Openbaring 9:1-13. Die vyfde trompet

Inleiding

Ons het reeds in die vorige blog gesien hoe die plae van die Ou Testament ooreenstem met die trompette wat blaas en die toorn van God wat oor die aarde uitgestort word. Die metafoor word voortgesit met die blaas van die vyfde trompet. Hier vind ons egter demoniese magte wat deur God gebruik word om die aardbewoners te teister.

Die ster

Ons moet begin om die ster te identifiseer wat uit die Hemel geval het en aan wie die sleutel van die afgrond gegee is. Die ster wat uit die hemel val is soortgelyk aan die val van Satan en ʼn derde van die engele saam met hom, waar hulle uit die hemel gegooi word in Openbaring 12. Openbaring 12:4 Sy stert het ‘n derde van die hemel se sterre saamgesleep en dit op die aarde neergegooi. Die draak het toe voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om, sodra sy geboorte skenk, haar kind te verslind. Ons kan ook kyk na Jesaja waarin Babel se hoogmoed ook met die van die Satan vergelyk word. Jesaja 14:12-13 Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het! Jy is die een wat in jou hart  gesê het: Na die hemel wil ek opgaan; hoog bo die sterre van God wil ek my troon oprig. Ek wil gaan sit op die berg van samekoms, in die afgeleë noorde. In hierdie gedeelte is dit duidelik dat die sterre wat saam met die Satan uit die Hemel gegooi word die engele is wat saam met die Satan teen God in opstand gekom het. Wat verder ook ʼn goeie aanduiding is dat hier van ʼn engel gepraat word, is dat in vers 11 die koning van hierdie vrygelatenes uit die onderaardse diepte ʼn engel is.

Hades

Die onderaardse diepte(ἄβυσσον, abusson) is volgens die evangelie die plek waar demone in bewaring gehou word. Die verhaal wat ons vertel van die onderaardse diepte is die verhaal van Legio in Lukas. Jesus ontmoet Legio wat deur demone ingeneem is en die hoeveelheid demone in hom is ʼn legio, wat enige iets van 3000 tot 6000 was. Ons sien ook dat as Jesus die demone uitjaag hulle volgens Markus in twee duisend varke ingevaar het. Markus 5:13 Hy het hulle toegelaat. En die onrein geeste het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop van ongeveer tweeduisend het toe op loop gesit teen die helling af, die see in, en in die see versuip. Wanneer Jesus hulle wil uitdryf pleit hulle by Hom dat hy hulle nie na die onderaardse dieptes (ἄβυσσον, abusson) sal stuur nie. Lukas 8:31 Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onpeilbare diepte te laat weggaan nie. Ons weet dat daar baie engele na hierdie plek gestuur is as gevolg van hulle sonde met die aardbewoners in Genesis 6, waar die engele die dogters van die mense geneem het as vroue. Genesis 6:4 Die reuse was in daardie tyd en ook daarna op die aarde, solank as wat die hemelwesens by die dogters van die mense ingegaan en vir hulleself kinders verwek het. Daardie kinders was die helde uit die ou tyd, die beroemde manne. Judas en Petrus vertel van hierdie engele wat hulle plek verlaat het en hoe God hulle gestraf het.

  • 2 Petrus 2:4 Trouens, as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het, deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp, en hulle so tot met die oordeel gevange te hou;
  • Judas 1:6 en dat Hy die engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou, vir die oordeel van die groot dag.

Hier word hulle bewaar tot hulle soos die goddelose mense almal in die hel gewerp sal word. Hierdie plek van bewaring, wat Abus genoem word, is dieselfde plek as Hades of die doderyk in die Bybel. Openbaring 20:14 Toe is die dood en die Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. Ons sal later in Openbaring sien dat die dood en die doderyk finaal in die hel gegooi sal word. Met dit as agtergrond behoort ons hierdie gedeelte nou beter te kan vertolk. Die Satan, of een van sy engele, ontvang die sleutel om die onderaardse dieptes oop te maak en hulle wat daarin is te bevry. Die sleutels ontvang hy van Christus wat die sleutels besit. Openbaring 1:17-18 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. Ons weet dus onmiddellik dat dit wat gaan afspeel uit die hand van God kom en dat ook die demoniese magte onder sy beheer is. Elke gelowige kan elke dag van hulle lewe verseker weet dat God in beheer is en niks wat gebeur buite Sy plan plaasvind nie. Romeine 8 vertel ons dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie en dan word ons verseker dat dit selfs geld vir engele en magte. Romeine 8:38-39 Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

Donkerte en rook

As die onderaardse dieptes oopgesluit word sien ons rook wat die son en die lug verduister. Dit verwys dan ook na die negende plaag van donkerte in Egipte. Joël vertel ook van hierdie donkerte en die kolomme rook wat oor die aarde sal kom. Joël 2:30-31 Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word  in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. Die rook wat optrek laat ons ook dink aan die straf van Sodom en Gomorra. Genesis 19:28 Hy het afgekyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele gebied van die Jordaanstreek, en gesien daar styg rook op uit die land, soos die rook uit ‘n smeltoond.

