Openbaring 9: 13-21 Die sesde trompet

Inleiding

Die eerste ramp is verby, maar die sesde trompet kondig die tweede ramp aan. Die wraak van God word oor die aarde uitgegiet deur die mens uit te lewer aan die mag van dit wat hulle nog al die tyd aanbid het, nl. die bose. Die demoniese magte word op die mensdom los gelaat met toestemming om te doen dit wat hulle nog altyd wou doen – om mense te pynig en te verwoes.

Die horings van die altaar

Die sesde engel se trompet blaas en ons hoor ʼn stem wat kom uit die vier horings van die goue altaar. Die altaar en die horings was die plek waar die hoëpriester versoening moes doen vir die volk. Eksodus 30:10 Aäron moet een keer per jaar op die horings daarvan versoening doen. Met die bloed van die reinigingsoffer vir die versoening moet hy een keer per jaar daarop versoening doen. Dit geld ook vir julle nageslagte. Die altaar is besonder heilig vir die Here. Hierdie was dan ook die plek wat deur die Israeliete beskou is as ʼn plek waar genade en versoening verkry kan word. So lees ons dat Adonia en Joab onderskeidelik vlug na die tempel en vashou aan die horings uit vrees dat Salomo hulle dood sou maak.

  • 1 Konings 1:50 Adonia het Salomo gevrees; hy het opgespring, gegaan en die horings van die altaar vasgegryp.
  • 1 Konings 2:28 Die berig het Joab bereik, want Joab het hom by Adonia geskaar, alhoewel hy hom nie by Absalom geskaar het nie. Joab vlug toe na die tent van die Here en gryp die horings van die altaar vas.

Wat sou God aan die leser wil openbaar as Hy vertel dat die stem wat uit die vier horings van die goue altaar kom opdrag gee dat die engele wat gebind is losgemaak moet word? Die boodskap is duidelik – die genadetyd is verby en God se oordeel het aangebreek. Dit is dan ook die plek van waar die siele gepleit het dat God wraak sal uitoefen op die aardbewoners met die oopmaak van die vyfde seël.

Die mag van die Bose

Die opdrag gaan uit dat die vier engele losgemaak moet word. Hierdie engele, net soos die uit die onderaardse dieptes, was deur God vasgehou en word vrygelaat vir hierdie spesifieke tyd. Die feit dat hulle vasgebind is beteken dat hulle, net soos die ander engele in die onderaardse diepte, engele is wat teen God gesondig het. Hulle is vasgehou by die Eufraat rivier en sou ʼn weermag bring vanaf die Eufraat. In die Ou Testament bring God weermagte van anderkant die Eufraat om Israel te straf vir hulle volgehoue sonde. As ons Jeremia se profesie aangaande ʼn weermag wat van die Noorde sou kom en Egipte sou binneval lees, sien ons die metafore wat in hierdie gedeelte gebruik word.

  • Jeremia 46:4 Span die perde in, en ruiters, klim op! Neem plek in met die helms, vryf die steekspiese blink, trek die harnasse aan!
  • Jeremia 46:22-23 Sy klink soos ‘n slang  wat wegseil, want met ‘n leërmag ruk hulle op; met byle kom hulle na haar soos dié wat hout  bymekaarmaak. Hulle kap haar bos af, al is dit ondeurdringbaar, is die uitspraak van die Here; want hulle is meer as sprinkane, ontelbaar is hulle.

Die getal vier wys, net soos die vier hoeke van die aarde en die vier winde, dat dit die hele aarde is waarteen hulle oorlog sal voer. Die Skrif verklaar dat hierdie vier engele gereed gehou is vir die spesifieke oomblik en doel, nl. om mense wat op die aarde is dood te maak. Hulle sal mense doodmaak in teenstelling met die engele of demone uit die onderaardse dieptes wat slegs die mens kon pynig. Hulle het opdrag om ʼn derde van die mensdom dood te maak. Dit moet vir elke gelowige wonderlik wees om te besef dat God heerskappy het oor alle magte en kragte in die Hemel en op die aarde. Dit was een van die openbarings van God aan Daniël, dat daar engele was wat in beheer was van elke nasie wat sou opstaan. Daniël 10:20 Hy sê toe, Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet weldra terugkeer om te veg teen die vors van Persië. En wanneer ek daar uitkom, kyk, dan kom die vors van Jawan(Griekeland). God weet van elke mag wat sal opstaan en wanneer hulle tyd uitgedien is, word hulle deur God van die toneel verwyder. Daarom word ons deur God opgeroep om die owerhede te gehoorsaam wetende dat alle gesag van Hom af kom. Romeine 13:1-2 Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring. Die gelowige kan rustig wees dat elke heerser deur God aangestel is en slegs kan heers omdat God dit so bepaal. Selfs al word gelowiges gemartel en selfs doodgemaak is God in beheer en sal Hy hulle oordeel. Die magte wat saam met die engele sal kom om die aardbewoners dood te maak sal 200 miljoen man sterk wees. Hierdie getal word twee keer genoem in die Ou Testament en beide gevalle vir die engele aan God se kant.

