Inleiding
In Hoofstuk 10 kry ons ʼn pouse of breek tussen die blaas van die sesde trompet en die blaas van die sewende trompet, net soos tussen die sesde en die sewende seël. Ons het ook hier ʼn sterk engel wat met ʼn harde stem uitroep, soortgelyk aan die sterk engel in hoofstuk 5 wat ook met ʼn harde stem uitroep. Dit is die enigste twee kere wat ʼn sterk engel met ʼn harde stem in Openbaring verskyn en Christus wil dus hê dat die leser die twee gebeurtenisse met mekaar verbind. Dit is asof ons in hierdie pouse die laaste waarskuwing hoor, wanneer die volgende trompet blaas is die tyd finaal verby.
Die sterk engel
Dit sterk engel in hoofstuk vyf roep met ʼn harde stem uit en vra wie waardig is om die boekrol oop te maak en die seël daarvan te breek. Hier, in hoofstuk 10, sien ons ʼn sterk engel te voorskyn kom met die oop boekrol in sy hand. Die verskille tussen die engel in hoofstuk 5 en hoofstuk 10 is duidelik sigbaar. Wanneer ons na die ander kenmerke van hierdie engel kyk, herken ons Hom as Christus van die nuwe Testament of die tweede persoon van die Drie-Eenheid in die Ou Testament.
“1. En ek het ‘n ander sterk engel uit die hemel sien afkom…”
Dat Hy ʼn engel genoem word is glad nie vreemd aan die Ou Testament nie. Ons sien male sonder tal dat Jahwe as die Engel van die Here beskrywe word. So kan ons dink aan die drie engele wat aan Abraham verskyn, waarvan een God self was, Jakob wat met die engel worstel wat ook God was, die engel van die Here wat aan Moses verskyn het in die brandende bos en ook aan Gideon en aan Simson se ouers verskyn het in Rigters.
“…Hy was met ‘n wolk omhul, …”
Hy word beskryf as gekleed met die wolke. In die Ou Testament word net God op so ʼn wyse beskryf.
- Eksodus 19:9 Die Here het vir Moses gesê: Kyk, Ek gaan na jou kom in ‘n digte wolk, sodat die volk kan hoor wanneer Ek met jou praat en hulle jou dan ook altyd kan vertrou. Daarop het Moses die antwoord van die volk aan die Here oorgedra.
- Eksodus 34:5 Die Here het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam die Here uitgeroep.
- Jesaja 19:1 Kyk, die Here ry op ‘n vinnig bewegende wolk en gaan na Egipte. Die nuttelose afgode van Egipte beef voor Hom; Egipte se hart krimp ineen.
Net so word Jesus, as die Messias wat sal kom, in die Ou Testament met ʼn wolk beskryf:
- Daniël 7:13 Ek het in die nagtelike visioene gesien: Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos ‘n mensekind was; tot by die Oue van Dae het hy gekom, voor Hom is hy gebring.
- Matteus 24:30 Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid.
- Openbaring 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!
“…met ‘n reënboog bo sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos vuurpilare.”
So ook is die reënboog ʼn verwysing na hoofstuk 4 wat beskryf hoe die troon lyk rondom die Een wat op die troon sit. Dit is soortgelyk aan die beeld van God wat Esegiël in ʼn visioen gesien het. Esegiël 1:27-28 Ek sien toe Hy is skitterend soos witgoud, byna soos vuur vasgevang in ‘n omhulsel, vanaf wat na sy heupe gelyk het boontoe. En vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe, het ek gesien dit lyk soos vuur, omring deur ‘n helder gloed. Die helder gloed rondom het gelyk soos ‘n reënboog wat in die wolke verskyn op ‘n reëndag. Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek ‘n stem hoor praat. Kyk ook hoe die voorkoms van sy onderlyf vergelyk word met “vuur” en hier in Openbaring “pilare van vuur.” Die pilare van vuur herinner ons aan God se teenwoordigheid by die volk in die woestyn, waar hy in die dag by hulle was soos ʼn wolk en in die nag soos pilare van vuur.
“Hy het met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde gaan staan, en met ‘n harde stem, soos die brul van ‘n leeu, uitgeroep.”
