Inleiding
Die sewende trompet blaas en die belofte van die Bybel dat die Messias, uit die geslag van Dawid, sal heers vir ewig word ʼn werklikheid. Hierdie is die dag waarna elke gelowige uitsien en is die eindbestemming of slot paragraaf van ons aardse bestaan. Wat hierna volg kan ons nie begin om te beskryf nie, maar die sonde is finaal vernietig en die Ewige Lewe saam met God as heerser breek aan.
God heers
Hier word die einde van alle aardse dinge aangekondig en breek die ewige aan. Jesaja 9:6 Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen. Dit is dan ook die vervulling van Nebukadneser se droom wat deur Daniel aan die koning verklaar is. Daar sou ʼn rots losbreek en die beeld, wat alle koninkryke verteenwoordig, sou vernietig en ʼn ewige koninkryk sou opgerig word. Daniël 2:44 In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan ‘n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot ‘n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. Geen aardse koninkryk, hoe magtig ookal, sal vir ewig bestaan nie. Hierdie verklaring dat dit ʼn ewige koninkryk is, is ook ʼn aanhaling wat ons terug neem na die vernietiging van die Egiptenare in die Rooisee. Dit is so ʼn treffende beeld van hoe God ook alle magte sal vernietig. Moses se lied het hierdie aanhaling in: Eksodus 15:18 Die Here sal regeer vir altyd en ewig. Hierdie lied kom op verskeie plekke in Openbaring voor. Om hierdie rede moet geen gelowige sy vertroue in regerings of leiers stel nie, net Christus is ons Verlosser. Psalm 146:3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Elke gelowige het die vooruitsig en is in afwagting vir die dag wanneer Christus sal kom en alles onder sy voete geplaas sal word. Hoewel Christus nou alreeds heers, weet ons dat die Satan vir ʼn tyd lank oor hierdie wêreld regeer.
- Johannes 14:30 Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie.
- 2 Korinthiërs 4 vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie.
Hierdie regering van Satan kom nou tot ʼn einde en daarom is daar ʼn loflied wat opstyg die oomblik as die sewende trompet blaas.
God van gister, vandag en môre
God word genoem met die drievoudige naam wat in Openbaring aan Hom gegee word. Hy is die een wat was, wat is en wat kom. Die God van die Ou Testament is dieselfde God wat nou ook heers en die een wat sal kom. Hebreërs 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Hy is dieselfde God in die tyd van Salomo as in die tyd van Hiskia, toe Juda maar ʼn skaduwee van sy vroeë grootheid was. Luister maar net hoe die Assiriese koning die spot met hulle gedryf het. Jesaja 36:8 Daarom, het my heer gesê, gaan gerus ‘n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien. God spreek dan hierdie selfvoldane koning aan deur die profeet Jesaja met die volgende woorde: Waar jy woon, jou kom en jou gaan, ken Ek, ook jou getier teen My. Omdat jy so teen My getier het, jou astrantheid my ore bereik het, sit ek my haak deur jou neus en my stang in jou mond. Ek laat jou terugkeer met die pad waarmee jy gekom het. Jesaja 37:28-29. God stuur dan een engel en in een nag word honderd vyf en tagtig duisend Assiriese magte uitgewis. Tog is die mens arrogant genoeg om te dink dat hy iets uit homself bewerk het of in beheer is van sy toekoms. Job beskryf die afhanklikheid van die mens op ʼn treffende manier. Job 34:14-15 As Hy net aan Homself sou aandag gee, sy Gees en asem by Homself sou hou, sal alles wat leef, saam tot niet gaan, en die mens tot stof terugkeer. Met die blaas van die sewende trompet is alle aardse heerskappye verby en sal God die koningskap aanneem. Hier is dit tog belangrik om net weer daarop te wys dat al is God absoluut in beheer van alles die Satan en die aardse heersers mag het en regeer in soverre God dit toelaat. Die Satan en die aardse magte kan niks doen sonder God se toestemming nie en alles gebeur om Sy plan te vervul. Hier kan ons weer die gebed van die gelowiges in Handelinge aanhaal waarin ook Psalm 2 in die eerste deel van hulle gebed genoem word. Handelinge 4:25b-27 Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde. Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. Hier in Openbaring 11 is deel van die vier en twintig ouderlinge se aanbidding die verklaring dat die nasies vertoornd was en dat God se toorn gekom het. Dit is ʼn aanhaling van Psalm 2. Psalm 2 begin om ons te vertel dat die nasies saam beplan en saam raad hou teen die Here en sy gesalfde, wat in die Grieks sy “Christus is”. Die Psalm verklaar dat God vir hulle lag en dat Hy hulle in sy toorn sal aanspreek en hulle sal verpletter. Die psalm eindig dan soos volg: Soen die seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil. Psalms 2:12.
