Inleiding
Dit is baie belangrik om nie te probeer om Openbaring as ʼn kronologiese verhaal te lees nie, maar wel as ʼn boek wat verskillende beelde en begrippe by die leser van die verlede, hede en toekoms oproep om God se plan aan ons te openbaar. In hierdie gedeelte sal ons bv. weer terugkyk na die gebeure tydens die oopmaak van die sesde seël, maar dit is nie tydsgebonde nie. In hierdie gedeelte kom die tydperke wat Daniël noem weer ter sprake. Hierdie laaste drie en ʼn half jaar verwys, soos weer in hoofstuk 12, na die totale tydperk vanaf Jesus se Hemelvaart tot en met Sy wederkoms, wat dus insluit die tydperk van die vroeë Kerk en die Kerk vandag. Tog, net soos die res van die profesieë in die Ou Testament, is daar altyd ʼn boodskap vir die eerste hoorders, die persone van die “hier en nou” en dan ook ʼn heenwysing na dit wat nog sal gebeur. In hierdie gedeelte sal ons die profetiese uitleg vir die verskillende tyd groepe baie goed kan waarneem. Hierdie gedeelte word deur kommentators as een van die moeilikste gedeeltes beskryf. Weereens glo ek dat dit van kardinale belang is om, net soos met die vorige gedeeltes, die Ou en die Nuwe Testament as riglyn te gebruik in ons verklarings.
Twee belangrike punte vir bespreking kom na vore, nl. die tempel en die twee getuies. Wie is dit en wat wil God vir ons deur hul teenwoordigheid sê?
Die tempel
Openbaring 6:1-2 Daar is toe aan my ‘n meetstok gegee, wat net soos ‘n staf lyk, met die opdrag: ‘Staan op, en gaan meet die tempel van God en die altaar, en tel die mense wat in die tempel aanbid. Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.
Een van die groot verskille by teoloë aangaande die uitleg van hierdie gedeelte sal opgelos word indien almal eens is oor die betekenis van die Tempel. Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik waarna die tempel verwys. Jesus self maak dit duidelik dat die tempel na sy liggaam verwys wanneer Hy praat van die tempel wat afgebreek en in drie dae opgebou sal word. Daar word afwisselend in die Nuwe Testament na die Tempel as die liggaam van Christus, die Kerk en die gelowige verwys.
- 1 Korintiërs 3:16-17 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.
- 1 Korintiërs 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?
- Efesiërs 2:19-21 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here.
Die Tempel en Heilige Stad sal vir 42 maande deur die heidene vertrap word. Dit is die tydperk, soos hierbo genoem, vanaf Jesus se Hemelvaart tot die wederkoms, en dit is duidelik dat gelowiges in die geskiedenis, vandag en in die toekoms baie erg vervolg sal word. Dit word in die Ou en die Nuwe Testament belowe, daarom word die altaar ook hier genoem, soortgelyk aan die altaar waar die gelowiges se siele is nadat hulle deur die verdrukking gegaan het. Dit is die mense wat in hul lewe hulself op God se altaar geoffer het deur hul lewe vir Hom te gee. Romeine 12:1 Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens.
Die tempel moet gemeet word. Hierdie meting is soortgelyk aan die meting van die tempel in Esegiël 40-49. Die tempel in Esegiël wys ook nie na ʼn fisiese tempel nie, aangesien die hoogte dimensie nêrens gegee word nie. Esegiël se tempel is ʼn tempel wat groter en beter sal wees as enige tempel wat voor dit gebou is. Ons lees ook in Sagaria van die meting van Jerusalem wat ook ʼn heenwysing is na die Kerk. Hulle word gemeet om te wys dat God in beheer is van elke persoon wat in hierdie tempel is en dat geeneen van hulle verlore sal gaan nie. Hulle is ook getel. Ons weet dus as uitverkorenes dat ons “gemeet” is en deel vorm van die Tempel. Ook die gelowiges wat uit die Joodse volk tot bekering sal kom vorm deel van die Tempel en is dus “gemeet”. Die meting van die Joodse gelowiges is dus dieselfde as die merking van die 144 000 in hoofstuk 7. Regdeur die Skrif belowe God dat Hy sy Kerk sal bewaar. Kyk maar na die gelykenis van die honderd skape en die een wat weggeraak het. Wat van die vrou wat die muntstuk verloor het? Hier is nog twee:
- Matteus 18:14 So is dit nie die wil van julle Vader in die hemele dat een van hierdie kleintjies verlore raak nie.
