Openbaring 12:7-12. Die oorlog in die Hemel

Inleiding

Ons is bewus van die geestelike oorlog om ons in so verre ons dit in die morele verval en absolute boosheid van die wêreld kan raaksien. Dit is egter slegs die fisiese tekens wat ons sien. Die geveg in die geestelike dimensie is vir ons verborge, net soos wat die Goddelike leërmag aan  Elisa se slaaf verborge was en sy oë daarvoor oopgemaak moes word. 2 Konings 6:17 Elisa het toe gebid en gesê: Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien! Daarop het die Here die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur!

In Openbaring 12:7-12 word die geestelike oorlog wat op die aarde aan die gang is, aan die leser geopenbaar vanuit die hemelse perspektief. Die fisiese gebeure in terme van die geskiedenis van die mens op aarde vorm deel van hierdie oorlog alhoewel ons dit nie in kronologiese volgorde moet sien nie, maar as ʼn oorlog wat van die Skepping af al woed tussen die Satan en God. Die uitslag van die oorlog is aan God en sy kinders bekend, al woed dit nog onverpoos voort.

Geestelike oorlog

Hierdie Hemelse oorlog wat hier uitgebeeld word, is soortgelyk aan die verduideliking wat Daniël ontvang aangaande die oorlog wat in die geestelike wêreld aan die gang is. Daniël treur vir drie volle weke en is in gebed tot God. Daniel beskrywe die engel wat hy gesien het en hoe die engel aan hom bekend maak dat die Here alreeds sy gebed verhoor het op die eerste dag wat hy gebid het. Daniël 10:12 Hy sê toe vir my, Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde. Vir een en twintig dae is hy daarvan weerhou om by Daniël uit te kom as gevolg van die vors van die koninkryk van Persië. Daniël word vertel dat die vors, Migael, hom te hulp gekom het in die oorlog en veroorsaak het dat hy na Daniel toe kon kom. Hy lig dan vir Daniël in dat hy binnekort moet terugkeer na die geveg met die vors van Persië en dat hy daarna die vors van Griekeland sou beveg. Al hierdie vorste van aardse koninkryke is demoniese magte. Migael word in Daniël beskrywe as die groot Goddelike vors wat oor die kinders van Israel staan. Luister hoe word Migael beskrywe en wat word aan Israel belowe rakende die eindtyd. Daniël 12:1 En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal ‘n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert ‘n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die boekrol opgeskryf is. Die korrelasie met Openbaring 12 is baie duidelik. Die oorlog is ʼn metafoor vir dit wat op aarde afspeel, verduidelik vanuit ʼn Hemelse perspektief. Migael, al is hy ʼn groot vors, kan slegs dit doen waarvoor God hom bemagtig. So kon hy niks teen Satan doen in sy geskil rakende die liggaam van Moses nie. Judas 1:9 Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om ‘n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: Mag die Here jou straf! Christus se oorwinning aan die kruis en sy opstanding word in die hemel uitgebeeld met Migael wat die mag en die opdrag kry om oorlog te voer teen die Satan en Sy engele en om hulle te oorwin. In Christus is die oorwinning vir eens en vir altyd behaal. Die gelowige weet verseker dat niks hulle nou kan skei van die liefde wat daar in Christus is nie en dat hulle ook nou saam met Christus meer as oorwinnaars is. Romeine 8:37-39 Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

Uit die hemel gegooi

Die Satan en sy magte word op die aarde gegooi. Openbaring 12:7-9 “En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer, 8maar was nie sterk genoeg nie – daarom was daar nie meer vir hulle plek in die hemel te vind nie. 9Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele”

Ons moenie probeer om die uitgooi van die Satan uit die hemel te koppel aan ʼn aardse geskiedkundige oomblik nie. Ons lees alreeds in Jesaja 14:12 dat hy uit die hemel geval het en in Lukas 10:17 “Die twee-en-sewentig het vol blydskap teruggekeer en gesê: “Here, selfs die demone onderwerp hulle aan ons op grond van u Naam.” 18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val” Die metafoor is daar om ons te wys dat die finale oorwinning alreeds bepaal is deur die kruisdood en opstanding van Jesus Christus, maar dat daar elke dag oorwinnings in die geestelike dimensie plaasvind op grond van die getuienis, gebede en goddelike lewens van God se kinders op aarde.

