Openbaring 12: 13-18. Satan op die aarde gegooi.

Inleiding

In hierdie gedeelte vind ons die Satan aktief in oorlog op aarde. Die geestelike oorlog het hy alreeds verloor, alhoewel die veldslae nog steeds woed, en dit is asof hy nou die geveg toespits op die aardse. Ons het alreeds die vrou identifiseer as die volk Israel uit wie die Verlosser Jesus Christus gebore is. Dit word baie duidelik gemaak uit beide geslagsregisters van Christus in Mattheus en ook in Lukas. Israel is die uitverkore volk en as sulks haat die Satan hulle. Hy vervolg hulle met sy volle mag en boosheid. Is hierdie Israel die geredde kinders van God? Nee, maar op grond van God se uitverkiesing en verbondsbelofte teenoor hulle, weet ons dat vanuit hierdie volk ʼn oorblyfsel hul verlossing in Jesus Christus sal vind en daarom word hulle as volk deur die Satan gehaat en vervolg. Hierdie vervolging is nie die vervolging op grond van hul getuienis of belydenis van geloof in Christus nie, maar bloot op grond van hul uitverkiesing as volk. Daarom is hierdie vervolging so fisies en kan ons deur die geskiedenis van die Jode sien hoe nasies hulle as volk probeer uitwis het. Ons moet altyd onthou om nie hierdie oorlogsgebeure kronologies in terme van tyd en menslike geskiedenis te sien nie.

Israel word vervolg en beskerm

Ons weet hoe die Satan Israel wou uitwis deur die Farao in Egipte. Reeds voor die geboorte van Christus word hulle slawe in Egipte en word hul babatjies in die Nyl gegooi. Ons kan sien hoe die Romeinse regering ook probeer het om die Jode uit te wis waar een voorbeeld die gebeure in Jerusalem deur keiser Titus is. So sou Israel ook verder deur die geskiedenis vervolg word, aangesien  ʼn oorblyfsel  uit haar tot bekering sou kom volgens die belofte van God. Openbaring 12:14 “Aan die vrou is egter die twee vlerke van die groot arend gegee, sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg, waar sy vir ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd lank weg van die slang af versorg sou word.”  Die vrou, Israel,  vlug dus na die woestyn, net soos met haar uittog uit Egipte, en word hier onderhou vir drie en ʼn halwe jaar. Ons het hierdie periode al in diepte bespreek en gewys hoe dit in Daniel voorspel is en dui op die tyd vanaf Jesus se Hemelvaart tot en met Sy wederkoms. Dit is dus die totale periode van die Kerk. In hierdie tyd gee God Israel arendsvlerke, sodat hulle uit die hand van die Satan kon ontvlug. God beskrywe hulle wegvlug van die Egiptenare op soortgelyke wyse in Eksodus. Eksodus 19:4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het. So word ook die periode in die woestyn deur God beskrywe as ʼn tydperk waarin Hy hulle bewaar het. Deuteronomium 32:10-12 Hy het sy volk in ‘n woestynland gevind, in ‘n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos ‘n arend sy neskuiken  aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die Here hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie. Dit is ook soortgelyk aan die nuwe Eksodus waarvan Jesaja profeteer. Jesaja 40:31Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.

Die Satan het uit sy bek water soos ʼn rivier agter die vrou aan uitgegooi. Hierdie beeld is soortgelyk aan die Farao wat probeer het om al die seuns wat in Israel gebore is, uit te wis in die Nyl. Satan sal aanhou om Israel te probeer vernietig. Die water soos ʼn rivier is ʼn metafoor wat deur die Ou Testament gebruik word vir vyande wat Israel wou vernietig.

  • 2 Samuel 22:5 Ja, bande van die dood het my omsluit; strome van vernietiging het my verskrik.
  • Psalms 144:7-8 Reik met u hand uit die hoogte, bevry my en red my uit die watermassa, uit die hand van vreemdes wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande  bedrieglik is.
  • Jesaja 43:1-2 Maar nou, so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie.

So word die waters in hoofstuk 17 ook verbind met die mense wat deur die prostituut mislei is. Openbaring 17:15 En die engel sê aan my: Die waters wat jy gesien het, waar die prostituut bly, is die volke en skares en nasies en tale. Die Satan sal alles in sy vermoë doen en sal regerings en individue gebruik om hierdie volk te probeer uitwis, sodat God se beloftes rakende hulle nie in vervulling sal gaan nie.

