Inleiding
Die boodskap tot dusver aan elke gelowige is dat daar ʼn oorlog is tussen God en die bose. Hierdie oorlog word gevoer deur elkeen wat homself aan God se kant skaar, nl. sy engele, mense uit die volk van Israel en ook die gelowiges uit elke stam en volk en nasie. Teenoor hulle staan die Satan, die Antichris, valse profeet, die demone, of die engele wat die Satan gevolg het, en al die ongelowiges. Hierdie oorlog word egter nie fisies gevoer nie, maar geestelik. In hoofstuk 12 gaan ons sien hoe God aan Sy volgelinge openbaar dat agter elke bose aanslag wat hulle van mense ervaar, bose magte is wat gelei word deur die Satan. Dit word ook deur Paulus aan die gemeente verkondig in Efese. Efesiërs 6:12 Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. God wil hê dat elke gelowige wanneer hy ly en vervolg word deur mense, moet weet dat die mens net die instrument is waardeur die lyding kom, maar die werklike aanslag kom van die bose – van Satan. Die oomblik as die gelowige dit verstaan, maak dit hom vry om te bid vir die persoon wat hom vervolg en kan hy diegene liefhê soos wat God van ons vra. Matteus 5:44-45 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers.
Die vrou
Johannes sien ʼn nuwe teken in die Hemel. Die beeld wat hy sien is “’n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop ‘n kroon van twaalf sterre.” Openbaring 12:1b. Die beeld kan ons verklaar vanuit die Ou Testament. Josef was een van die twaalf seuns van Jakob. Voor hy deur sy broers verkoop is as slaaf het hy twee drome gehad. In een van die drome sien hy die son en die maan en die elf sterre voor hom buig. Genesis 37:9 Hy het nog ‘n ander droom gehad, en het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: Ek het sowaar weer ‘n droom gehad! Kyk, die son en die maan en elf sterre het diep voor my gebuig! Die maan en son is sy ma en pa en die elf sterre is sy broers. Hier sien ons twaalf sterre aangesien Josef nou ook deel is van hierdie beeld en dus die hele Israel uitbeeld. So interessant dat net soos die sewe gemeentes as sewe sterre uitgebeeld word, Israel ook hier met sterre voorgestel word. Nog ʼn verdere verklaring van die maan en die son is ʼn belofte wat God aan Israel maak. Jesaja 60:19-20 Vir jou sal die son nie meer daar wees as ‘n lig bedags nie, en die maan sal nie as ‘n helder lig vir jou skyn nie. Die Here sal as ‘n ewige lig daar wees, en jou God as jou roem. Jou son sal nie weer ondergaan nie, en jou maan sal nie verdof nie; want die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jou routyd sal verby wees. Ons moet altyd in gedagte hou dat die beeld van Israel in Openbaring die getroue Israel is of die “oorblyfsel” soos hulle genoem word deur die Ou Testamentiese skrywers en Paulus in Romeine. Romeine 11:5 Net so is daar ook in die huidige tyd ‘n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Daarom dra sy ook ʼn kroon as ʼn bewys van haar oorwinning net soos die vier en twintig ouderlinge en ook elke gelowige uit elke stam en volk en nasie. Elke gelowige in die hemel sal ʼn oorwinningskroon dra. Sy word uitgebeeld as ʼn vrou, wat ook gewortel is in die Ou Testament waar Israel as die vrou van God gesien word. Luister na die beskrywing wat ons vind van Israel aan die einde van die dae in Jesaja. Jesaja 62:3 Jy sal ‘n sierlike erekroon wees in die hand van die Here, ‘n kosbare koninklike hoofband in die handpalm van jou God. Ons sal sien in hoofstuk 21, met die nuwe Jerusalem, hoe die bruid van Christus nou mense sal wees uit Israel asook elke volk en nasie, hier verwys die vrou egter nog net na Israel. Dit is ook in teenstelling met die ongelowiges wat as ʼn hoer beskrywe sal word in Openbaring.
Hierdie vrou is swanger en omdat sy in kraam is word sy beskryf as ʼn vrou met geboorte pyne. Die getroue volgelinge van God in Israel en die messiaanse geslagslyn het baie lyding en vervolging in die Ou Testamentiese periode ervaar. Jesus beskryf die hartseer en pyn wat sy volgelinge met sy kruisiging sou ervaar op soortgelyke wyse. Johannes 16:20-21 Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. ‘n Vrou ervaar pyn wanneer sy kraam, omdat haar tyd aangebreek het. Maar wanneer sy aan die kindjie geboorte skenk, onthou sy nie meer die swaarkry nie – uit blydskap dat ‘n mens in die wêreld gekom het.
Die draak
Dan is daar nog ʼn teken. Johannes sien ʼn vuurrooi draak. Deur die Ou Testament word Egipte ook uitgebeeld as ʼn monster, ʼn draak of die Leviatan wat Israel wou vernietig. Soortgelyk aan hierdie beeld word Israel opgeroep in Jesaja om vir ʼn kort tyd weg te kruip en dat God aan die einde die Leviatan sal oorwin. Jesaja 26:20 en 27:1 Gaan, my volk, gaan in jou binnekamers in, en sluit jou deure agter jou toe! Kruip ‘n kort rukkie weg, totdat die vervloeking verbygegaan het! Op daardie dag sal die Here met sy wrede en groot en sterk swaard rekenskap eis van Leviatan, die vinnige slang, van Leviatan, die kronkelende slang. Die monster wat in die see is, sal Hy doodmaak. Hier kan ons ook sien hoe die teenstaanders van Israel deur sy geskiedenis geïdentifiseer kan word met die Satan. Ons kan sien hoe die beeld van Openbaring 12 ooreenstem met die bevryding van Israel uit Egipte en God se bewaring in die woestyn. Daar is baie simboliek in die voorkoms van die draak wat nie hier in diepte bespreek gaan word nie, maar net vlugtig genoem gaan word. Ons sal meer breedvoerig oor die sewe koppe van die draak gesels as ons na die beeld van die Antichris sal kyk. Ons sal die ooreenkomste sien tussen hierdie twee beelde, aangesien, soos ons alreeds gesê het, alle magte wat Israel of die Kerk vervolg die Satan en sy bose magte is. Die sewe koppe en die tien horing verwys ook na die volledigheid van die draak wat ons ʼn aanduiding gee dat hier van die Satan gepraat word. Sy kleur, wat rooi is soos die van die dier, is die bloed van die gelowiges waarvan die vrou wat op die dier ry van dronk geword het. Openbaring 17:6a Ek het ook gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die heiliges, en van die bloed van die getuies van Jesus. Moenie hierdie vrou verwar met die vrou wat swanger is nie. Hier word van die hoer gepraat wat die volgelinge van God vervolg.
