Die tiende plaag

God het nou al nege plae gestuur om vir Farao te wys dat Hy regtig kragtig is. Maar Farao het elke keer sy hart verhard en geweier om die Israeliete te laat gaan. Nou het God vir Moses vertel van die laaste, tiende plaag. Dit sou die ergste een wees.

God het vir Moses gesê: “Ek gaan die oudste seun in elke huis in Egipte laat sterf, maar Ek het ’n plan om my kinders veilig te hou.”

God het gesê dat elke gesin ’n lam moes slag. Hulle moes die lam eet as deel van ’n spesiale ete. Hulle  moes die bloed van die lam aan die kosyn van hul huis se deur smeer. God het belowe: “As Ek die bloed op die deur sien, sal Ek daardie huis oorslaan, en niemand sal doodgemaak word nie.”

Daardie nag het die engel van die dood deur Egipte gegaan. In elke huis wat nie beskerm is deur die bloed van ‘n lammetjie nie, het die oudste seun gesterf. In die huise waar bloed van ‘n lammetjie aan die deure gesmeer is, het die doodsengel verbygegaan en niemand het gesterf nie.

Toe Farao sien dat sy eie seun dood is, was hy baie hartseer en bang. Hy het vir Moses geroep en gesê: “Gaan! Neem al jou mense en verlaat  Egipte dadelik!”