Openbaring 8: 1-5

Inleiding

Die eerste vier seels was die vier perde. Die vyfde seël was die siele onder die altaar wat God oproep om sy wraak uit te stort oor die aarde. Die sesde seël wat oopgemaak word is soortgelyk aan Mattheus 24 met die koms van die Here op die wolke en die aardbewoners wat in die rotse en spelonke probeer wegkruip. Tussen die sesde en die sewende seël vind ons die Joodse gelowiges wat gemerk word aangesien hulle beskerm sal word gedurende God se wraak terwyl die res van die gelowiges almal verenig word in die Hemel. Die sewende seël word nou oopgemaak en daar is ʼn doodse stilte in die Hemel vir ʼn halfuur lank.

Stilte

ʼn Mens kry amper die gedagte van ʼn stilte voor die storm. Dit is interessant om Sagaria 2 te lees en te ervaar dat dit wat hier in die Hemel afspeel soortgelyk is aan hierdie gedeelte. Sagaria 2:11-13 Baie nasies sal hulle op daardie dag aan die Here verbind. Hulle sal my volk word, en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat dit die Here, Heerser oor alle magte, is wat my na jou gestuur het. Die Here sal Juda op die heilige grond as sy erfdeel in besit neem en Jerusalem weer verkies. Wees stil voor die Here alle mense, want Hy tree te voorskyn uit sy heilige woonplek. Alle volke word deel van sy volk en sal saam met Hom woon, sy volk Juda en Jerusalem word weer verkies en almal word opgeroep tot stilte. Verder word daar van stilte gepraat voordat God se wraak losbreek oor die mense.

  • Jesaja 47:5 Sit in swye, gaan die duisternis binne, dogter van die Galdeërs! Want jy sal nie langer genoem word heerseres van koninkryke nie.
  • Amos 8:2-3 Hy het gevra: Wat sien jy, Amos? Ek het geantwoord: ‘n Mandjie met somervrugte. Daarop sê die Here vir my: Die einde het vir my volk Israel aangebreek. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie. Die sangeresse van die paleis sal weeklaag op daardie dag, is die uitspraak van my Heer, die Here. Tallose lyke, oral neergegooi! Stilte!
  • Sefanja 1:7 Wees stil voor my Heer, die Here, want die dag van die Here is naby. Ja, die Here het ‘n offer voorberei; Hy het sy genooides geheilig.

Die meeste mense sukkel om stil te word. Dit is egter in die stilte wat ons die Here se krag en mag leer ken. Dit is in die stilte wat ons in afwagting wag om God se plan in aksie te sien.

Trompette

Sewe engele wat voor God staan ontvang elk ʼn trompet. Die sewe is ʼn volmaakte getal wat deur die hele Openbaring gebruik word en druk die volledige uit. Hierdie sewe trompette sal God se wraak aankondig en elkeen van hierdie trompette herinner die leser aan die plae wat Egipte getref het. Die rede waarom dit sewe en nie tien is nie, is a.g.v. die simboliek van sewe as volmaak en volledig. Die leser word ook opgeroep om te onthou dat vanaf die vierde plaag, die volk Israel in Gosen nie getref is nie. Eksodus 8:22 Maar op daardie dag sal Ek ‘n uitsondering maak van die Gosenstreek, waar my volk ‘n staanplek het. Daar sal nie steekvlieë wees nie, sodat jy kan weet dat Ek, die Here, hier in die land is. Dus het die laaste sewe plae net die Egiptenare getref. Die trompette was verder ook in die Ou Testament gebruik om oorlog aan te kondig. God se oorlog teen die aardbewoners het aangebreek.

ʼn Lieflike geur

Nog ʼn engel bring dan ʼn bak wierook wat met die gebede van die heiliges gemeng gaan word. Ons gebede sal ʼn lieflike reuk voor God wees. As jy Openbaring tot dusver gevolg het weet jy dat die heiliges se siele gesien kan word met die breek van die vyfde seël. Hulle roep tot God om wraak uit te woed op die aardbewoners. Hulle word dan aangesê om te wag tot al die gelowiges voltallig is en dus saam met hulle in die hemel is. Hul gebede gaan nou met die blaas van die trompet beantwoord word en dus kan ons weet dat die gelowiges in die hemel nou voltallig is. Dit het ons dan ook gesien in hoofstuk 7 met al die volke en tale en nasies wat voor God se troon is. Hoe wonderlik is hierdie gedagte dat ons gebede, met wierook gemeng, voor God opstyg. Die Psalmdigter stel dit so mooi as hy sê: Mag my gebed standhoudend voor U wees soos reukwerk, die ophef van my hande soos die aandoffer. Psalms 141:2.