Die oorblyfsel uit Israel
Die Satan gooi ʼn derde van die sterre van die Hemel op die aarde. Hierdie beeld korreleer met die beeld wat ons vind in Daniel 8. Hierdie beelde is so naby aan mekaar dat ons nie hierdie vers reg kan interpreteer sonder verwysing na Daniel 8 nie. Daniël 8:10 Dit het groot geword tot by die hemelse leër, dit is die sterre, en dit het van die sterre op die aarde laat val en hulle vertrap. Aangesien die sterre in hierdie gedeelte verwys na die twaalf stamme sal dit korrek wees om die derde sterre wat uitgegooi word met Israel in verband te bring. Kyk wat profeteer Sagaria aangaande wat met Israel sal gebeur aan die einde van die dae. Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur,” is die uitspraak van die Here, “twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God. Hierdie sterre wat deur Satan op die grond gegooi word is dus die derde van Israel, oor wie daar geprofeteer is dat hulle tot geloof in Jesus Christus sal kom. Dit is die oorblyfsel van Israel waaroor ons vroeër gepraat het, wat die ware volgelinge van God uit Israel is.
Baie beweer dat hierdie sterre die Satan se engele of dan die gevalle engele voorstel. Dit kan egter nie waar wees nie, aangesien vers 9 van Openbaring 12 sê dat die Satan saam met sy engele op die aarde gewerp word.
Die Kind
Die vrou gee geboorte aan ʼn manlike kind wat al die nasies met ʼn ysterstaf sal regeer. Dit is ʼn aanhaling van Psalm 2. Psalms 2:7-9 Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die Here het vir my gesê: Jy is my seun, vandag het Ek jou verwek. Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom. Jy sal hulle verpletter met ‘n ystersepter, soos erdewerk sal jy hulle stukkend slaan. Hierdie Kind word soos volg in Jesaja beskryf: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Jesaja 9:5. Die Satan staan gereed om Hom te verwoes, soos ons regdeur die Evangelies kan sien. Van sy geboorte, met Herodes wat Hom wou vermoor, tot en met Sy kruisiging het die Satan en sy magte Christus probeer verwoes. Jesus se lewe word opgesom met sy oorwinning in die Hemelvaart na God en sy troon. Christus het oorwin.
Genadetyd
Ons het alreeds gesê dat die genadetyd vir die heidene aangebreek het met Jesus se Hemelvaart en dat daar ʼn tydperk aangebreek het waarin sy getuies, soos voorgestel deur die twee getuies in hoofstuk 11, teenoor die hele wêreld sal getuig. Hierdie genadetyd kom tot ʼn einde met die blaas van die sewende trompet wanneer Jesus sy volgelinge kom haal. Hoewel daar in hierdie tyd ʼn gedeeltelike verharding oor Israel gekom het, sal God se genade nou weer na hulle terugkeer en sal hy hulle uit hul slawerny van sonde bevry, net soos wat Hy hulle destyds as slawe uit Egipte bevry het.
Die vrou, Israel, word na die woestyn geneem waar sy beskerm sal word. Dit laat die leser onmiddellik dink aan die bevryding van Israel uit Egipte, wat ook in die Skrif as ʼn draak beskrywe word. God sal Israel onderhou vir twee honderd en sestig dae, wat dieselfde tydperk is as waarin die twee profete profeteer, nl. die tydperk vanaf sy Hemelvaart tot sy wederkoms. God het ʼn ewige belofte gemaak dat Hy Israel sou bewaar. Jeremia 31:35-36 So sê die Here, wat die son bedags as ‘n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn, is die uitspraak van die Here, sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd ‘n nasie te wees voor My. Daarom vertel Paulus aan die gelowiges in Romeine dat God nie sy belofte met Israel verbreek het nie, maar dat God, nadat hy bemoeienis met diegene wat hy uitverkies het gemaak het, hom weer oor Israel sal ontferm en die oorblyfsel aan die einde sal red. Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. God sal sy beloftes hou en Hy is in beheer van die presiese tydperk waarin Hy die vervolging van Israel, net soos die Kerk, sal toelaat.
Slot
Daar is ʼn geestelike oorlog aan die gang en die rolspelers word duidelik identifiseer. Daar is God en die bose. Niks tussenin nie. Jy veg of in God se weermag of in Satan s’n. Die boodskap van Openbaring 12 is duidelik wie die wenner is. Selfs al lê die Satan gereed om te vertrap en te vermoor, is God elke tree van die pad in beheer en Jesus Christus se sterwe aan die kruis en opstanding is die bewys dat God die oorwinnaar is. Ons Verlosser leef! Die gelowige kan verseker weet dat die God wat my verlos het ook my sal bewaar tot die einde. Filippense 1:6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.