Satan kon voor God verskyn in die Ou Testament. So sien ons sy verskyning voor God in Job.

  • Job 1:6 Toe, op ‘n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom.
  • Job 2:1 Toe, op ‘n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom om sy plek by die Here in te neem.

Hy word geïdentifiseer as die ou slang, die duiwel en die Satan in vers 7 van Openbaring 12. Hy is dus die een wat verlei het in die tuin en so is hy ook die duiwel, wat beteken die lasteraar en Satan, wat beteken die teenstander. In die bogenoemde gedeelte in Job sien ons Satan as die een wat Job voor God aankla. Die Satan beskrywe Job as ʼn man wat net die goeie doen omdat dit met hom goed gaan en God hom seën, maar dat as dit met hom sleg sou gaan, hy God sal vloek. Net so sien ons ook die Satan as aanklaer van Josua die hoëpriester. Sagaria 3:1 Toe het Hy die hoëpriester Josua aan my gewys. Hy staan voor die engel van die Here met Satan wat hom aankla aan sy regterkant.

Satan verloor in die oorlog sy plek in die hemel. Openbaring 12:10 Toe het ek ‘n harde stem in die hemel hoor uitroep: “Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek, en ook die volmag van sy •Christus, omdat die aanklaer van ons broers uitgegooi is, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

Ons regsverteenwoordiging

Ons aanklaer is uit die hemel gegooi en kan ons dus nie meer aankla nie. Hoe wonderlik dat die Bybel aan die gelowige verklaar dat ons nou twee advokate het wat by die Vader vir ons intree. Kan jy dink watter voorreg dit is om twee advokate te hê? Die meerderheid van ons kan nie eers bekostig om een advokaat op aarde te betaal nie, maar hier het ons advokate wat ons lief het en die beste vir ons wil hê. Een van ons advokate het die prys self betaal sodat ons niks hoef te betaal nie. Jy behoort onmiddellik te weet wie die eerste advokaat is. 1 Johannes 2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader. Die woord vir parakleet in die Grieks beteken advokaat en word in baie Engelse vertalings as “advocate” vertaal. ʼn Vers wat ook die feit dat Christus konstant vir ons intree beskryf is in Hebreërs. Dit is geskrywe om die lesers daarvan bewus te maak dat dit wat hulle onder die nuwe verbond het, die ou verbond ver oortref in waarde. Hier word aan die gelowige belowe dat Christus ons volkome kan red aangesien Hy altyd leef om vir ons in te tree. Hebreërs 7:25 Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. Hierdie daad wat Christus voor die Vader verrig, gee ook aan die gelowige die sekerheid dat hy/sy nooit verlore sal gaan nie, aangesien Christus die werk volkome doen.

Die tweede advokaat wat ons het is die Heilige Gees. Jesus vertroos sy volgelinge deur die belofte dat nadat Hy weggeneem is hulle die Heilige Gees sal ontvang. Johannes 14:16 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. So word die Gees se werk vir ons ook pragtig beskrywe in Romeine. Romeine 8:26-27 So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree. Watter voorreg het die gelowige in die nuwe verbond!