- Johannes 10:28-29 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.
Al is die vervolging hoe fel kan die gelowige daarin berus dat God hom/haar sal vashou en bewaar tot die einde.
Die Jode
Die vertrapping/vervolging van die gelowiges kan nie net gesien word as van toepassing op die geskiedenis en die hede nie, anders sal ons nie getrou wees aan die hele Skrif nie. Daar is ook ʼn belofte rakende die toekoms dat Jerusalem vertrap sal word tot die tydperk van die heidene verby is. Lukas 21:24 Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is. Paulus verwys na die tyd na die Hemelvaart as die tyd van genade vir die heidene totdat al die uitverkorenes ingekom het en dan sal die genadetyd weer vir die Jode aanbreek. Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. Vir enige gelowige wat dink dat God besluit het dat Hy klaar is met die Joodse volk en nooit weer met hulle bemoeienis sal maak nie, is die belofte wat Jeremia van God aan die volk bring ʼn teregwysing. Jeremia 31:35-36 So sê die Here, wat die son bedags as ‘n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn, is die uitspraak van die Here, sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd ‘n nasie te wees voor My.
Die Twee Getuies
Identifisering
- Openbaring 11:3 “En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer.”
God sal twee getuies opdrag gee om te gaan profeteer. Sekere eienskappe en vermoëns wat aan hulle gegee word verklaar wie hierdie getuies is. Sommige mense wil hierdie twee figure uitbeeld as fisiese mense wat op die strate van Jerusalem staan en oor God getuig. Kom ons gaan kyk egter na hul beskrywing:
Hulle bevind hulleself in sak en as wat in die Skrif eerstens ʼn teken van rou is, maar ook beskryf hoe die profete van ouds geklee was.
- 2 Konings 1:8 Hulle antwoord hom: Dit was ‘n man met ‘n harige mantel en ‘n leerskort om sy heupe gebind. Toe sê die koning: Dit is Elia, die man uit Tisbe!”
- Sagaria 13:4 Op daardie dag sal elkeen van die profete skaam wees vir sy visioen toe hy geprofeteer het. Hulle sal nie ‘n harige kleed aantrek met die doel om te bedrieg nie,
- Jesaja 20:2 In dié tyd het die Here by monde van Jesaja, seun van Amos, gesê: Gaan, haal die rouklere van jou heupe af, en jou sandale, trek dit van jou voete af! Hy het so gemaak en kaal en kaalvoet rondgeloop.
- Open 11:4-5 “Hulle is die twee olyfbome, en ook die twee kandelare wat voor die Here van die aarde staan. As iemand hulle kwaad wil aandoen, vlam daar vuur uit hulle monde wat hulle vyande verteer; en as iemand hulle kwaad wil aandoen, moet hy ook so doodgemaak word.”
Hulle word beskryf as twee olyfbome en kandelare wat voor die Here staan. Hierdie beskrywing verbind die twee profete aan die profesie in Sagaria 4. Hier kom die beeld van die olyfbome en die kandelaar voor. Hierdie twee bome verwys na Joshua en Serubbabel in Sagaria, maar verwys ook na toekomstige profete wat deur die geskiedenis God se Woord sal uitdra. Die olie wat vloei is ʼn belofte dat God getrou sal wees en dat Hy, deur die Gees, die woorde in sy profete se mond sal lê. Sagaria 4:6 Toe het hy geantwoord en vir my gesê: Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel, Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees, sê die Here, Heerser oor alle magte. Die krag sal wees in God se Woord en deur die werking van die Gees en daarom kom die vuur nie uit die hemel soos vir Elia op Karmel berg nie, maar uit hulle monde. Die boodskap aan elke gelowige vandag wat as profeet in die wêreld moet optree is dat die krag nie in jouself lê nie, maar in jou boodskap. Die kandelare wys ook terug na hoofstuk 1 wat die gemeentes aandui en wys ook na die twee gemeentes in Openbaring wat tussen die sewe gemeentes die enigste getroues was. Open 1:20 “Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.” Die vuur wat uit hul monde kom as iemand hulle wil leed aandoen wys ons na Elia waar hy vuur uit die hemel geroep het op die afvaardiging soldate van koning Ahasia wat hom gevange wou neem in 2 Konings 1.
