Inleiding
In die vorige hoofstuk het ons gesien dat die draak oorlog maak teen die gelowiges en nou sien ons hoe hy dit doen. Die dier, met sy sewe koppe en tien horings, lyk net soos die draak en is die toonbeeld van die bose wat heers in elke land op aarde. Openbaring 13 kan nie gelees word sonder om Daniel 7 te lees nie. Die hoeveelheid korrelasies tussen die gedeeltes is verstommend. Die dier kom uit die see net soos die vier diere wat in Daniel beskrywe is. Daniël 7:3 Vier groot diere het uit die see opgekom, elkeen anders as die ander. Net so sien ons dat die monsters waarvan die Bybel praat, die Leviatan ook uit die see kom. Psalms 74:13-14 Dit is U wat met u krag die see geskud het, die koppe van seemonsters op die water verpletter het, die koppe van die Leviatan verbrysel het, dit as kos vir woestynbewoners gegee het. Hierdie diere kan wel in die Ou Testament gekoppel word aan die bekende aardse heerskappye van die tyd, maar is verweef in Openbaring tot een dier wat die bose verteenwoordig. Hierdie bose word verteenwoordig in regerings, maar ook in elke persoon wat onder beheer van Satan is. Jy lyk soos die een wat jy aanbid, want dit is jou vader. As ʼn klomp van die Jode wat na Jesus luister bely dat hulle vader Abraham is, openbaar Jesus aan hulle wie hulle eintlike vader is en waarom hulle sy kinders is. Johannes 8:44-45 Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar en die vader daarvan is. Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie.
Aardse heersers
Die verdere beskrywing van die dier neem ons ook onmiddellik terug na die beelde van Daniel. Daniel beskryf die vier diere wat sal opkom uit die see as volg: Die eerste dier het gelyk soos ʼn leeu, die tweede soos ʼn beer en die derde soos ʼn luiperd. Die vierde dier het tien horings gehad net soos die dier van Openbaring. Dus word al vier diere van Daniel, hier in een dier voorgestel. Ook hier in Openbaring, net soos in Daniel, verskyn die Verlosser na die verskyning van die dier. In Daniel se profesie en uitleg is die leeu Babilon, die beer die Mede en Perse, die luiperd die Grieke en die tien horings was deel van die Romeinse ryk. So is ook die godslasterlike name ʼn beeld van die dier wat die Romeinse ryk voorstel. Al hierdie koninkryke was wrede nasies wat deur die geskiedenis die mense van God, Israel in die Ou Testament, vervolg het. Die beeld van die dier in Openbaring is ʼn verweefde beeld van al hierdie diere wat Israel vervolg het om aan die Kerk van vandag uit te beeld dat hierdie dier nou verteenwoordigend is van elke bose koninkryk mag en persoon. In geen koninkryk op aarde, hoe godsdienstig ook al, sal die gelowige vry wees van vervolging nie. Selfs die Joodse volk, wat ʼn godsdienstige volk was, is vir ons ʼn voorbeeld, aangesien hulle Christus vervolg en doodgemaak het. So baie keer is dit juis gelowiges se probleem dat hulle hulle vertroue in aardse koninkryke en heersers wil plaas. Luister na wat Jesus voor Pilatus bely. Johannes 18:36 Jesus het geantwoord: My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie. Daarom kom die dier ook uit die water wat in Openbaring alle ongelowiges voorstel. Openbaring 17:15 En die engel sê aan my: “Die waters wat jy gesien het, waar die prostituut bly, is die volke en skares en nasies en tale.
Die Antichris
Hierdie dier se sewe koppe en tien horings wys dat dit ʼn magtige dier is en druk die volheid van die dier uit. Hierdie dier se beskrywing wys dat hy homself wil voorstel as Christus. Openbaring 5:6a En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. So ook is die krone van die dier dieselfde woord vir die baie krone wat Jesus sal dra. Openbaring 19:12 Sy oë was soos ‘n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra ‘n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. Hy het godslasterlike name op sy koppe, wat beteken dat hierdie dier voorgee dat hy God is en verwag dat die mensdom hom moet aanbid. As jy in die tyd waarin hierdie brief geskrywe was geleef het sou jy hierdie dier as Rome beskryf het. In die middeleeue weer is hierdie dier as die Pous beskryf, aangesien hy mag oor baie nasies voor en na die reformasie gehad het en homself as iemand sien wat ander se sondes teen God kan vergewe en uitsprake namens God kan maak. So sal enige persoon wat Daniel lees agterkom dat van die beelde van Daniel tussen bepaalde volkere ingeweef word die oomblik as daar van die klein horinkie, wat die Antichris voorstel, gepraat word. Een oomblik het jy die idee dat hy uit die Griekse ryk kom en dan weer uit die Romeinse ryk. Daarom praat Johannes ook van baie Antichriste wat sal kom. 1 Johannes 2:18 Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is. Dus, al weet ons dat daar baie Antichriste deur die geskiedenis was en sal wees, is dit ook duidelik dat daar aan die einde ʼn finale Antichris sal opstaan. Verder word die Antichris in Johannes ook beskrywe as een wat uit die kerk kom en wat ook nou alreeds in die wêreld is. Enige persoon of instansie wat Jesus verkondig in stryd met Jesus se openbaring van Homself in die Skrif, kom in die gees van die Antichris. Enige iemand wat dus nie bely dat Jesus God is nie en ook nie bely dat Hy in die vlees gekom het nie is volgens die Woord ʼn Antichris.
