Bileam en die donkie.

Koning Balak van Moab was bang vir die Israeliete, want hulle was ’n groot volk. Hy het mense na ‘n man met die naam Bileam gestuur en hom gevra om die Israeliete te kom vervloek, sodat hulle nie teen die Moabiete sou  kon veg nie.

Bileam was bekend omdat mense gedink het sy woord het krag.

Maar God het vir Bileam gesê: “Moenie saam met hulle gaan nie, want Ek het die Israeliete geseën!” Balak het nie van Bileam se antwoord gehou nie en het weer mense gestuur om hom te vra om te kom. Hierdie keer het God gesê: “Jy mag gaan, maar jy mag net sê wat Ek vir jou sê.”

Bileam het op sy donkie gespring en op pad gegaan. Maar God was kwaad omdat Bileam nie wou luister nie. Toe stuur God ’n engel met ’n swaard om hom te stop! Die donkie het die engel gesien en van die pad af gedraai. Bileam was kwaad en het die donkie geslaan, want hy kon nie die engel sien nie.

Toe gebeur iets wonderliks! God het die donkie laat praat! Die donkie het gesê: “Hoekom slaan jy my? Jy weet mos ek tree nie gewoonlik so op nie!” Toe sien Bileam die engel. Die engel het gesê: “God het jou gestuur om die Israeliete te seën, nie te vervloek nie! Gaan net soos God gesê het.”

Bileam het besef dat hy verkeerd was. Hy het toe belowe om net te sê wat God hom beveel om te sê.