God stuur Plae!

God het vir Moses gestuur om vir Farao, die koning van Egipte, ‘n belangrike boodskap te gee. God wou hê dat  Farao die Israeliete, sy volk, moes vrylaat. Maar Farao het nie na Moses of na God geluister nie. Hy het gesê: “Nee!”

Omdat Farao so hardkoppig was, het God begin om plae oor Egipte te stuur. Eers het Moses sy stok oor die groot Nylrivier gehou, en die water het in bloed verander! Nou kon niemand water drink nie, en die visse het doodgegaan. Maar Farao het steeds geweier om die Israeliete te laat gaan.

Toe het paddas orals verskyn. Daar was paddas in die huise, op die beddens, in die kos! Dit was paddas orals waar jy kyk. Farao het gesê: “As die paddas weg is, sal ek julle laat gaan.” Maar toe die paddas verdwyn, het Farao weer gesê: “Nee!”

God het toe klein, lastige muskiete gestuur. Hulle het oor die hele Egipte gekom en die mense baie gepla. Maar selfs met al die muskiete, het Farao steeds gesê: “Nee!”

Daarna het God vlieë gestuur. Vlieë het in die huise ingevlieg, oor die kos gesit, en oral gezoem. Maar waar die Israeliete gewoon het, was daar geen vlieë nie. Tog het Farao sy kop geskud en gesê: “Nee!”

Toe het die Egiptenare se diere siek geword. Hulle het dood neergeval, maar nie een van die Israeliete se diere het siek geword nie. Tog het Farao sy kop geskud en gesê: “Nee!”

Nadat die diere siek geword het, het God nare sere oor die Egiptenare en hulle diere laat verskyn. Die sere het baie seer gemaak, maar die Farao het net sy kop geskud en gesê: “Nee!”

Toe het God ‘n groot haelstorm gestuur. Groot stukke ys het uit die hemel geval en alles wat buite was, stukkend geslaan. Maar die plek waar die Israeliete gebly het, was veilig. Farao het nog steeds gesê: “Nee!”

Daarna het God sprinkane gestuur. Die sprinkane het al die plante in Egipte opgeëet. Daar was niks oor nie. Maar Farao het weer gesê: Nee!

Toe het God vir drie dae lank donkerte oor Egipte gestuur. Dit was so donker dat niemand iets kon sien of iewers heen kon gaan nie. Maar by die Israeliete was daar lig. Al hierdie dinge het gebeur. Maar Farao het weer gesê: Nee!

God het al hierdie plae gestuur omdat Farao hardkoppig was en nie na Hom wou luister nie.