Hy staan met een voet op die water en die ander op die land om sy soewereiniteit oor alles aan te dui. Daar is nie ʼn plek op aarde waar God nie totale heerskappy het nie. Ons sal dit verder ook sien as die draak op die aarde gegooi word in hoofstuk 12 en die dier uit die see sal kom in hoofstuk 13. Hierdie Engel se brul laat ons ook onmiddellik dink aan die beeld in Amos en die boodskap wat hierdie beeld verkondig. Amos 3:7 Ja, my Heer, die Here, doen niks nie, tensy Hy sy vertroulike besluit openbaar aan sy diensknegte, die profete. ‘n Leeu het gebrul – wie sal nie bang wees nie? My Heer, die Here, het gepraat – wie sal nie profeteer nie? Ons kan onmiddellik die verband sien tussen hierdie gedeelte in Amos en die gedeelte in Openbaring 10. As God spreek moet diegene wat dit hoor, dit verkondig.
Die boekrol
Die beeld van die boekrol wat in die hand van die Engel is, is soortgelyk aan die boek wat deur God aan Esegiël gegee word en die opdrag wat hy ontvang om dit, net soos Johannes hier, te eet. Esegiël 2:8-9 En jy, mensekind, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie opstandig wees soos die rebelse huis nie. Maak jou mond wyd oop en eet wat Ek vir jou gee. Ek sien toe, kyk, daar is ‘n hand uitgestrek na my – met ‘n boekrol! In Openbaring en Esegiël is die boek wat geëet word so soet soos heuning. Die boek se betekenis is in albei gevalle dieselfde, naamlik die oproep om te gaan profeteer. God se boodskap moet deur elke gelowige uitgedra word. Elke gelowige is dus ʼn geroepene. So baie vandag verstaan profesie totaal verkeerd, asof dit ʼn nuwe boodskap of openbaring is wat God aan sy kinders gee. Om ʼn profeet te wees was om God se Woorde aan Sy volk, spesifiek in die Ou Testament, en vandag aan die wêreld rondom ons te gaan proklameer. 1Korintiërs 14:3 Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos. God se Woord wat uitgaan is so soet soos heuning. Dit is ʼn wonderlike boodskap van God se bemoeienis met ʼn mens wat nie ʼn greintjie daarvan verdien nie. Dit is die boodskap van Sy Seun wat die bitter beker gedrink het, sodat ons die soete lafenis van God se genade kan ervaar. Daarom word die boodskap in die Grieks die “evangelie” genoem wat die “blye boodskap” beteken. Tog word hierdie boodskap meestal nie as iets soets ervaar nie. Paulus skrywe aan die Korintiër gemeente dat, vir diegene wat verlore gaan, die gelowiges en dit wat ons verkondig, eerder ʼn slegte reuk sal wees in kontras met die wonderlike geur wat ons sal wees vir diegene wat gered sal word. 2Korintiërs 2:14-16 Maar dank aan God, wat ons altyd deur Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. Want ons is ‘n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde ‘n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde ‘n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Miskien was dit ook die simboliek agter Johannes die Doper se dieet van sprinkane en heuning. As jy die boodskap aanvaar sal dit soos heuning wees en indien nie, soos die plae van Egipte, wat dan ook is wat plaasvind in Openbaring.
Elke gelowige wat hierdie boodskap uitdra in die wêreld sal, net soos die gelowiges onder die altaar, kan getuig van lyding en vervolging a.g.v. hierdie heerlike boodskap. Die opdrag aan Johannes is duidelik dat hy dit moet gaan verkondig aan “baie volke, nasies, tale en konings”. Elke gelowige moet onthou dat ons hierdie opdrag ontvang het net soos die apostels van ouds. Matteus 28:19-20 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. Kan iemand verklaar dat hy/sy ʼn gelowige is sonder om ook ʼn profeet te wees wat uitgaan om familie, vriende en die wêreld op te roep om die goeie nuus te aanvaar? Paulus verklaar dat ons nie God se Woord hoef te gaan soek of te gaan haal by God nie, aangesien God dit na ons gebring het. Romeine 10:8-10 Nee, wat sê dit? Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. Vir elke gelowige is die metafoor duidelik dat jy vervolg sal word vir hierdie boodskap wat op jou lippe sal wees, want volgens vers 10“nadat ek dit geëet het, was dit bitter in my maag” Hierdie vervolging is aan elke gelowige verkondig en niemand was onder die illusie dat om God te volg maanskyn en rose sou wees nie. Handelinge 14:22 Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: Ons moet deur baie ontberings heen in die koninkryk van God ingaan. Die lyding wat sal kom met die verkondiging van die profesie is duidelik.
