Die Israeliete het uit Egipte getrek, waar hulle vir so lank slawe was, want God het hulle vrygemaak. Maar toe hulle by die Rooi See kom, was daar ’n groot probleem. Die Israeliete het omgekyk en gesien hoe die Egiptenare agter hulle aankom. Hulle het baie bang geword en tot die Here geroep. Hulle het ook vir Moses gesê: “Het jy ons hier na die woestyn gebring om te sterf? Ons kon tog in Egipte gebly het! Dit sou beter gewees het om daar slawe te wees as om hier in die woestyn dood te gaan.”
Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie. Staan vas, en kyk hoe die Here julle vandag red. Die Egiptenare wat julle nou sien, sal julle nooit weer sien nie. Die Here sal vir julle veg.”
Die Here het vir Moses gesê: “Lig jou staf op en steek jou hand oor die see sodat die water oopgaan, dat die Israeliete op droë grond deur die see kan trek.”
Moses het sy hand oor die see gehou, en die Here het die see met ‘n sterk oostewind laat oopgaan. Die water het soos mure aan die kante gestaan, en die Israeliete het op droë grond tussen die watermure deurgeloop.
Die Egiptenare het hulle agtervolg. Maar die Here het die Egiptenare deurmekaar gemaak. Hy het hulle waens se wiele laat vasval, en hulle het gesukkel om vorentoe te kom. Toe het God vir Moses gesê om sy hand weer oor die see te hou, en die water het teruggevloei en die hele Egiptiese leër toegemaak. Hulle het almal in die see verdrink.
Die Israeliete het gesien hoe God hulle gered het, en hulle het God vertrou en in Hom geglo. Hulle het besef dat die Here baie sterk is.
