Openbaring 7: 9-17. Die groot menigte

Inleiding

Ons beweeg nou weg van die aarde en sien ʼn menigte mense voor die troon van God.

Hierdie groep wat nou beskryf word verskil van die eerste groep van 144000 mense wat bestaan het uit die stamme van Israel. Hierdie groep is ontelbaar en kom uit elke stam en volk en taal en nasie. Alles vind plaas soos God al aan Abraham belowe het. Genesis 18:17-18 Die Here het gesê: “Sal Ek vir Abraham geheim hou wat Ek gaan doen, terwyl Abraham beslis ‘n groot en magtige nasie gaan word, en al die nasies van die aarde deur hom geseënd sal wees”.  Die groep van 144 000 ontvang ʼn merk om hulle tydens die tydperk van wraak wat God op die aarde sal uitstort te beskerm. Ons sal nog later in Openbaring hierby stilstaan.

Uit elke volk en taal en nasie

In Openbaring 6 vind ons die siele van Christene wat deur die geskiedenis van die kerk gesterf het. Hulle gebed is dat Christus moet kom en wraak neem op hul vervolgers, waarby hulle die opdrag ontvang om te wag tot hulle volle getal Christene gearriveer het. Openbaring 6:11 Daarop is aan elkeen van hulle ‘n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog ‘n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees. Met die koms van Christus met die oopmaak van die sesde seël, ontvang hierdie siele, saam met die Christene wat nog op die aarde is, verheerlikte liggame en “staan hulle op” as deel van die menigte voor die troon. Wat baie interessant is, en ons sal dit sien deur die hele Openbaring, is dat mense wat gered is en in die Hemel nuwe verheerlikte liggame ontvang, nog steeds geïdentifiseer kan word in terme van nasies.

  • Openbaring 21:24 En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring.
  • Openbaring 21:27 En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam.
  • Openbaring 22:2 In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Hiervolgens is dit duidelik dat diegene wat gered sal word van reg oor die wêreld sal kom. Die evangelie het uitgegaan na alle nasies en volke en tale in ooreenstemming met Christus se opdrag as sy volgelinge. Matteus 28:19 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Gelowiges kan nie mense wees wat mense van ander volke en nasies haat of nie van hulle “hou” nie. Gelowiges is verwonderd in God se skepping en hoe Hy deur die geskiedenis verskillende nasies geskep het deur een man en vrou.

Verlos deur die Lam

Die wit stolas waarmee hierdie menigte geklee is, is nog ʼn leidraad om hulle te koppel aan die groep onder die altaar wat God oproep om sy wraak uit te stort. As ʼn ouderling aan Johannes vra wie hierdie groep is, identifiseer hy hulle as diegene wat uit die groot verdrukking kom. Dit is belangrik om te onthou dat elke gelowige wat al gesterf het en diegene wat nog leef deur baie verdrukkinge die koninkryk ingaan. 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Ja daar sal ʼn tydperk wees wanneer die finale Antichris sal opstaan en hy sal baie gelowiges vermoor en martel, maar geen gelowige sal vry wees van vervolging in die tyd waarin hy/sy lewe nie. Hierdie groep wat uit die groot verdrukking kom sal palmtakke in hulle hande dra. Die palmtakke is heel moontlik ʼn terug wysing na die hutte fees wat die Israeliete elke jaar moes vier. Levitikus 23:40 Op die eerste dag moet julle vrugte van lowerryke bome neem saam met palmtakke, die takke van welig groeiende bome en rivierwilgers, en voor die Here julle God sewe dae lank vrolik wees. Dit sou hulle laat terug dink aan hul uittog uit Egipte en hoe God vir hulle gesorg het. Hier in Openbaring vind ons die vervulling van die huttefees as die gelowiges hul verlossing en ewige beskerming deur God besing. Elke gelowige is van slawerny bevry en het metafories Egipte, die land van sonde slawerny,  onder God se reddende regterhand verlaat. Met ʼn harde stem sal hulle bely: “Die verlossing is van God en van die Lam.” Die enigste manier tot verlossing is slegs in God deur Jesus Christus die Lam. As Petrus voor die leiers van die volk en die familiehoofde staan bely hy dat daar geen ander naam is waardeur ʼn mens gered kan word nie. Handelinge 4:12 Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. Onmiddellik nadat hierdie belydenis in die Hemel gemaak word, val al die wesens voor God in aanbidding. Alles in die Hemel is net so oorweldigend dat aanbidding spontaan voortvloei uit elkeen wat daar teenwoordig is. Ons sien dit ook later as Johannes gestop moet word wanneer hy in aanbidding voor ʼn engel wil val. Die grootheid en die almag van God sal net so oorweldigend wees. Niemand anders kan eer en lofprysing ontvang nie. Al die fokus is op God, om Hom te loof en te dank en te eer vir Sy heerlikheid en wysheid en krag en sterkte! Ons klein verstandjies sal die wysheid van God begryp en alles wat in ons lewens plaasgevind het sal spreek van Sy wysheid en Sy almag. Ons sal verstaan dat alles op aarde en in die hemel onder sy beheer was en hoe Sy krag en sterkte alles beheer het, van die kleinste atoom tot die grootste ster en ons sal Hom aanbid!

Bruilofsklere

Met die oopmaak van die sesde seël verskyn Christus op die wolke en gaan die gelowiges Hom in die wolke tegemoet. Die wraak van God gaan nou op die aardbewoners uitgestort word. Die gelowiges is nou voltallig by Hom. Hulle klere is wit omdat dit gewas is in die bloed van die Lam. Sou ons ooit op ons eie ons kleed wit kon kry? Is daar iets in ons wat ons klere wit sou maak? Luister wat Jesaja bely aangaande ons geregtighede. Jesaja 64:6 Ons almal het geword soos iets wat onrein is, soos ‘n besoedelde kledingstuk is al ons geregtighede. Ons almal het verwelk soos blare, en soos die wind het ons sondeskuld ons weggedra. In Romeine word daar bely dat daar nie een regverdige, verstandige of iemand is wat na God soek nie. Romeine 3:10-12 soos daar geskryf staan: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Alles wat in ons lewe plaasgevind het en die rede dat ons ons voor die troon bevind is alleen te danke aan Hom. Die Psalmdigter stel dit so mooi. Psalms 115:1 Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, oor u troue liefde, oor u bestendigheid. Ons kleed is gewas in Sy bloed. Ons staan spierwit voor die troon, sonder enige vlek of rimpel. Geen klag kan teen ons ingebring word nie, want daar is geen letsel op ons nie. Romeine 8:33 Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! Daarom is ons waardig om voor sy troon te staan en Hom in Sy tempel te dien. Dit is vir my so ʼn mooi gedagte – die verwysing na die tempel waar ons Hom sal dien. In die Nuwe Testament word na ons liggame verwys as die tempel van God en die plek waar, deur die inwoning van die Heilige Gees, die Vader en die Seun by ons kom woning maak. Johannes 14:23 Jesus antwoord hom: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Dit is asof God hier vir Sy kinders sê: “Ek het by julle gewoon, kom woon nou by my.” Watter voorreg! Hierdie is ook ʼn aanhaling van Esegiël. Esegiël 37:27 My woning sal by hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir my ‘n volk wees. Hier sal ons Hom dien as priesters net soos wat die Bybel elke gelowige belowe. Openbaring 20:6 Gelukkig en heilig is die een wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hulle het die tweede dood nie mag nie. Hulle sal priesters van God en van Christus wees, en saam met Hom ‘n duisend jaar lank regeer. As priesters sal ons in Sy teenwoordigheid wandel en aan Hom lofoffers bring met ons monde en ons lewens. Vir ewig sal hierdie lofprysing aanhou.

Hy maak alles nuut

In God se woning sal al die negatiewe wat die gelowiges op aarde ervaar het omgekeer word in volmaakte vreugde. In die begin van Openbaring het Christus ʼn boodskap aan die gemeentes wat getrou aan Hom was, die gemeentes wat swaar gekry het en alles verloor het omdat hulle Hom gevolg het. Dit is ook die gelowiges wat in Openbaring nie die merk van die dier op hulle hande en voorkoppe aanvaar het nie en as gevolg daarvan nie kon koop en verkoop nie. Openbaring 13:16-17 Hy het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie. Die boodskap is dat eendag by God hulle nooit weer honger en dors sal wees nie. Niks sal hulle skade kan doen nie. Openbaring 7:16 is ʼn aanhaling van Jesaja 49. Jesaja 49:10 Hulle sal nie honger of dors word nie, die dor woestynwind en son sal hulle nie tref nie. Ja, hulle ontfermer sal hulle lei, langs waterbronne sal Hy hulle begelei. Die gedagte van God as herder kom ook uit Jesaja 49:9 en is ʼn eggo van Psalm 23. Psalms 23:1-2 ʼn Psalm. Van Dawid. Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy is verder die goeie herder wat sy lewe afgelê het vir sy skape en daarom is Hy ook die Lam. Johannes 10:11 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die Lam wat ons gered het en wat deur sy bloed volkome versoening vir al ons sondes gedoen het sal nou ook die Herder wees wat Sy skape sal versorg en vertroos. Die metafoor van die herder bring onmiddellik Psalm 23 voor elke gelowige. Die goeie herder wat sy skape lei en beskerm. Hy bring ons by fonteine van lewende water. Die bruid word in Openbaring genooi om verniet van hierdie water te kom drink. Openbaring 22:17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat elkeen wat luister, sê: Kom! En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet! Dit is soos die vrou by die put, waarvan dieselfde Johannes ons vertel in die evangelie van Johannes, vir wie Jesus water aanbied wat sal maak dat sy nooit weer sal dors wees nie. Johannes 4:13-14 Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.

Slot

Die lewe vir die gelowige op aarde sal gevul wees met vervolging en alhoewel ons nou alreeds die vreugde en vrede in Christus ervaar, weet elkeen van ons dat die lewe vol verdriet is. Ons hunker na die volmaakte en is maar te bewus van die vloek wat op die aarde rus, ook die vloek van sonde wat nog aan ons elkeen kleef. Met die Gees se uitstorting het die fontein van lewende water in elke gelowige se lewe sigbaar geword. Ons het ontdek dat Hy die enigste een is wat ons dors kan les en ons van die sonde kan bevry. Hier in die Hemel vind ons dat ons aanhoudend uit hierdie bron sal kan drink en ten volle vreugde en geluk sal ervaar in Hom, die bron van die lewende water. Hier sal geen traan meer vloei nie. Openbaring 21:4 Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan. Hier sal geen hartseer of sonde meer van sprake wees nie.

Halleluja!