Moses was lank op die berg saam met God. God het vir Moses gesê hoe die mense vir Hom moet lewe en Hy het ook vir Moses die kliptafels met die tien reëls gegee.
Maar die volk wat onder by die berg gewag het, het ongeduldig geraak. Hulle het gesê: “Ons weet nie wat van Moses geword het nie. Hy is so lank weg! Kom ons maak vir ons ‘n god wat ons kan help.”
Hulle het na Moses se broer, Aäron, toe gegaan en vir hom gevra om vir hulle ‘n god te maak. Aäron het gesê: “Bring vir my al julle goue oorringe.” Die mense het hulle goue juweliersware gegee, en Aäron het dit gesmelt en in die vorm van ‘n goue kalf gemaak. Die mense het gesê: “Hier is die god wat ons uit Egipte gebring het!”
Toe bou Aäron ‘n altaar voor die kalf en sê: “Môre gaan ons fees hou vir die Here.” Die volgende dag het die mense geëet en gedrink, hulle het ‘n groot partytjie gehou en voor die goue kalf gedans.
God het op die berg vir Moses gesê: “Gaan af na die mense toe, want hulle het iets baie slegs gedoen. Hulle het klaar vergeet van My en hulle het ‘n goue kalf gemaak en gesê nou is dit hulle god! Ek is baie kwaad oor wat hulle gedoen het.”
Moses het vir God gevra: “Here, wees asseblief geduldig met hulle. U het belowe om hulle na die goeie land toe te vat. Vergewe hulle asseblief.”
God het Moses se gebed gehoor, en Hy het nie die volk dadelik gestraf nie.
Toe het Moses van die berg afgekom. Hy het die kliptafels met die tien reëls in sy hande gehad. Maar toe Moses sien hoe die mense voor die goue kalf dans en hoe ongehoorsaam hulle is, het hy so kwaad geword dat hy die kliptafels op die grond gegooi het dat hulle gebreek het.
Moses het die goue kalf gevat, dit stukkend gemaak en die goud tot poeier gemaal. Hy het die poeier in die water gegooi en vir die mense gesê om dit te drink.
Toe het Moses vir Aäron gesê: “Hoekom het jy toegelaat dat die mense hierdie verkeerde ding doen?”
Aäron het gesê: “Moet asseblief nie kwaad wees nie. U weet hoe vinnig die mense verkeerd doen. Hulle het gevra dat ek vir hulle ‘n god maak. Ek het die goud geneem en hierdie kalf het uit die vuur gekom.”
Maar Moses het nie aanvaar wat Aäron gesê het nie. Hy het die mense wat verkeerd was gestraf en hy het hulle geleer om weer na die Here te luister.