Net soos God hulle in die Ou Testament beskerm het, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en goddelose optrede, sal God hulle bewaar tot die einde, as gevolg van Sy beloftes en nie op grond van enige goed in hulle nie. Die aarde maak sy mond oop en sluk die water in – God se beskerming sal altyd daar wees. So is die Egiptenare wat agter die volk in die Rooisee gegaan het ook verwoes. Eksodus 15:12 U het u regterhand uitgestrek; die aarde het hulle ingesluk. So het God ook diegene vernietig wat binne Israel gesondig het, sodat Israel gesuiwer en beskerm kon word. Die drie manne Korag, Datan en Abiram wat teen Moses en Aaron opgestaan het en hulle nie meer wou gehoorsaam nie, is ʼn voorbeeld van hierdie suiwering. Hierdie manne, uit die stam van Levi, wou ook die priesteramp bedien wat net beskore was vir Aaron en sy nageslag. God wis hulle dan uit. Numeri 16:33 Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend afgedaal na die doderyk. Die aarde het oor hulle toegegaan en hulle het verdwyn uit die midde van die geloofsgemeenskap. God is die beskermer van Sy mense. Jesaja 51:9-10 Word wakker, word wakker, beklee U met krag, arm van die Here! Word wakker, soos in die verre verlede, in die tyd van vergange geslagte! Is dit nie U wat Rahab aan stukke gekap het, die seemonster deurboor het nie? Is dit nie U wat die see drooggelê het, die water van die groot oervloed, wat in die dieptes van die see ‘n pad gemaak het, sodat dié wat losgekoop is, kon deurtrek nie? Hierdie beloftes en God se beskerming is net so geestelik van toepassing op Sy Kerk aangesien Hy hulle uitverkies het en ook Sy liefde oor hulle uitgestort het. So beskerm Hy ook die Kerk van binne en buite.  

Die Kerk

Die draak is vertoorn op die vrou, maar hy is ook in ʼn oorlog met haar nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou. Baie mense identifiseer die vrou as die Kerk, hoofsaaklik omdat hulle die nakomelinge van die vrou as die Kerk van vandag wil identifiseer. Die nakomelinge dui egter op die geestelike nakomelinge wat gebore is op grond van die Verlossing in Christus. Galasiers 3:29 “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.”  Dit is baie duidelik dat hier van ʼn geestelike nageslag gepraat word en nie ʼn fisiese nageslag nie, omdat die eienskap wat die nakomelinge identifiseer te make het met Christus en die feit dat hulle Hom navolg. Ons kan dus nie sê dat dit die Jode of dan, fisiese nakomelinge van Israel is nie, omdat ons weet dat die meerderheid van hulle Christus nie aanvaar en volg nie. Hoe word hierdie nakomelinge identifiseer? Hulle is eerstens die mense wat God se gebooie bewaar. Daar is die idee onder baie wat hulleself as Christene beskrywe dat God se gebooie nie meer vir hulle geld nie. Daar is baie wat dink dat, aangesien hulle vrygemaak is deur Christus, hulle nou  ʼn lisensie ontvang het om promiskue lewens te lei. Is die Nuwe Testament nie duidelik aangaande sy gebooie nie? Matteus 5:19 Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. So sê Jesus ook aan die Rykman wat Hom vra wat hy moet doen om die ewigheid in te gaan, dat hy die gebooie moet onderhou. Alhoewel Jesus nie met hierdie stelling wou sê dat jy deur werke gered kan word nie, maar die man wou oproep om te erken dat hy nie die gebooie kan onderhou nie en daarom ʼn verlosser nodig het, het Jesus nooit sy volgelinge geleer dat die gebooie nie meer geld nie. Jesus identifiseer die mense wat Hom liefhet as diegene wat sy gebooie gehoorsaam. Johannes 14:15 As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. Net so is diegene wat Sy gebooie bewaar mense wat in Sy liefde sal bly. Johannes 15:10 As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. Paulus vertel aan die Korintiërs dat besnydenis nie van belang is nie, maar wel of hulle God se gebooie onderhou. Dus is dit belangrik om te besef dat die gebruike en seremoniële wette van die Ou Testament in Christus volledig vervul is en dus nie meer onderhou moet word nie, maar dat net soos Christus die gebooie gehoorsaam het ons ook opgeroep word om so in geregtigheid te wandel. Enige iemand wat sê dat hy aan Christus behoort maar sedeloos lewe is beslis nie ʼn gelowige nie. 1 Johannes 2:4-5 Iemand wat sê, Ek ken Hom, maar sy gebooie nie onderhou nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie; maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is.