- 1 Johannes 2:22 Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Hy is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken.
- 2 Johannes 1:7 Want baie verleiers het in die wêreld na vore gekom – dié wat nie bely dat Jesus Christus as mens gekom het nie. So iemand is die verleier en die Antichris.
So word die Joodse sinagoge ook deur Christus in Openbaring “die sinagoge van die Satan” genoem. Elke godsdiens wat enige iemand anders as God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees aanbid, aanbid demone en dus die antichris. 1Korinthiërs 10:19-20 Wat bedoel ek hiermee? Dat ‘n afgodsoffer tog iets is, of dat ‘n afgod iets is? Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie.
Gewond
Die dier is aan een van sy koppe gewond. Daar is letterlik soveel opinies oor wat dit kan beteken as wat daar kerke is. Ek sal eerder net by die Skrif wil bly om vir ons die uitleg te gee, net soos met die res van Openbaring, as om te probeer spekuleer. Ek glo die Bybel verduidelik vir ons elke beeld in Openbaring. Ons het gesien hoe die dier se voorkoms lyk soos die van die draak en hierin glo ek is die leidraad waarvolgens ons die wond se ontstaan kan vertolk. Die Griekse woord vir wond met dieselfde tydsvorm vind ons vroeg in Openbaring met die bekendstelling van die Lam. Openbaring 5:12 wat met harde stemme uitroep: Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang. Dit is tog teleurstellend dat die vertalers in die ou en nuwe vertaling nie in beide gevalle dieselfde woord gebruik het nie. Aangesien die Antichris voorgee dat hy Christus is en aanbid moet word, is hierdie beeld van hom wat gewond is baie gepas. Die wond van Christus, in teenstelling met die van die Antichris, dra Hy tot in ewigheid. As gelowiges moet die wond ons laat let dat daar net ʼn paar verse tevore gewys is dat die draak, die een waarna die dier lyk, ook deur Migael en die engele oorwin is. Die dodelike wond wat die dier het is ʼn bewys van die hemelse oorwinning. Die Hemelse oorwinning is klaar uitgebeeld al word die aardse stryd nog gestry. Net so weet ons ook dat die gelowiges ook die oorwinning behaal het omdat hulle getuienis het van Christus en bereid was om hul lewens vir Hom te verloor. Tog vertel vers 7 dat die dier op aarde die mag ontvang het om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin. Vanuit die aardse oogpunt lyk dit of die wêreld, en dan die Antichris, met elke aanval op die Kerk die oorwinning behaal, maar die gelowige het geestesoë ontvang sodat hulle kan verklaar dat die Satan en die Antichris en al die bose magte reeds oorwin is. In hierdie gedeelte openbaar God ook aan Sy volgelinge dat elkeen wat die gelowiges sal gevange neem self ook deur God gevange geneem sal word en hulle wat met die swaard doodmaak ook deur die swaard doodgemaak sal word.
Wonders en tekens
Openbaring wil telkens die gelowige die hemelse perspektief van alles wat gebeur laat waarneem. Die dier ontvang, net soos die draak, net ʼn bepaalde tyd en die genesing aan sy wond is net oppervlakkig. Die genesing van die wond en die verwondering van die mense is ook presies wat Christus aan sy volgelinge belowe rakende die misleiding in die eindtye. Matteus 24:24 Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Dit waarna die wêreld nog altyd gesmag het was wonders en tekens soos genesing – tydelike aardse genesing. So baie van diegene wat Jesus gevolg het was individue wat opsoek was na wonders en tekens. Aangesien baie mense wat in die kerk sit hulle denke rig op die hier en nou, i.p.v. die ewige, is wonders en tekens hulle hoof fokus. Hoeveel mense sal nog die Woord glo en navolg as die Antichris en die valse profeet, waarvan ons nog sal lees, wonders sal doen? Nee, die wêreld sal hom aanbid en verklaar dat daar niemand is wat hom kan oorwin nie.
Slot
Almal? Net almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Hier het ons ʼn duidelike verklaring dat die uitverkorenes van God nie mislei sal word deur die Antichris nie. Jesus verklaar dit ook aan sy volgelinge in Mattheus 24:24 waarin hy sê dat hulle wonders en tekens so oortuigend sal wees dat, indien dit moontlik was, hulle selfs die uitverkorenes sou mislei. Tog weet ons dat dit beslis nie moontlik is nie. Ons name is opgeskryf in die boek van die Lewe van die Lam wat geslag is. Hier word die woord weer vir wond gebruik om die kontras tussen die dier en die Lam te beklemtoon. Ons redding is alleen in die Lam en hierdie redding is alreeds verklaar voor die grondlegging van die aarde. Efesiërs 1:4 So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees. Die eindbestemming van elke gelowige is vas. Ons kyk na alles vanuit die Hemelse perspektief en daarom is daar geen vrees in ons harte nie. Ons kan verklaar saam met Paulus dat ons meer as oorwinnaars is. Romeine 8:37-39 Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.
