God sou weer op die berg met Moses praat en Hy het vir Moses gesê om die mense voor te berei.
“Was julle klere en wees gereed, want oor drie dae sal Ek op die berg kom. Niemand mag aan die berg raak nie. As hulle dit doen, sal hulle sterf.”
Op die derde dag was daar donderslae, weerlig en ‘n baie harde trompetgeluid. Die berg was vol rook, want God het in vuur op die berg afgekom. Die hele berg het gebewe, en die mense was bang, maar Moses het teen die berg uitgeklim, en God het daar met hom gepraat. Hy het
gesê:
“Ek is die Here julle God. Ek het julle uit Egipte, uit slawerny, gered. Dit is My wette:
Ek is julle enigste God. Jy mag nie ander gode dien nie.
Jy mag nie beelde maak en hulle aanbid nie. Ek is God en Ek wil hê julle moet net vir My dien.
Gebruik My Naam met respek. Jy mag nie My Naam verkeerd gebruik nie.
Rus op die sewende dag. Dit is ‘n dag wat aan My behoort. Werk ses dae, maar op die sewende dag moet julle rus.
Eer jou pa en ma, dan sal jy lank leef, en dit sal goed gaan met jou.
Jy mag nie iemand doodmaak nie.
As jy met iemand getrou het, mag jy nie van daardie persoon skei nie.
Jy mag nie steel nie.
Jy mag nie jok nie.
Moenie jaloers wees op wat ander mense het nie.
Die mense het die donderslae gehoor, die weerlig gesien en die berg sien rook. Hulle het weggebly van die berg af en vir Moses gesê:
“Praat jy met ons, en ons sal luister. Maar moenie dat God self met ons praat nie, anders sal ons sterf.”
Moses het gesê:
“Wees nie bang nie. God wil hê julle moet Hom respekteer, sodat julle nie sonde doen nie.” Toe het Moses God se wette vir die mense geleer.