Getuienis en vervolging

Diegene wat deur die Satan vervolg word hou tweedens ook vas aan die getuienis wat Jesus oorgelewer het. Ons sien Johannes in die begin van Openbaring as ʼn gevange op die eiland Patmos juis oor hierdie rede. Openbaring 1:9 Ek, Johannes, julle broer en ‘n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus Christus. Diegene wat onder die altaar is, is ook daar as gevolg van hul getuienis. Net so ook word die twee profete doodgemaak as gevolg van hulle getuienis. Johannes word in Openbaring 19 gestop om voor ʼn engel in aanbidding te val en daar word aan hom vertel dat die engel ʼn mede-dienskneg is van hom en sy mede-broers wat die getuienis van Jesus het. As jy wonder wat die getuienis van Jesus is, word daar  in vers 10  uitsluitsel gegee “En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n mededienskneg saam met jou en jou broers wat die getuienis oor Jesus huldig. Aanbid God, want die getuienis oor Jesus is die gees van die profesie. Die getuienis van Jesus is dus die wese van die profesie of die verkondiging van die Evangelie. Elke gelowige wat Jesus Christus verkondig by sy werk, skool, vriende kring, familie en aan die wêreld is deel van die groep van gelowiges. Hulle sal deur die Satan en sy volgelinge gehaat en vervolg word.

  • Matteus 5:11 Gelukkig is julle wanneer  die mense julle om My ontwil  beledig en vervolg  en vals beskuldig  van alles wat sleg is.
  • Matteus 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.
  • Johannes 15:18-19 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle.
  • 1 Petrus 4:14 As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus.

So is daar nog ʼn menige ander soortgelyke tekste wat bevestig dat gelowiges vervolging sal deurgaan. Die enigste manier wat jy gevrywaar sal wees van vervolging is as jy jou mond toe hou aangaande Christus en die getuienis van sy Woord, maar soos die Woord dit duidelik maak sal jy dan nie aan Hom behoort nie. Die Gees wat in ons is getuig teen die wêreld aangaande sonde geregtigheid en komende oordeel. As Hy in ons is sal ons ook die wêreld hiervan aankla en jy kan verseker weet die wêreld sal jou hiervoor haat. Vertel aan die wêreld dat hulle vol sonde is en dus nie die koninkryk sal beërwe nie, vertel aan hulle Christus se standaard van ‘n heilige lewe, vertel hulle van die ewige hel wat vir hulle voorlê en jy kan seker wees van vervolging. Die skrikwekkende van die kerk van ons dag is hoeveel mense hulleself identifiseer as gelowiges sonder dat hulle al ooit vervolg is aangaande die getuienis wat hulle uitleef en verklaar. Vir elke gelowige wat dink dat hulle kan stil bly en die ewige lewe kan beërwe is Christus se woorde ʼn ontnugtering. Matteus 10:32-33 Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën. Sal alle gelowiges op dieselfde wyse gemartel word en vervolg word? Beslis nie. So sien ons in die vroeë kerk dat sommige dood gemaak is en ander gemartel is en ander moes vlug en tog was vervolging iets wat hulle almal gekenmerk het. Of hulle van jou slegte gerugte versprei, jy jou familie en vriende of dalk jou werk verloor, van een ding kan jy seker wees – jy sal lyding ervaar as gelowige.

Slot

Die Satan en al sy volgelinge haat jou, maar wees verseker die oorwinning is klaar behaal. Jou getuienis is een van die maniere waarop die Satan oorwin word. Openbaring 12:11 Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed  van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens  liefgehad nie. As nakomeling van Abraham, as uitverkorene van Christus, sal jy beskerm word en deel in die wonderlike oorwinning wat daar net is in Jesus Christus ons Verlosser!