Sprinkane

Die sprinkane is weer ʼn verwysing na die agste plaag in Egipte. Wat egter vreemd is, is dat hierdie sprinkane nie die plantegroei mag vernietig nie, maar gestuur word om spesifiek die mense wat nie die seël van God op hul voorkoppe het nie te pynig. Hulle word ook vergelyk met skerpioene en kan mense pynig met pyn soortgelyk aan die steek van ʼn skerpioen. Dit is interessant om na Jesus se woorde te gaan luister wanneer Hy met die twee en sewentig gestuurdes praat nadat hulle van hul missie teruggekom het. Lukas 10:18-20 Toe sê Hy vir hulle: Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. As ons die gedeelte lees kan ons nie anders as om Openbaring 9 te sien nie. God se belofte aan diegene wat die Woord uitdra is dat hulle bydra tot die oorwinning oor die Satan, soos Hy ook aankondig in Openbaring. Openbaring 12:11 Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie. Verder word aan hulle verkondig dat hulle gesag sal hê om op die skerpioen en slang te trap en oor die mag van die vyand. Indien enige iemand die idee het dat hier van ʼn gewone skerpioen en slang gepraat word, kan hulle dit gerus in hul dwaasheid aan ons demonstreer. Die oorlog is geestelik, nie fisies nie en hier word dit prakties uitgebeeld. Die ongelowiges sal egter deur hierdie sterte van angels gepynig word vir vyf maande lank. Die vyf maande tydperk is heel moontlik ʼn verwysing na die lewensiklus van ʼn sprinkaan, wat tipies in Israel sou wees van Mei tot September, en moet dus nie letterlik geneem word nie. Hierdie pyn sal so erg wees dat mense sal begeer om te sterf, maar die dood sal hulle bly ontwyk. Die aanval van die demone sal dus nie by magte wees om dood te maak nie, maar slegs om te pynig.

In die volgende verse word die demoniese magte, wat soos die sprinkaan plaag is, beskryf deur vergelykings aan dinge wat vir die leser bekend sal wees. Dit is duidelik dat die magte nie met ʼn enkele vergelyking beskryf kan word nie, omdat so iets nog nooit gesien is nie. Hulle word as perde beskryf wat gereed is vir oorlog. In die oordeel wat beskryf word in Joël, word die wat die land verwoes ook met sprinkane vergelyk en later met perde. Joël 2:4 Soos perde lyk hulle, soos oorlogsperde, so hardloop hulle. So word die strydwaens en perde ook ʼn beeld uit Jeremia wat die naderende oordeel beskryf. Jeremia 47:3 oor die stampgeluid van sy hingste se hoewe, oor die gedruis  van sy strydwaens, oor die gedreun van hulle wiele – ouers draai nie om  na kinders nie, omdat hulle hande slap hang. Die demoniese magte het tande soos die van ʼn leeu net soos in Joël. Want, ‘n nasie het opgetrek  teen my land, magtig en ontelbaar. Hulle tande is die tande van ‘n leeu, hulle het die kake van ‘n leeuwyfie. Joël 1:6. Die beeld van ʼn leeu roep ook onmiddellik by ons die beeld van die Satan op soos wat Petrus hom beskryf. 1 Petrus 5:8 Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ‘n brullende leeu, op soek na wie hy kan verslind. Ditis weereens ʼn bevestiging dat hierdie ʼn demoniese mag is. Die vroue hare wys na hul verleidelikheid, wat ʼn beeld is van die verleiding in die tuin van Eden waar die slang die vrou verlei om op haar beurt weer vir Adam te verlei.

Verwoester

Die demone of gevalle engele se leier se naam beteken in albei gevalle verwoester. Hy is dus die verwoester in die Ou Testament(Hebreeus) en die Nuwe Testament(Grieks). In die Ou Testament word die plek Sheol (Hades in Grieks) vergelyk met verwoesting. Spreuke 15:1 Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die Here, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!(Ou vertaling). In die 2020 vertaling word die Hebreeuse woord Abbadon(verwoester) vertaal met “onderwêreld” in al die tekste waar dit voorkom. Dus word selfs sy naam nie net aan die verwoester gekoppel nie, maar ook aan die plek waaruit hy die demone sal bevry. Hy het net een doel voor oë en dit is om mense te verwoes. Dit was nog altyd die Satan en sy magte se fokus. As ons na enige van die persone in die Skrif kyk wat deur demone in besit geneem is kan ons sien hoe die demone hulle liggame beskadig en selfs wil verwoes. Hiervan is die vader wat by Jesus kom pleit om sy besete seun te bevry, ʼn voorbeeld. Die vader beskryf aan Jesus wat die demoon aan sy seun doen. Markus 9:22 Baie keer het die gees hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.

Slot

Die boodskap van Openbaring 9 is dus ook vir ons, net soos vir die vroeë Kerk van toepassing. Die boodskap is eerstens dat Christus in beheer is van alles en in Sy hande is. Die sleutel is in Jesus se hande. Die demone word vrygelaat om te doen dit wat in hul aard is, nl. om te verwoes, maar selfs binne dit kan hulle net doen wat Christus hulle toelaat. Ons sien dit ook in Job, wanneer die duiwel toestemming kry om Job te teister, maar net sover as wat God dit toelaat. Verder weet die gelowige dat elkeen van ons gemerk is met die bloed van Jesus Christus en dat niks ons kan skei van die liefde wat daar in Christus is nie, soos Romeine 8 dit ook duidelik maak. Ons hoef dus nooit te vrees vir die bose en die magte van die duisternis nie. In Christus is ons vry gemaak en aan ons is daar gesag gegee sodat niks ons geestelik kan vernietig nie. Daarom is dit ook godslasterlik om ooit te verkondig of te dink dat ʼn demoon heerskappy oor ʼn gelowige kan hê. 1 Johannes 4:4 Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hoe vreesaanjaend sal die losmaak van die demone met die vyfde trompet nie vir die aardbewoners wees nie.