Openbaring 8: 6-13. Die trompette

Inleiding

Die trompette is die begin van God se wraak en elke trompet lei ʼn nuwe fase van wraak in. Dit is egter belangrik om nie elke trompet te probeer pas op ʼn moontlike aardse situasie nie, maar om te besef dat dit jou wil terugneem na die Ou Testament en die plae in Egipte, met die idee dat God sy heerskappy sal verklaar oor elke valse afgod wat mense aanbid het.

Die eerste vier trompette

Die eerste vier trompette wat gaan blaas kan elkeen vergelyk word met ʼn gedeelte in Eksodus rakende die plae wat Egipte getref het.

Die eerste trompet word uitgebeeld met hael, vuur en bloed. Openbaring 8:7 Die eerste een het op sy trompet geblaas, en daar was hael en vuur, gemeng met bloed, en dit is op die aarde uitgegooi. ‘n Derde van die aarde is verskroei, ‘n derde van die bome is verskroei, en al die groen gras is verbrand. Hierdie trompet is soortgelyk aan die sewende plaag. Eksodus 9:23 En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die Here het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die Here het hael op Egipteland laat reën.

Die tweede trompet vergelyk ook baie goed met die eerste plaag waar al die water in bloed verander. Openbaring 8:8-9 Die tweede engel het op sy trompet geblaas, en iets soos ‘n enorme berg, wat vlammend brand, is in die see gegooi. ‘n Derde van die see het bloed geword; ‘n derde van die lewende wesens in die see het doodgegaan, en ‘n derde van die skepe het vergaan. Die berg wat brand herinner aan Babilon wat in Jeremia 51 beskrywe word as ʼn berg wat brand en later in die hoofstuk soos volg beskrywe word: Só sal Babel sink en nie weer opkom nie, vanweë die onheil wat Ek oor haar bring. Hulle het hulle afgesloof. Tot daar was dit die woorde van Jeremia. Jeremia 51:64. Hierdie val van Babilon word ook weer hanteer in Openbaring 18. Hierdie stad is die beeld van die wêreldse smagting na geld, besittings en ander gode, daarom vind ons dat die wêreld huil wanneer Babilon verwoes word en die seevaarders wat op ʼn afstand staan en kyk hoe alles gebeur. Openbaring 18:17 Want binne ‘n oomblik is soveel rykdom uitgewis! Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat ‘n lewe maak uit die see, het op ‘n afstand gestaan.

Die derde trompet verwys ook na die eerste plaag met al die water wat ondrinkbaar word. Openbaring 8:10-11 Die derde engel het op sy trompet geblaas. ‘n Groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval op ‘n derde van die riviere en op die fonteine. Die ster se naam is Wildeals. En ‘n derde van die waterbronne het soos wildeals geword, en baie mense het van die water doodgegaan, omdat dit bitter geword het. Die bitterwater verwys ook na Mara waar die Israeliete nie die water kon drink nie en waar God dit drinkbaar gemaak het. In teenstelling met die woestyn word die water nie drinkbaar gemaak nie, maar bitter gemaak, soortgelyk aan die profesie van Jeremia. Jeremia 8:14 Waarom bly ons nog sit? Kom byeen! Laat ons in die versterkte stede  ingaan, en daar omkom. Ja, die Here ons God laat ons omkom. Hy gee ons giftige water om te drink, omdat ons gesondig het  teen die Here. Dit wat die water bitter maak is ʼn groot ster wat soos ʼn fakkel sal brand wat in die water gegooi word. Die beeld van die groot ster is ook heel moontlik ʼn verwysing na Babilon aangesien Jesaja Babilon vergelyk met ʼn morester wat uit die Hemel geval het. Jesaja 14:12 Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het!

Die vierde trompet korreleer met die negende plaag van duisternis wat oor die land gekom het vir drie dae en nagte. Openbaring 8:12 Die vierde engel het op sy trompet geblaas, en ‘n derde van die son, ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre is getref, sodat ‘n derde van hulle verduister is. Vir ‘n derde van die dag was daar nie lig nie; en net so was dit ook in die nag. Hier word die hemelruim geskud en is daar ʼn kosmiese ontwrigting van ʼn derde van die son en die sterre. Dit wat deur die eeue vas en stabiel was word omvergewerp. Hierdie straf is ook soortgelyk aan dit wat deur Esegiël voorspel word vir Egipte. Esegiël 32:7-8 Wanneer Ek jou uitdoof, sal Ek die hemelruim oordek; Ek sal sy sterre laat verdonker; die son sal Ek met wolke bedek en die maan sal nie sy lig  laat skyn nie. Al die ligbronne  aan die hemelruim sal Ek bo jou laat verdonker. Ek sal duisternis  oor jou land bring. Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.

Genadetyd

Die genadetyd vir die heidene is nou verby. Die plae in Egipte was nie gegee om die Farao te oortuig nie, maar eerder as ʼn verharding van die farao. Eksodus 4:21 Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, sien toe dat jy al die tekens waartoe Ek jou in staat stel, voor die farao doen. Maar Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Net so is die wraak wat nou uitgeoefen word nie daar om heidense ongelowiges te oortuig om God te dien nie. Hierdie bevestig weereens die uitverkiesing en dat niemand na God kan kom sonder dat Hy dit wil nie. Hulle harte sal hard bly. Die plae in Egipte het egter ook vir die Israeliete gewys hoe magtig en groot die God is wat hulle aanbid. God se grootheid word openbaar in die plae wat Hy stuur en daar word aangetoon dat Hy heerskappy voer oor alles in die hemel en op die aarde. Eksodus 10:1-2 Die Here het vir Moses gesê: Gaan na die farao, want dit is Ek wat sy hart en die harte van sy amptenare verhard het, sodat Ek hierdie tekens van My in hulle midde kon laat gebeur, en sodat jy ten aanhore van jou kinders en kleinkinders kan vertel hoe Ek die Egiptenare vir die gek gehou het, en van my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, en sodat julle kan weet dat Ek die Here is. Net so sal die wraak wat nou uitgeoefen word diegene van Israel wat met die oopmaak van die sewende seël gemerk is, louter en oortuig van die redding wat alleenlik deur Christus moontlik is.

Die plae was ʼn oordeel oor die mense van Egipte aangesien hulle God se volk onderdruk het en hul harte teenoor Hom verhard het. Net so word die aardbewoners ook in Openbaring gestraf weens hul marteling van die gelowiges en hul verharding in ongeloof. Dit is dan ook waarom die trompette voorafgegaan word met die meng van die gelowiges se gebede met wierook en die uitstorting daarvan op die aarde as antwoord op die pleidooi van die gelowiges onder die altaar. Openbaring 6:9-11 Toe Hy die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het met ‘n harde stem geroep: Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek? Daarop is aan elkeen van hulle ‘n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog ‘n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees. God gee hulle oor aan die begeertes van hulle harte en verhard hulle harte dat hulle doen wat hulle graag wil doen, sodat Hy wraak oor hulle kan uitstort. Ons sal ook hier in Openbaring ervaar dat al gaan God sy wraak oor die aardbewoners uitstort hulle ook soos die Egiptenare hulle nie gaan bekeer nie. Openbaring 9:20-21 Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie.

Trompetgeskal

Trompette word in die Ou Testament gebruik as ʼn oproep tot oorlog of tot bekering, komende oordeel, aankondiging van oorwinning of verlossing, die kroning van ʼn koning of die bymekaar roep van God se volk. Die interessante is dat elkeen van hierdie Ou Testamentiese toepassings ook geld vir die trompette in Openbaring. In die Nuwe Testament word die trompet gebruik vir die versameling van God se mense.

  • Matteus 24:30-31 Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens  sien kom  op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid. Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander.
  • 1Thessalonisense 4:16 Want die Here self sal met ‘n luide bevel, met die stem van ‘n aartsengel, en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

Die inval val Jerigo, simbolies van die bereik van die beloofde land, word voorafgegaan deur stilte en dan ʼn trompetgeskal deur sewe priesters. Josua 6:4 Sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek, terwyl die priesters op die horings blaas. Nou vind ons in Openbaring sewe engele wat op sewe trompette blaas. Hierdie engele is priesterlike figure as hulle elke keer, hier met die trompette en later met die wraak bakke, uit die tempel beweeg om die trompette en die wraak bakke op die aarde te gooi. Hoe mooi is die beeld nie wanneer ons die oorwinning van Jerigo verbind met dit wat ons vind in Openbaring nie!? Voordat Josua en die volk Jerigo inval word Ragab en haar familie gemerk met ʼn rooi tou wat uit haar huis gehang word, wat wys na die bloed van Jesus Christus wat ons sal bewaar van die wraak wat aan die kom is. Nadat die mure inmekaar gestort het en Jerigo oorwin is word Ragab en haar hele familie bevry. Hoe wonderlik was hulle beskerming nie, veral as jy daaraan dink dat haar huis in die muur was, aangesien sy die verkenners vanuit haar huis deur ʼn venster laat afgesak het. Josua 2:18 Kyk, wanneer ons in die land kom, moet jy hierdie karmosynrooi gevlegte tou vasmaak aan die venster waardeur jy ons laat sak het. Jou vader en moeder, jou broers en jou hele familie moet jy by jou in jou huis byeenbring. Die gelowiges is alreeds by God in die hemel, maar vir die kinders van Israel vir wie die genade tyd nou aangebreek het, het Hy eers gemerk voordat Hy sy wraak oor die aarde uitgestort het. Openbaring 7:3-4 Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie. Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel. Aan die einde van die wraak sal God, net soos met die uittog uit Egipte, die volk Israel wat Hy in hierdie tyd gelouter en gesuiwer het, uitneem na hulle ewige tuiste saam met al die gelowiges. Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur, is die uitspraak van die Here, twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God.

Slot

Na die eerste vier trompette is daar ʼn waarskuwing wat oor die wêreld uitgaan en deur ʼn engel aangekondig word. Hy roep drie keer wee uit wat ʼn aanduiding is dat dit wat gaan plaasvind verwoestend sal wees vir elke aardbewoner. Die plae sal net erger word met elke trompet. Baie mense val in die versoeking om hierdie trompette te koppel aan moontlike aardse katastrofes, soos bv. dat ʼn meteoriet op die aarde kan val en gifstowwe al die water ondrinkbaar maak en so meer. Die trompette het egter meer te make met die beelde wat dit oproep uit die Ou Testament as werklike gebeure wat sal plaasvind. Ons sien hoe God in die verlede met Sy volk gewerk en hulle gestraf het en die simboliek word al hoe ryker en mooier. Dit sluit egter nie die moontlikheid uit dat die aardbewoners met soortgelyke plae gestraf kan/sal word nie. Openbaring wil elke gelowige oproep om deur die Woord te lees en te sien dat God sy Woord gestand doen elke oortreder sy regmatige straf sal ontvang. Die Woord van God is voorwaar nie deur mense geskryf nie, maar is die openbaring van die lewende God.