- Open 11:6 “Hulle beskik oor die volmag om die hemel te sluit, sodat dit gedurende die tyd wat hulle profeteer, nie sal reën nie. Hulle het ook die volmag om, so dikwels as hulle wil, die water in bloed te verander, en om die aarde met elke moontlike plaag te tref.
Net so laat dink die mag om die hemel te sluit ons aan Elia wat vir ʼn periode van drie en ʼn halfjaar geprofeteer het dat dit nie sou reën nie a.g.v. Israel se volgehou sonde. Jakobus 5:17 Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. So word die ander profeet geïdentifiseer as Moses met verwysing na die mag om water in bloed te verander en die aarde met plae te tref.
Ons kan dus met sekerheid hierdie twee getuies identifiseer as Moses en Elia en net soos met hul verskyning saam met Jesus op die Berg van Verheerliking, weet ons dat hulle twee die Wet en die Profete, en dus die hele Skrif verteenwoordig. Hierdie twee profete is dus verteenwoordigend van elke getroue getuie in die tydperk van Jesus se Hemelvaart tot en met Sy terugkeer wat die Woord suiwer verkondig en uitdra.
Die tydperk wat die gelowiges op aarde sal deurbring sal nie ʼn maklike tyd wees nie en hulle sal deur baie vervolging die ewigheid binnegaan. Daar word beslis nie ʼn welvaart of “alles sal knop disselboom gaan” teologie verkondig nie. Die belofte van die dood word ook aan die Kerk verkondig.
Die dood
- Open 11:7 “Wanneer hulle hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onpeilbare diepte verrys, teen hulle oorlog maak, en die oorhand oor hulle kry, en hulle doodmaak.”
Die belofte van die Antichris wat sal opstaan en hulle sal doodmaak is beslis ook ʼn heenwysing na die finale tyd waarin die finale Antichris sy verskyning sal maak. So kan ons sien hoe profesieë betekenis inhou vir die hede en ook vir die toekoms. Die drie en ʼn half jaar en die drie en ʼn half dag is ook heel moontlik ʼn verwysing na Jesus se tydperk van bediening op aarde wat ongeveer 3 en ʼn halfjaar geduur het. Die Kerk word dus een met Christus se lewe en lyding. Daarom kan elke gelowige deur die geskiedenis homself en die Kerk van sy dag herken in die boodskap van Openbaring. Al sal baie doodgemaak word wil die profesie vir gelowiges deur alle eeue die versekering gee dat God in beheer is en dat ons verseker kan weet dat die evangelie met krag sal uitgaan en nooit gestop sal kan word nie. So belowe Paulus ook deur die Gees aan Timotheüs. 2 Timoteus 2:8-9 Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos ‘n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie!
- Openenbaring 11:8-10 “Dan sal hulle lyke langs die hoofstraat van die groot stad lê, daardie stad wat, figuurlik gesproke, Sodom en Egipte genoem word, en waar ook hulle Here gekruisig is. Drie en ‘n half dae lank sal mense vanuit die volke en stamme en tale en nasies hulle lyke daar sien lê, maar nie toelaat dat hulle liggame in ‘n grafkamer begrawe word nie. Die aardbewoners sal oor hulle jubel en bly wees, en vir mekaar geskenke stuur, want hierdie twee profete het die aardbewoners gefolter.”
Die plek waar hulle lyke sal lê word simbolies genoem Sodom en Egipte, die plekke wat God onderskeidelik gestraf het met vuur en plae, net soos God ook die goddelose op aarde sal straf volgens Openbaring. Hierdie plekke is deurgaans in die Skrif verteenwoordigend van goddeloosheid en diegene wat nie na God se profete wou luister nie. Hulle is ook ʼn metafoor vir die goddelose wat deur die geskiedenis gelowiges haat en bly sal wees as die evangelie stil gemaak word. Verder is die plek waar hulle lê die plek waar Christus gekruisig is, dus Jerusalem. Jerusalem word nie net in die negatief genoem as die plek wat teen Christus gerebelleer het nie, maar ook in die positief as die nuwe Jerusalem wat op gelowiges wag.
Die opstanding
- Openbaring 11: 11-13 “Maar ná drie en ‘n half dae het die lewegewende asem van God in hulle ingegaan. En hulle het op hulle voete gekom, terwyl diegene wat hulle gesien het, deur groot vrees oorval is. Toe het hulle ‘n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: “Kom op hierheen!” En hulle het in ‘n wolk na die hemel opgevaar, terwyl hulle vyande hulle agternakyk. Op daardie uur het daar ‘n groot aardbewing plaasgevind, en ‘n tiende van die stad het inmekaar gestort. In die aardbewing het seweduisend mense omgekom, maar die res het vreesbevange geraak, en aan die God van die hemel heerlikheid betoon.
Die wonderlike wat vir die gelowige voorlê is dat hulle in die wolke opgeneem sal word met Christus se koms. Hier word die metafoor van Elia as die getuie verteenwoordigend van elke gelowige weereens bevestig as ons onthou dat Elia, die profeet, ook in die Hemel opgeneem is met ʼn wa van vuur en perde van vuur en die getuies hier lewend gemaak en opgeneem word in die Hemel. Dan is daar ʼn groot aardbewing. Hierdie groot aardbewing word dieselfde genoem as die een wat plaasvind met die oopmaak van die sesde seël. (Lees gerus wees Openbaring 6:12 – 7:4) Die sesde seël word oopgemaak met die gelowiges wat in die Hemel opgeneem word en die aardbewoners wat in vrees in die spelonke wegkruip en die berge vra om hulle te bedek van die aangesig van Hom wat op die troon sit en die Lam. Hierna vind ons diegene wat gemerk is en deur die wraak van God sal gaan. Ons het hulle reeds identifiseer as die Jode wat tot geloof sal kom; die 144000. In hierdie gedeelte is dit dieselfde groep wat heerlikheid aan God betoon, te midde van al die chaos. Met die getal seweduisend word die leser weereens na Elia geneem waar God aan hom belowe dat hy nie alleen is nie, maar dat Hy meer as seweduisend vir Hom bewaar het. 1 Konings 19:18 Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie. Hier is dit egter nie die getal van die mense wat bewaar word nie, maar van diegene wat deur die aardbewing doodgemaak word. Net soos God bewaar is Hy ook die Een wat die mens se lewe tot ʼn einde bring. Spreuke 16:4 Die Here het sy doel met alles; selfs ‘n goddelose bestaan vir die dag van onheil. Die mense wat oorbly bewys heerlikheid aan die God van die Hemel, in teenstelling met so baie mense wat in daardie tyd deur God se wraak sal gaan en hulle nie sal bekeer nie. Openbaring 16:11 Hulle het ook die God van die hemel gelaster, as gevolg van hulle pyne en hulle swere. Nogtans het hulle nie tot bekering van hulle dade gekom nie. God is in beheer van die gelowige se totale lewe en daarom is daar geen vrees by hom/haar nie. Jesaja 57:1-2 Die regverdige gaan ten gronde, maar niemand neem dit ter harte nie. Getroue mense sterf, en daar is niemand wat insien dat dit as gevolg van onheil is dat die regverdige sterf nie – hy gaan die vrede binne. Hulle sal op hulle beddens rus, elkeen van hulle wat sy reguit pad loop.
Slot en opsomming
Die gelowiges (Jood en nie-Jood) is gemeet en getel. God het hulle uitverkies voor die grondlegging van die aarde en is totaal in beheer van hul redding en lewe. Vanaf Christus se Hemelvaart tot en met Christus se wederkoms sal hierdie getal mense, hetsy in die verlede, toekoms of hede, deur die goddelose gehaat en vervolg en dan finaal deur die finale Antichris vermoor word. In hierdie tydperk is elke gelowige ʼn profeet wat die opdrag kry om God se Woord te verkondig aan die wêreld wat verlore gaan. God sal met jou wees en die krag van jou boodskap bevestig deur die Heilige Gees wat mense se lewens sal verander. Alhoewel dit sal lyk of die goddelose wen, sal jy saam met Christus opstaan op die dag van sy wederkoms en die nuwe Jerusalem sal vir jou ʼn realiteit wees.
God se plan en God se tyd en God se krag tot in Ewigheid. Amen!