  • Psalms 68:18 Die strydwamag van God is tienduisende, duisende der duisende. My Heer het van Sinai af by die heiligdom aangekom.
  • Daniël 7:10 ‘n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende  was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die boekrolle is oopgemaak.

Al lyk die mag aan die Satan se kant groot, weet ons dat sy mag slegs ʼn derde so groot soos God s’n is. God se leer is groter en magtiger as die van die bose en tog moet ons verstaan dat hierdie bose mag nie deur die mens teengestaan sal kan word nie. Die ironie is verder dat God die bose engele teen die bose mense gebruik. Die gelowige het deur hulle gebede en deur hulle lewens die wraak aan God oorgelaat en nou word sy wraak losgelaat. Romeine 12:19 Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld, sê die Here.

Ons sien dat hierdie leërmag soortgelyk uitgebeeld word as die demone van die vyfde trompet. God wil duidelik aan die leser wys dat albei groepe demone is wat uitgestuur word. Hulle sterte wat pynig is soortgelyk aan die demone wat vrygelaat word in die vyfde trompet. Weereens word die metafoor van die sprinkaan verbind met die plae van Egipte en dat hulle dood maak herinner ons aan die plaag van hael wat mense sou doodslaan. Eksodus 9:19 Stuur dan nou mense, en bring jou vee en alles in die veld wat aan jou behoort, na veiligheid. Elke mens en dier wat hom in die veld bevind en nie na veiligheid gebring is nie – op hulle sal die hael val en hulle sal sterf. God kondig in Deuteronomium aan dat die persoon wat nie na sy opdragte luister nie onder sy wraak sal val en die wraak word net soos hier beskryf met rook en swawel.

  • Deuteronomium 29:20 Die Here sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die Here en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die Here sal sy naam onder die hemel uitdelg.
  • Deuteronomium 29:23 Dit is net swael en sout; die hele gebied is verskroei. Daar word nie geplant nie en niks groei daar nie; geen groenigheid kom eers op nie. Dit is soos met die verwoesting van Sodom en Gomorra, soos met Adma en Sebojim wat die Here in sy toorn en woede verwoes het.

Net so word Sy toorn ook beskryf deur die Psalmdigter. Psalms 18:8-9 Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder. Dit het geskud want sy toorn het ontbrand: Rook het uit sy neus opgestyg, ‘n verterende vuur uit sy mond; gloeiende kole het daaruit  opgevlam. Die perde het nie net mag in hul sterte gehad nie, maar ook in hul bekke, en sal dus nie net mense doodmaak nie maar hulle ook mislei.

Verhard

Sou hierdie vreesaanjaende gebeure mense se lewens verander? Die antwoord is ʼn onomwonde, nee. Hulle sal des nie teen staande al hierdie gebeure nog steeds hulle eie afgode aanbid. Hulle sal voortgaan om hulle bose dade te pleeg. Ons kan maklik wonder hoe dit moontlik kan wees? Hoe kan mense al hierdie tekens ervaar en onder hewige pyniging deurgaan en nog steeds hulle harte verhard. Tog sien ons dit elke dag. Mense aanbid die bose, of dit nou in die vorm van mag, plesier, seks, dwelms of geld is. Hierdie goddelose leefwyse verwoes talle mense, maar steeds word dit aan die wêreld voorgehou as vryheid en ware geluk! Hulle harte is verhard teen God. Is dit nie presies wat met die farao gebeur het nie? Hy en die meerderheid van die Egiptenare het, ondanks die plae, nog steeds hul harte verhard en geweier om die volk te laat trek. Paulus verwys na hierdie verharding om aan die gemeente van Rome te wys dat alhoewel die farao sy hart verhard het God dit ook verhard het, om Sy grootheid ten toon te stel.

Slot

Soek jou toevlug na God terwyl jy nog die kans het. As gelowiges wat alreeds deur God gered is kan ons weereens in dankbaarheid besef dat geen persoon uit sy eie sy lewe kan red nie, maar slegs gered word omdat God Hom oor jou ontferm. Romeine 9:16-18Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. Die Skrif sê immers vir die farao: Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag  kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Hy ontferm Hom dus oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil. Sommige mense soek wonderwerke, maar niemand het meer wonderwerke gesien as die Egiptenare nie! Sommige sê mense sal hulself tot God wend in siekte of nood. Tog het hierdie dinge slegs enkele Egiptenare tot God laat bekeer. Dit is duidelik vanuit die Skrif dat niemand uit hom/haarself hul tot God sal bekeer nie. Wedergeboorte is ʼn werk wat van bo af kom soos Jesus aan Nikodemus verkondig. Johannes 3:3 Jesus het hom geantwoord: Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  In die uur van Openbaring 9 wys die hardheid van die mense en hulle onbekeerlike harte, soos wat ook in die begin met die horings en die altaar aangetoon is, dat die genadetyd verby is. Daarom moet ons nou soveel te meer mekaar aanspoor en bid en die evangelie verkondig. Hebreërs 3:12-13 Broers, waak daarteen dat nie een van julle ooit ‘n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie. Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van vandag sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.