Verseël
Die donderslae en wat dit gesê het moenie neerskryf word nie. God se stem word op verskeie plekke beskrywe as ʼn gedonder.
- Psalms 29:3 Die stem van die Here is oor die waters, die God van heerlikheid laat dit dreun, die Here is bo die magtige waters,
- Openbaring 19:6 En ek het iets gehoor soos die klank van ‘n groot skare, en soos die klank van baie waters, en soos die klank van swaar donderslae wat uitroep: Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige, het sy koningskap opgeneem.
Al is hierdie die openbaring van God aan die Kerk aangaande die eindtyd moet elke gelowige bewus wees dat ons nie alles sal weet nie. Net so is daar ook aan Daniël ʼn boodskap dat die boek verseël moet word tot die einde. Daniël 12:4 En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder. Hierdie gedeelte kom dan ook voor in die gedeelte van Daniël waar ʼn man in linne sy hande ophef en sweer, net soos hier in Openbaring. Daniël 12:7 Ek hoor toe die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was, sê, terwyl hy sy regter- en sy linkerhand ophef na die hemele en sweer by die Ewig Lewende: Dit is vir ‘n vasgestelde tyd, tye en ‘n halwe tyd. Sodra die verbryseling van die mag van die heilige volk tot ‘n einde kom, sal al hierdie dinge ophou. Dit is dus duidelik dat Christus wil hê dat ons hierdie twee gedeeltes met mekaar moet vergelyk. Daar is sekere dinge wat slegs aan God bekend is.
- Deuteronomium 29:29 Wat verborge is, is die Here, ons God, se saak; wat geopenbaar is, is altyd vir ons en ons kinders van belang, sodat ons die woorde van hierdie wet kan uitvoer.
- Spreuke 25:2 Dit is tot die eer van God om ‘n saak te verberg; en dit is tot die eer van konings om ‘n saak te deurvors.
Die belangrike vraag is nou: “ Wat maak ons met dit wat God wel aan ons geopenbaar het?” Daniel se vasgestelde tyd, tye en ʼn halwe tyd word deur Openbaring herhaal as 42 maande en 3 ½ jaar. Hierdie tydperk word vergelyk met ʼn tyd waarin Migael, die groot vors van die mense van Israel, sal opstaan en dit sal ʼn tyd wees waarin die mense van die volk van Daniel gered sal word. Daniël 12:1En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal ‘n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert ‘n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die boekrol opgeskryf is. Ons sal sien hoe hierdie boodskap dan ook spesifiek oorgedra gaan word aan die mense van Jerusalem vir twee honderd en sestig dae, ʼn tydperk wat soortgelyk is aan ʼn tyd, tye en halwe tyd. Openbaring 11:8 Dan sal hulle lyke langs die hoofstraat van die groot stad lê, daardie stad wat, figuurlik gesproke, Sodom en Egipte genoem word, en waar ook hulle Here gekruisig is.
Slot
Elkeen wat tot dusver Openbaring gevolg het, behoort nou al baie ooreenkomste te sien tussen beelde wat ons alreeds in Openbaring gevind het. Daar is ook ʼn verskil tussen hierdie twee gedeeltes aangaande die tyd. In Daniël word daar nie spesifiek gesê wanneer alles tot ʼn einde sal kom nie, maar net dat dit na die verbryseling van die Heilige volk sal wees. In Openbaring 10 word spesifiek aangekondig dat tyd tot ʼn einde sal kom met die blaas van die sewende trompet. God se tydsverloop van alle dinge sal nou tot ʼn einde gebring word en alles wat Hy aan sy volgelinge verkondig het sal vervul wees. Niks sal meer geheim gehou word nie. God se doel op aarde is bereik. Elke Jota en Tittel is vervul en God se Woord het sy einddoel bereik. Laat God se Woord soet wees in jou mond en dra dit uit soos die geroepe profeet wat jy is, wetende dat elke woord ja en amen is. 2Korinthiërs 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja; daarom sê ons deur Hom amen aan God, tot sy eer.