God vra van sy kinders om tot Hom te bid. Wanneer Sagaria die boodskap ontvang dat hy ʼn seun sou hê, vind ons die Israeliete buite die tempel besig om te bid. Dit was tydens die wierrookoffer. Lukas 1:10 En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. Al voel dit baie keer asof ons gebede nie beantwoord word nie en daar miskien ook ʼn stilte is waarin ons moet wag, sal God se antwoord kom. In Lukas 18 word hierdie gebed van die gelowiges geïllustreer. Dit word baie keer verkeerd geïnterpreteer om te beteken dat die gelowige sal kry dit wat hy/sy wil hê indien jy net aanhou vra. Dit is egter nie waaroor hierdie gedeelte gaan nie. Die gelykenis roep mense op om geduldig te bid en nie moedeloos te word dat God se geregtigheid sal geskied nie. In die gelykenis vind ons ʼn weduwee wat pleit by die regter om aan haar reg te doen teenoor haar teenstander. Die belofte in hierdie gedeelte is dat God aan sy uitverkorenes reg sal doen. Lukas 18:7-8 Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind? Dink jy dat die getroue gemeentes in Openbaring hierdie verlange gehad het? Miskien is die grootste probleem by so baie mense wat bely dat hulle gelowiges is dat hulle nog nooit enige teenstand ervaar het in hulle wandeling as gelowiges nie. Die Psalms is vol van gebede vir die vernietiging van God se vyande. Ongelukkig het baie Christene nie vyande as gevolg van hul geloof nie, maar eerder as gevolg van hul eie ek. Watter aanklag is dit nie! Gelowiges deur alle eeue kon getuig van lyding, hetsy fisies of emosioneel. Lyding was nog altyd deel van die kerk se getuienis en is gesien as ʼn seën, omdat hulle waardig geag is om soos hul Verlosser te ly. Hierdie gebede wat opstyg voor God wys dat God hul gebede alreeds aangeneem het en hier slegs aangedui word dat die antwoord op hierdie gebed nou sal geskied. Ons word ook in Daniel 9 en 10 gewys dat Daniel se gebede alreeds verhoor is toe dit opgegaan het en ʼn boodskapper onmiddellik gestuur is.

  • Daniël 9:23 Aan die begin van jou smeekgebed het daar ‘n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar, want jy is baie geliefd. Verstaan die woord en kry insig in die openbaring.
  • Daniël 10:12 Hy sê toe vir my, ‘Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde.

Die meng met die wierook vertel ons ook dat dit ʼn lieflike geur is voor God. Jesus se offer ter wille van ons word ook beskryf as ʼn lieflike geur. Efesiërs 5:1-2 Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders, en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as ‘n offergawe aan God, as ‘n offerande met ‘n aangename geur. So word die gelowiges ook opgeroep om lewens te lei wat ʼn offer is aan God. Romeine 12:1 Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Dit is dan ook wat hierdie gelowiges, wie se gebede nou voor God opstyg, gedoen het tydens hul aardse lewens.

God se almag

Die engel neem dan vuur van die altaar en plaas dit in die wierookbak waarin die gebede van die gelowiges was en gooi dit uit op die aarde as bewys dat die wraak op die aarde uitgestort word as antwoord op hulle gebede. In Esegiël word daar ook ʼn bevel gegee aan ʼn engel om die vuur wat onder die gerubs was op die stad Jerusalem uit te stort as God se wraak a.g.v. hulle ongehoorsaamheid. Esegiël 10:2 Toe praat die Here met die man geklee in linne. Hy het gesê: “Gaan tussen die wiele in, onder die gerubs, en maak jou twee hande daar tussen die gerubs vol gloeiende kole vuur, en strooi dit oor die stad uit. Hy het voor my oë daar ingegaan. Dan is daar donderslae dreunings, weerligstrale en aardbewings. Hierdie frase word deur Openbaring herhaal:

  • Openbaring 4:5a Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom.
  • Openbaring 11:19 Toe is God se tempel in die hemel geopen, en die verbondsark in sy tempel het sigbaar geword. Daar was ook weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm.
  • Openbaring 16:18 En weerligstrale, ‘n gerammel en donderslae het gevolg, en ook ‘n vernietigende aardbewing, soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing.

God het op dieselfde wyse verskyn op Sinaiberg in Eksodus. Eksodus 19:16 Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderslae en weerlig en ‘n swaar wolk oor die berg, en ook die baie harde geluid van ‘n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. Ook hier is ʼn ramshoring geblaas wat dieselfde woord in die Grieks vir trompet is. Sy wette is aan die volk gegee en nou kom God wraak uitoefen op ʼn wêreld wat Sy wette verontagsaam het en Hom en sy kinders haat.

Slot

Die sewende seël is oopgemaak. Die genadetyd vir die heidinne is verby en het terug gekeer na die Jode. Al die gelowiges bevind hulle nou in die hemel voor God se troon in afwagting en in stilte voor God se wraak losbars oor die ongemerkte aardbewoners. Die eerste trompet gaan volgende blaas en die almag van God sal soos in die dae van die plae van Egipte sigbaar word vir almal. Elke gebed van elke gelowige wat gebid het: “Laat U koninkryk kom” het reeds voor God opgegaan en elke onreg teen elke gelowige, wat eintlik teen God self was, sal nou gewreek word. In hierdie wêreld sal ons vervolg word, maar ons tuiste is nie hier nie.