Fisiese/aardse lyding

Die gelowiges is egter nie vry van fisiese lyding van die Satan en sy magte nie, aangesien Openbaring dit duidelik maak dat die gelowiges selfs nie tot die dood hulle eie lewens lief gehad het nie. Openbaring 12:11 Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie. Behalwe dat ons nog steeds sal ly op aarde sal hy as hy op die aarde gegooi word (simbolies van sy Hemelse nederlaag) nog steeds voortgaan om die kerk te probeer mislei deur sy agente. Dit is hulle wat valse leer in die kerk bring en beskrywe word as valse leraars. 2 Timoteus 4:3-4 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend. Johannes beskryf ook hierdie valse leraars as tipes antichriste wat in die kerk is en die kerk mislei. So beskryf Paulus ook hierdie persone as valse apostels en bedrieglike arbeiders wat hulle voordoen as bedienaars van die geregtigheid, net soos die Satan hom ook voordoen as ʼn engel van die lig. 2 Korinthiërs 11:13-15 Want sulke mense is vals apostels, slinkse werkers, terwyl hulle hulleself vermom as apostels van Christus. En geen wonder nie; want selfs Satan vermom hom as ‘n engel van die lig! Daarom is dit ook nie vreemd as sy dienaars hulle ook vermom as dienaars van geregtigheid nie. Hulle einde sal volgens hulle werke wees.

Die oorwinning

Christus se oorwinning is in sy bloed, die bloed van die Lam. Daar is ʼn  paradoks in die geslagte lam wat die oorwinning behaal en in Openbaring as die Leeu beskryf word uit die stam van Juda. Dit is reeds voorspel met die beeld wat Nebukadneser gesien het waar  ʼn rots die hele standbeeld vernietig het. Christus, die rots, het die oorwinning oor alle magte behaal net soos dit ook hier in Openbaring uitgebeeld word in Migael en die engele wat die oorwinning behaal. God het voorspel dat hierdie Rots ook ʼn ewige koninkryk sal verwek wat verewig sal staan en alle koninkryke sal vernietig. Hierdie beeld is die beeld van die Kerk. So het Jesus ook vir Petrus vertel dat die belydenis wat hy gemaak het, nl. dat Jesus die Christus is, die seun van die lewende God, die rots sou wees waarop die Kerk gebou sou word; ‘n Kerk wat nie oorwin sal kan word nie. Matteus 16:18 En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Die woord Petrus is die woord in die Grieks vir ʼn klein klippie en Petra is die woord vir ʼn rots. Jesus het dus nie gesê dat die Kerk op Petrus gebou sou word nie, maar op die rots, wat sy belydenis in die vorige vers was. Matteus 16:16 Simon Petrus het geantwoord: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Jesus gebruik dan ook hierdie beeld van die steen van Daniël wat verpletter en verwoes in Lukas. Lukas 20:17-18 Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: Wat beteken dit dan wat geskryf staan: Die klip wat die bouers  afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.

Slot

Wat het op die aarde in die fisiese wêreld gebeur wat in die geestelike wêreld uitgebeeld word in die oorwinning van Migael en die engele teenoor Satan en sy engele? Vers 11 noem eerstens die bloed van die Lam, Christus se oorwinning aan die kruis en Sy opstanding waarin Hy deur die Gees as Seun van God verklaar is. Romeine 1:4 wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here. Hy verklaar aan sy volgelinge dat sy oorwinning oor die wêreld en die owerste van die wêreld sal plaasvind in sy sterwe en opstanding. Johannes 12:31-33 Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word. En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf. Christus het die oorwinning in hierdie oorlog verseker, maar elke dag veg en wen gelowiges met die krag van die Heilige Gees en Jesus voor oë in geestelike veldslae. Dit doen hulle eerstens deur die verkondiging van die Woord in die wêreld. Ons as gelowiges word opgeroep om sy Woord aan die wêreld te verkondig. Dit is waarom Jesus, wanneer die dissipels wat Hy uitgestuur het terug kom van hulle sending reis, verklaar: Toe sê Hy vir hulle: Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. Lukas 10:18. Ons verkondiging van Sy Woord het ʼn aandeel in die oorwinning oor die Satan en sy magte. Ons is deel van hierdie oorlog en al voer ons dit in terme van ons aardse bestaan kan ons verklaar dat die oorwinning alreeds behaal is. Die laaste is dat gelowiges hulle eie lewens nie liewer het as die werk van die Here nie. Ons getuig in hierdie wêreld dat ons Jesus liewer het as ons self. Ons verklaar dat ons bereid is om ons aardse lewens te verruil vir die Hemelse genot. Daarom verklaar ons saam met die Paulus: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins”