God gee manna vir die Israeliete

Die Israeliete het verder deur die woestyn getrek nadat hulle uit Egipte gevlug het. Die hele volk het honger geword, en hulle het teen Moses en Aäron begin kla. Hulle het gesê: “Hoekom het julle ons uit Egipte gebring? Daar het ons baie kos gehad, maar hier in die woestyn gaan ons van die honger sterf.”

Toe het God vir Moses gesê: “Ek sal brood uit die hemel laat reën. Die mense moet elke dag net soveel optel as wat hulle nodig het, sodat Ek kan sien of hulle My gehoorsaam.”

Die volgende oggend het daar ‘n laag dou op die grond gelê. Toe die dou verdwyn, was daar iets fyn en wit soos ryp. Die Israeliete het dit gesien en vir mekaar gesê: “Wat is dit?” want hulle het nie geweet wat dit was nie. Moses het vir hulle gesê: “Dit is die brood wat die Here aan julle gee om te eet.”

God het gesê dat elkeen soveel moet insamel as wat hy vir die dag nodig het. Party van die mense het meer opgetel as wat hulle nodig gehad het, maar die manna wat oorgebly het,  het sleg geword en wurms gekry. Op die sesde dag moes hulle meer insamel, sodat hulle genoeg kon hê vir die sewende dag, want dit was die rusdag, en daar sou geen manna op die grond wees nie.

Die Israeliete het manna geëet vir die hele tyd wat hulle in die woestyn was, tot hulle by die land van belofte aangekom het. God het hulle versorg, selfs al was hulle in ‘n droë en moeilike plek!