Op ‘n dag het die Amalekiete gekom om teen die Israeliete te veg. Moses het vir Josua geroep en gesê:
“Josua, kies ’n paar manne en gaan veg teen die Amalekiete. Ek sal op die heuwel gaan staan met die kierie van God in my hand.”
Josua het geluister en die manne gereed gemaak om te veg. Terwyl Josua en sy manne geveg het, het Moses, Aäron en Hur na die top van die heuwel gegaan.
Toe Moses sy hande omhoog hou, het die Israeliete begin wen! Maar as Moses sy hande laat sak, het die Amalekiete begin wen.
Moses se arms het later moeg geword. Aäron en Hur het dit gesien en hulle het ’n klip gevat en vir hom gegee om op te sit. Toe het hulle aan weerskante van hom gaan staan en hom gehelp. Hulle het sy arms omhoog gehou tot die son ondergegaan het.
Josua en sy manne het uiteindelik die Amalekiete oorwin!
Moses het toe ’n altaar gebou en dit genoem:
“Die Here is my sterkte.”
Hy het gesê:
“Die Here sal altyd teen die Amalekiete veg.”