Oordeel en loon
Openbaring 11: 18 “Die nasies was woedend, maar u toorn het ontvlam, en die bestemde tyd het aangebreek om u oordeel oor die dooies te vel, en om u diensknegte, die profete, en die heiliges, en hulle wat ontsag het vir u Naam, klein en groot, te beloon, en om die vernietigers van die aarde te vernietig.”
Wanneer Christus kom sal die oordeel van die wêreld plaasvind. Die wêreld word beskryf as diegene wat die aarde verwoes het. Dit is soortgelyk aan die beskrywing van Babilon in Jeremia. Jeremia 51:25 Kyk, dit is Ek teen jou, berg van die verwoester, verwoester van die hele aarde! is die uitspraak van die Here. Ek gaan my hand teen jou uitstrek, jou van die kranse laat afrol. Ek gaan van jou ‘n uitgebrande berg maak. Die beskrywing van die verwoester van die aarde het dus te make met hul vernietiging van God se mense en dus is dit hier weer ʼn verwysing na volkere wat deur die geskiedenis gelowiges vervolg, gehaat, gemartel en dood gemaak het. Babilon word ook in hoofstuk 18 op soortgelyke wyse beskrywe. Openbaring 18:24 Maar in haar is ook die bloed van profete en heiliges gevind, en ook van almal wat op die aarde doodgemaak is.
God se straf sal regverdig wees soos wat die Skrif belowe – ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand. Die wraak kom Hom toe. Romeine 12:19 Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld, sê die Here. Die aanbreek van Sy ewige oordeel oor die ongelowiges is ook die aanbreek van die beloning van Sy volgelinge.
Wie is egter volgelinge van God? Ons kan met reg hierdie vraag vra, want ons sien in Mattheus 25, met die gelykenis van die dwase meisies, dat baie opgewonde vir die blaas van die sewende trompet wag, maar nie werklik gereed is vir Sy koms nie en dan die antwoord gaan kry: “Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie” Mattheus 25:12
Die eerste beskrywing wat aan hierdie volgelinge gegee word is dat hulle slawe/diensknegte is. Gelowiges word deur die Skrif as slawe van God beskryf. Volgens Romeine was ons eers slawe van die sonde, maar nou is ons slawe van die geregtigheid. Romeine 6:16 Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. Ons was geestelik slawe in Egipte en is bevry deur Christus en nou is ons slawe van Christus. Ons is afhanklik en totaal op Hom aangewese. Psalms 123:2 Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is.
Die volgende beskrywing van gelowiges is dat ons profete is. Hierdie beskrywing verbind gelowiges dus met die twee getuies vroeër in hierdie hoofstuk. Ons is diegene wat die evangelie verkondig en draers is van die blye boodskap. Ons bely Hom voor die wêreld. Lukas 12:8 Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Daarom sal geen persoon wat nie sy naam op aarde bely deel wees van hierdie groep nie.
