duidelik dat ons as gelowiges dit sal raaksien as die afgod wat dit is. Ons sal dit nie “per ongeluk” aanbid nie, maar dit sal ʼn definitiewe keuse teen God wees. Die drie vriende van Daniel: Sadrag, Mesag en Abednego, is voorbeelde van die ware kerk in die laaste dae. Ons sal net soos hulle aan die vervolgers van ons dag verklaar: “as ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie. Daniel 3:17-18. Die keuse is duidelik: nou – as gelowige in ʼn aardse vuur van vervolging of eendag – in die Helse vuur wat ewig brand.
Die merk van die dier
Niemand kan koop of verkoop sonder die merk van die dier op sy/haar voorkop of regterhand nie. Deur die geskiedenis was hierdie beperkings al fisies en geestelike deel van die kerk. Ons weet van tye in die geskiedenis dat Christene nie kon koop of verkoop indien hulle nie besigheid wou doen in afgodstempels nie. Hoe is dit egter geestelik deel van die kerk? Christene kan nie oneerlik besigheid doen nie. Daar word dikwels omkoopgeld, bedrog en ander oneerlike praktyke verwag sodat winsgewend besigheid gedoen kan word. Dit is dus nie ʼn fisiese beperking nie, maar ʼn geestelike een wat die gewete van ʼn gelowige daarvan verhoed om besigheid te doen. Party gelowiges se getuienis beperk hul “sukses” in die besigheidswêreld, omdat, as hulle oor die Here gaan praat of ander gaan aanspreek aangaande hulle sonde, hulle heel waarskynlik daardie verhoging of posisie in die maatskappy of die besigheid gaan verloor. Is jy bang vir wat mense van jou sal sê? Is jy bang dat jy vriende en familie sal verloor as jy sê wat die Bybel sê? Is jy soos die mense van Jesus se tyd wat liewer was vir die eer van mense as die eer van God? Johannes 12:43 Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God. Die regterhand verteenwoordig gewoonlik jou werk en jou voorkop jou denke – ook die plek waar God sy kinders merk. Jy behoort of aan God en lewe vir Hom of aan die Satan en lewe vir Hom. So sê Jesus ook vir sy volgelinge dat hulle nie God en Mammon, die geldgod kan dien nie. Die merk is 666. Wat vir my baie interessant is van die getal 666 is dat hierdie getal net nog eenkeer in die Bybel voorkom in1Konings 10. 1Konings 10:14 Die gewig van die goud wat in een jaar vir Salomo ingekom het, was seshonderd ses-en-sestig kikkar. ( ʼn Kikkar is meting van gewig gelykstaande aan ʼn talent of 34.2kg.) Hoekom sou Jesus ons wou laat dink aan Salomo as hy oor die merk praat? Ek glo die rede hiervoor is dat Salomo geval het vir sonde juis omdat hy geld in plaas van God nagejaag het in sy lewe. Vir hom was dit van meer belang om met die Farao se dogter, wat afgode aanbid het, te trou en so vennootskappe te sluit as om heelhartig op God te vertrou. Luister gerus na die woorde wat Paulus aan die gemeente van Korintiers spreek. 2 Korinthiërs 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? So waarsku God ook in Deuteronomium dat die koning nie baie perde en geld moet aanskaf nie. Deuteronomium 17:16 Hy mag net nie baie perde aanskaf nie en hy mag ook nie die volk na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie. Die Here self het vir julle gesê, Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie. Die koning mag ook nie vir hom baie vroue aanskaf nie, sodat sy hart nie van die Here afwyk nie. Van silwer en goud mag hy ook nie te veel aanskaf nie. Kan jy verstaan hoekom Christus sy kerk wil waarsku met hierdie getal om nie soos Salomo te wees nie, maar bereid te wees om alles te verloor ter wille van Christus en die ewige lewe. Wat tog ook belangrik is, is dat 666 ons laat dink aan die perfekte man aangesien 6 die getal van die mens is (hy is op die sesde dag geskape) en die herhaling van drie sesse is ʼn aanduiding dat hy voorgee om soos God Drie-enig te wees.
Slot
Jy aanbid of God of die Satan. Sommige mense het die idee dat hulle God aanbid, maar omdat hulle nie die Woord ken nie het hul beeld van wie God is al so verwronge geraak dat hulle eintlik besig om die Satan te aanbid. Dit is dan ook die doel van die Valse Profeet en van elke valse profeet deur die geskiedenis. Hy kom as ʼn engel van die Lig en ʼn Wolf in skaapsklere om te mislei en te verlei. Met kragtige tekens en wonders, valse wette en voorskrifte, valse vryhede, valse christusse en valse beloftes, verlei hy die mens wat nie geanker is in die ware Woord van God, Jesus Christus nie. Elkeen van ons maak daagliks keuses. Luister na die Woord en laat dit jou lig wees op jou pad.
