Die Kwartels

Die Israeliete het deur die woestyn gereis. Maar hulle het begin kla omdat dinge nie gegaan het soos hulle dit wou hê nie. Hulle het gesê dat hulle moeg was vir die manna en dat hulle vleis wou hê.  Hulle het terugverlang na die vis, komkommers, waatlemoene, uie en knoffel in Egipte.

Moses was moeg omdat die mense aanhoudend gekla het. Hy het vir die Here gesê: Hulle vra kos, en ek weet nie hoe ek hulle kan help nie. Ek kan dit nie alleen doen nie!

God het toe belowe om vir die volk vleis te gee, nie net vir een dag nie, maar vir ‘n hele maand, totdat hulle nie meer daarvan hou nie.

Moses het vir die Here gevra: Here, hoe sal U genoeg vleis gee vir soveel mense? Ons is baie!

Maar die Here het gesê: Dink jy Ek is nie sterk  om dit te doen nie? Jy sal sien wat Ek doen.

Die Here het toe ’n sterk wind gestuur wat duisende voëltjies, wat kwartels genoem word, uit die see na die kamp gebring het. Daar was kwartels oral – rondom die kamp, so ver as wat mens kon sien. Die mense het die hele dag en nag kwartels bymekaargemaak.

Maar terwyl die vleis nog in hul monde was, het die Here hulle gestraf, omdat hulle so ondankbaar was. Baie van die mense het gesterf omdat hulle nie tevrede was met wat God vir hulle gegee het nie.