Die volgende beskrywing van gelowiges is heiliges. Dit is ook die beskrywing wat aan ons gegee word in die briewe aan die gemeentes. Die gelowiges word heiliges genoem. Heilig beteken afgesonder vir God. Ons is egter nie net afgesonder vir Hom nie, maar ons lewenswandel moet ook in alles heilig wees. Sonder ʼn heilige lewenswandel sal ons nie vir God sien nie. Hebreërs 12:14 Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.
Gelowiges word dan ook beskrywe as diegene wat God vrees. Gelowiges vrees net Een. Mense wat vrees wat die wêreld van hulle sal sê of dink sal nie deel wees van die koninkryk van God nie. Openbaring 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood. Jesus sê ook aan sy volgelinge dat hulle nie mense moet vrees wat hulle liggame kan doodmaak nie. Mense wat jou kan martel en jou naam kan beswadder moet nie gevrees word nie. Matteus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. Die wat Hom vrees of ontsag het vir Sy naam is klein en groot, ʼn aanhaling uit Psalm 115, wat ʼn aanduiding is dat dit alle gelowiges is. Hy sal diegene seën wat die Here vrees, die kleintjies saam met die grotes. Psalm 115:13. Die man langs Jesus aan die kruis se geestes oë word oopgemaak en daar is geen vrees vir diegene wat hom gekruisig het, die mense by die voet van die kruis of sy mede gekruisigde wat saam met hom Jesus bespot het nie. Sy grootste verlange is om deel te wees van hierdie Here se koninkryk. Lukas 23:42 Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!
Aan almal wat deel is van hierdie groep (slawe van Christus, profete, heiliges en diegene wat God vrees) word daar ʼn beloning belowe. Ook in Jesus se gelykenisse word daar vertel van ʼn beloning wat gegee sal word. So word daar vertel van die heer wat aan elke slaaf ʼn hoeveelheid minas gegee het en by sy terugkeer hulle wat die minas vermeerder het beloon het met die ekwivalent in stede. Lukas 19:17 Hy het hom geantwoord, Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede. Hier is nog ʼn paar tekste rakende die gelowige wat beloon sal word.
- Lukas 6:35 Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle ‘n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel.
- 1 Korintiërs 3:8 Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang.
- Efesiërs 6:8 omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.
Slot
Die afsluiting van alles het plaasgevind en die weerligte, stemme, donderslae, aardbewing en groot hael is ʼn beskrywing van die verskyning van God, wie se teenwoordigheid deur die Bybel met hierdie beelde beskryf word. Die sewende trompet word heel gepas afgesluit met beelde uit Moses se gebed nadat God Egipte gestraf het met plae soortgelyk aan die straf van die aardbewoners met die ses trompette wat reeds geblaas is. Nog ʼn beeld uit die Ou Testament is die oorwinning oor Jerigo waarin daar ses dae op die trompet geblaas is en die sewende dag, met die blaas van die trompet, die hele stad in duie stort. God se tempel het oopgegaan in die Hemel en sy verbondsark is sigbaar. Die tempel wat oopgaan met die sewende trompet is ook ʼn herinnering aan die ark wat gebring word na Jerusalem met sewe trompet spelers wat voor die ark uitloop. 1 Kronieke 15:24 Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het voor die ark van God op trompette geblaas. Obed-Edom en Jegija was ook deurwagte voor die ark. Die ark is ʼn beeld van oordeel aangesien die wette van God wat daarin geplaas is, verbreek is. Tog druk dit ook die genade van God uit. Op die dag van versoening sou die bloed op die versoendeksel gesprinkel word, wat sou aandui dat daar vergifnis vir die volk is. Die ark het ook aan die volk simboliseer dat God teenwoordig is. Dus is die ark die simbool van sy oordeel en ook van sy genade. Aan die einde sal daar diegene wees wat sal vrees en bewe oor Sy oordeel, teenoor die gelowiges wat vol vreugde sal wees oor sy genade. Christus het gekom met sy beloning en sal ewig by sy volgelinge kom woning maak.
